Die Jan H Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar toegeken aan die historikus Fransjohan Pretorius van Pretoria. Die prysgeld van ’n halfmiljoen rand as erkenning vir sy lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans sal op 29 Mei 2019 by ’n funksie op Stellenbosch aan hom oorhandig word.
Hierdie besluit is vanmiddag bekend gemaak deur die voorsitter van die keurkomitee, prof Andreas van Wyk, oud-rektor van die Universiteit Stellenbosch.
Prof Pretorius, een van Suid-Afrika se bekendste historici, is in 1949 in Johannesburg gebore. Hy is ’n oud-Tukkie wat nagraads verder aan die Rijksuniversiteit Leiden in Nederland studeer en sy doktorsgraad in 1989 aan UNISA behaal het. Hy het sy loopbaan as akademikus begin aan sy alma mater, waarheen hy in 2014 teruggekeer het na twaalf jaar in die departement Geskiedenis van UNISA. Aan die einde van Junie 2014 het hy met amptelike pensioen by die Universiteit van Pretoria uitgetree.
Fransjohan Pretorius het oor die afgelope 45 jaar honderde publikasies geskryf, van wetenskaplike artikels tot bydraes in koerante. Hy tree ook gereeld in radioprogramme op. Sy werk oor kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog word internasionaal erken as een van die belangrikste ondersoeke na daardie pynlike tydperk van ons land se geskiedenis. “Verskroeide Aarde”, die ryk geïllustreerde boek wat daarop gebaseer is en ook in Engels verskyn het, het breë aandag getrek. Hy word wêreldwyd as ’n deskundige oor daardie laaste fase van Britse imperiale uitbreiding erken.
Vir sy werk is prof Pretorius deur die Nasionale Navorsingstigting as ’n B1-navorser gegradeer, dws as ’n navorser wat internasionale erkenning geniet en beskou word as ’n vooraanstaande internasionale kenner van die gebied. In 1998 het hy die Stalsprys vir Historiese Wetenskappe van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en in 2001 ’n prestigeprys van die FAK.
“Fanjan” Pretorius is getroud met Laurette, afgetrede professor in Rekenaarwetenskap aan UNISA se skool vir Nagraadse Studie. Die egpaar het ’n dogter en twee seuns.
Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.
Die prys vir ’n lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff Andreas van Wyk (Stellenbosch), Albert Grundlingh (Stellenbosch), Christof Heyns (Pretoria en Genève), Debra Meyer (Johannesburg), Piet Steyn (Stellenbosch) en dr Johan van Zyl (vroeër van SANLAM).
Kommentaar
Joe-hie! Baie geluk, Fanjan! Welverdiend.
Jinne, baie geluk Prof Pretorius, jy verdien dit 'n duisend maal oor en oor!
(Van 'n oud-, ongeërgde student wat sit en bolle rol het tydens jou klasse.)
SONDER ONS ERFENIS IS ONS NIKS - DIT HET EK OP 'N HARDE MANIER GELEER - VERAL OOK VAN U 🙂
Baie baie geluk, ek sou die prys vir niemand anders wou toeken nie.
Baie geluk, Fransjohan.
Jy het BAIE gedoen vir Boere geskiedenis in SA.
Daar is nog 1 boek oor en dit is oor die swak sosio-ekonomiese ontwikkeling wat in 2 Boere Republieke bestaan het, met uitbreek van ABO. Daar was meer kwaksalwers as bv dokters in ZAR. Skoolstelsel was baie swak.
Eintlik was die wit bevolking agterlik. Infrastruktuur was swak en paaie moeilik begaanbaar en wit Afrikaners se armoede vraagstuk het reeds bestaan. Al die wittes was ook nie boere met plase nie, baie was wit arbeid op plase.
Te dikwels word die 2 Boere Republieke oorromantiseer in tydperk tot ABO.
Baie geluk Fransjohan! Jy verdien hierdie erkenning deur en deur! Groete.
Aan Charles wat my gelukwens met die Jan H Maraisprys, maar erken hy het in my klas gesit en bolle rol voordat hy die waarde van erfenis besef het (gedeeltelik danksy my): Ja, Charles, 'n geskiedenisdosent en 'n narkotiseur het dieselfde werk - ons kry albei ons kliënte aan die slaap ... Baie dankie vir jou gelukwense.
Aan die ander kommentators: Baie dankie vir julle kommentaar, gelukkig darem nie common tar nie.
Geluk Fransjohan en beste wense vorentoe.
Baie geluk Fanjan! Ad Libitum-groete.