Persverklaring: inskrywings sluit vir NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021

  • 0

Die aanspraak van lewende wesens en 1795 was onderskeidelik vorige wenners van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd.

Die inskrywings vir NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd het pas gesluit en NB-Uitgewers kondig met trots aan dat ’n rekord aantal inskrywings ontvang is. Altesaam 95 inskrywings is ontvang, teenoor die 90 inskrywings van 2018.

Dié wedstryd is nie net die omvangrykste plaaslike romanwedstryd nie; dit bied ook die grootste beloning sowel as die geleentheid om by Suid-Afrika se grootste plaaslike uitgewery te publiseer.

Prysgeld van altesaam R350 000 is op die spel. Die wenner ontvang R200 000, terwyl die tweede en derde prys onderskeidelik R70 000 en R40 000 beloop. Daar is ook ’n debuutprys ter waarde van R40 000.

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd word volledig deur NB-Uitgewers geborg en vind elke drie jaar plaas. In 2012 was die wenner Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach, in 2015 is die kompetisie gewen deur Dan Sleigh, met sy roman 1795, en in 2018 was die wenner Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach.

“Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd se doel is om talentvolle nuwe aspirantskrywers aan te moedig om in Afrikaans te skryf, én om ervare skrywers aan te moedig om nuwe manuskripte te voltooi,” sê Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers. “Ons is opgewonde oor die groot aantal manuskripte wat ontvang is – en wat, só glo ons, ’n aanduiding is van die lewenskragtigheid van Afrikaans.”

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd het ’n trotse geskiedenis wat terugdateer tot 1990, en het ontwikkel uit die destydse Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd wat later die Sanlam-romanwedstryd geword het.

Wenners sal in Maart 2021 aangekondig word en publikasies kan in enige druknaam gepubliseer word van NB-Uitgewers se fiksiedrukname, naamlik Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie of Kwela.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top