Persverklaring: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT)

  • 0

Maskew Miller Learning (MML) stel met trots die nuwe tuiste van Afrikaans se bekendste verklarende woordeboek bekend. By www.mmlhat.co.za het gebruikers via ’n nuwe, verbeterde webblad en soekenjin van Julie 2026 af weer toegang tot die gesaghebbende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT).

Afrikaans bly ontwikkel, soos elke lewende taal. Tegnologie en gebruikersbehoeftes verander en ontwikkel voortdurend. Daarom het MML in die daarstel van ’n nuwe HAT-ervaring belê. By www.mmlhat.co.za het ons hierdie nuwe portaal geskep sodat ons voortgaande groei en ontwikkeling van Afrikaans se bekendste woordeboek kan ondersteun. 

Kernhoogtepunte

Die bekendstelling van die nuwe webblad lui ’n opwindende nuwe hoofstuk vir die HAT in.

Hier is die HAT ’n lewende woordeboek.

By www.mmlhat.co.za werk Jana Luther, redakteur van die 6de uitgawe, nou weer intyds nuwe inskrywings by om te sorg dat die HAT met taalverandering tred hou en eietydse Afrikaans weerspieël. 

Hier kan die HAT volledig deursoek word.

By www.mmlhat.co.za kan gebruikers onder meer met wildekaarte soek, deur verwante woorde blaai, die HAT se woord van die dag sien, ook nuus en aankondigings, en weekliks ’n blokkiesraaisel invul.

By VivA

Die HAT kan steeds in die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se Woordeboekportaal geraadpleeg word. Let egter daarop dat die HAT by VivA minder gereeld (tans sesmaandeliks of jaarliks) bygewerk word en by VivA slegs deur VivA se meesterwoordelys toeganklik is. By VivA kan daar dus nie voltekssoektogte in die HAT gedoen word nie, en nuwe hooftrefwoorde (lemmas) wat by www.mmlhat.co.za bygevoeg word, is nie onmiddellik by VivA vindbaar nie.  

Toegang

Gebruikers wat by VivA op die HAT ingeteken is, of wat ingeteken is op VivA se+-woordeboekpakket, kan met dieselfde gebruikersnaam en wagwoord die HAT beide by VivA én by mmlhat.co.za gebruik.

Belangrike inligting vir bestaande gebruikers

Webadres: Gebruik voortaan hierdie adres: www.mmlhat.co.za   

Aanmeldbesonderhede: As jy reeds op die HAT ingeteken is, bly jou gebruikersnaam en wagwoord dieselfde. 

Bystand: Gebruik die bystandknoppie op die webblad as jy hulp nodig het.

Inhoud: By www.mmlhat.co.za is die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (6de uitgawe; redakteurs: J Luther, F Pheiffer en R Gouws) tans die enigste woordeboek wat volledig geraadpleeg kan word. Die HAT Taalgids (T McLachlan) sal in die loop van 2026 bygevoeg word.

Engels: Maskew Miller Learning het ongelukkig nie langer die reg om Engelse woordeboekmateriaal van die uitgewer Pearson te publiseer nie. Die Longmanwoordeboekversameling, wat voorheen naas die HAT geraadpleeg kon word, is dus nie meer beskikbaar nie.

Hier is die HAT Tuis

MML bly tot die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal as lewende aanlyn woordeboek verbind. Ons sal voortgaan om die gebruikerskoppelvlak van die nuwe webblad te verfyn en die algehele gebruikerservaring te verbeter sodat ons seker kan maak dat Afrikaans se bekendste woordeboek vir Afrikaans en almal wat Afrikaans gebruik, ’n waardevolle en betroubare hulpbron bly.

Ons bedank ons kliënte en intekenaars vir hulle geduld en voortgaande ondersteuning. Julie 2026 is vir MML in vele opsigte ’n oorgangstydperk. Wat die HAT betref, het ons vertroue dat die grondslag vir voortgaande ontwikkeling in die digitale era gelê is. 

Stuur e-pos na info@mml.co.za vir meer inligting.

  • Lokprent deur Izak de Vries
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top