
Ná ’n geurige eerste seisoen is Op pad met my potjie terug vir nog heerlike avonture vanaf Vrydag 28 November 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) – en dié keer verken Joalette de Villiers ander dele van Namibië. Sy reis verder en dieper die land in om nog meer unieke gemeenskappe, plekke en potjies te ontdek.
Van wildreservate tot kusdorpe, van plaaslewe tot dorpsmarkte – met dié ekspedisie het Joalette opnuut op Namibië se mense, kos en kultuur verlief geraak.
“My nommereenrede om terug te keer bly altyd die mense en my land,” sê Joalette. “Daar’s soveel wonderlike afgeleë plekke en mense wat my laat tuis voel sodra ek daar aankom. Die unieke potjies wat gemaak word, is die kersie op die koek.”
In die tweede seisoen besoek Joalette dertien uiteenlopende dorpe en gemeenskappe wat die volgende insluit:
- by N/a’an ku sê ontmoet sy Marlice en Rudie van Vuuren van die kykNET-progam Groen: Namibië en laat prut ’n beesvleispotjie;
- in Rehoboth leer sy meer oor die Basters se geskiedenis en maak ’n lamskenkelpotjie;
- in Otjiwarongo berei sy en Christian ’n eksotiese krokodilvleispotjie voor;
- in Hentiesbaai probeer sy visvang en maak daarna ’n steenbraspotjie,
- en by Noordoewer sluit sy haar avontuur af met ’n pampoenpotjie.
Vir Joalette was dié seisoen nie net ’n kulinêre reis nie, maar ook ’n persoonlike ontdekkingsreis.
“Ek het leer mozzarella-kaas maak, boerseep kook, leerwerk doen, visvang en selfs ’n krokodil gevoer! Hierdie seisoen was propvol nuwe, unieke kennis. Absoluut besonders,” vertel sy.
Elke episode bring nuwe gesigte, nuwe lesse en nuwe geure. Vir Joalette staan drie woorde sentraal: kennis, avontuur en passie.
“Ek hoop kykers sien die passie van die mense wat ek ontmoet het – hulle wys dat jy met min baie kan doen en dat ware geluk lê in wat jy liefhet,” sê sy.
Op pad met my potjie begin Vrydag 28 November om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

