- Hermanus FynArts-galery vanaf 17 Augustus
- Wellington Breytenbach-sentrum vanaf 13 September
Die fotograaf Paul Alberts wat in November 2010 oorlede is, word gehuldig in ’n unieke tentoonstelling van sy kunstenaarsportrette wat vanjaar by verskeie kunsfeeste gewys word, mees onlangs by die Suidoosterfees. Paul Alberts – In die skeppende oomblik is eersdaags by die FynArts-kunstefees in Hermanus te sien en reis daarna na Wellington vir die Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum.
Dit was die eerste keer in jare dat hierdie unieke foto’s in die openbaar gewys word.
Min fotograwe was so doelbewus toegewyd daaraan om die groot geeste van Suid-Afrikaanse kuns in hul skeppende oomblikke in die sewentiger- en tagtigerjare te dokumenteer as Alberts. Sy werk as toneelfotograaf en ook as sosiale dokumenteerder is wyd bewonder.
Die uitstalling wys weer sy unieke visie dié besondere huldigingsprojek wat deur sy weduwee Charmainé aangedryf word. Dit was vir die eerste keer in November verlede jaar in die Voortrekkermonument in Pretoria uitgestal.
Die portrette van kunstenaars, waaronder digters, akteurs, sangers, skilders en teatermense, gee ’n dinamiese oorsig van die kultuurbedryf in die jare toe Alberts as fotograaf in Kaapstad gevestig was. Hy het toe o.m. by Die Burger en die Kaapse teaters professioneel gewerk. Sy toneelfotografie van opvoerings het ’n nuwe rigting vir dié spesifieke dissipline ingeslaan.
Talle van die foto’s het in 1979 in sy boek In kamera verskyn, maar sy verhouding met kunsmakers het lank daarna voortbestaan - ook toe hy en sy gesin na die Vrystaat verhuis het.
Onder die portrette is mense soos Adam Small, Al Debbo, André P Brink, Antjie Krog, Antoinette Kellerman, Breyten Breytenbach, Cobus Rossouw, Coenie de Villiers, Jean Welz, Etienne Leroux, Frans Claerhout, Jeanne Goosen, Marlene van Niekerk, Mimi Coertse, Pieter-Dirk Uys, Sheila Cussons, WEG Louw, Wilma Stockenström en Athol Fugard.
Die kunsskrywer Melvyn Minnaar skryf dat Paul Alberts van meet af as vernuwende fotograaf vertroud, gemaklik en bevriend met kunstenaars was. “Skrywers was van sy beste vriende. Hy het skilders geken. Op professionele gebied het hy as teaterfotograaf ’n unieke rol uitgekerf: akteurs, dansers, sangers – op die verhoog, in die drama, en elders.”
Hy sê In die skeppende oomblik verwys enersyds na sy talent om presies die foto-moment van ‘openbaring’ vas te vang: die klassieke self-opdrag van die groot fotograaf. “Dit dui wel ook op sy persoonlike omgang met hierdie unieke klomp kunstenaars wat voor sy lens gekom het. Die skeppende talent van die portretmaker asook dié van sy onderwerp.”