Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi weereens belangstellendes na die GRATIS en gewilde taaldagbespreking op Saterdag, 16 Augustus 2025 - dit boonop in ’n jaar wat erkenning gee aan drie mylpale vir hierdie jong Afrikataal. Die interaktiewe, lewendige gesprek in die Paarlse middedorp word daarna afgerond met heerlike verversings en informele kuiergesprekke.
Volgens ATM-direkteur Michael Jonas is dit die ideale geleentheid om saam te besin oor Afrikaans se verlede, hede en toekoms – en ook oor die omstredenheid daar rondom. “In 2025 vier ons die ATM se 50ste bestaansjaar, 100 jaar se amptelike Afrikaans en die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) se stigting 150 jaar gelede,” sê hy. “Hierdie gesprek ondersoek hoe ons Afrikaans vandag beleef, met insette van uiteenlopende kenners.”
Die uitgelese paneel behels Annelise de Vries, Jolyn Phillips, Lindie Koorts, Mercy Kannemeyer en Inge Kühne as gespreksleier. Kühne is die ervare redakteur van Rapport met ’n passie vir sinvolle dialoog tussen Afrikaanssprekendes.
De Vries is ’n toegewyde taalkundige en taalbeplanner wat fokus op die bevordering van toegang tot geregtigheid deur taal; sy is ook hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Kannemeyer is ’n bekroonde skrywer, regisseur, filmmaker en akademikus; sy onderrig Afrikaanse drama aan die Universiteit van Johannesburg en is ondervoorsitter van PEN Afrikaans. Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van Pretoria en die skrywer van DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - ’n biografie van die man wat van Afrikaans ’n amptelike taal gemaak het. Phillips is ’n veelsydige en bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar, bekend as skrywer, digter, musikant en akademikus; haar werk word gekenmerk deur ’n diepgaande verkenning van identiteit, gemeenskap en die menslike ervaring.
Afrikaanse Taaldag word op 14 Augustus herdenk as die datum waarop die GRA in 1875 in die Paarl gestig is in wat nou die Taalmuseum is. Hoewel Afrikaans (van/behorende tot Afrika) eeue gelede oor groot dele van Suider-Afrika gevorm is, het belangrike gebeure ter wille van die taal se formele erkenning in die Paarl afgespeel, daarom dat die museum en monument daar opgerig is. Die ATM bring hulde aan die taal se diverse komvandane en dien as ’n sigbare baken van hoop vir die ontwikkeling en erkenning van álle Afrikatale.
Die geleentheid op 16 Augustus is in die Historiumgebou langs die museum te Pastorielaan 11. Dit duur vanaf 10:00 tot 12:30, gevolg deur verversings, maar die registrasie en verwelkomingsdrankies is al vanaf 09:00. Plekke is beperk, dus stuur asseblief name en kontakbesonderhede teen 15 Augustus om 15:00 aan Stefanie Rasztabiga via 021 872 3441 of kommunikasie@taalmuseum.co.za of WhatsApp 076 017 6026. Besonderhede by taalmuseum.co.za/wat-gebeur. Sien opnames oor vorige jare se fassinerende taalgesprekke by youtube.com/@taalmonument1
- Vir inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 863 0543, besoek co.za teken in op die nuusbrief of volg hulle op Facebook/Instagram en die WA-kanaal. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die monument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

