Persverklaring: Gewilde aandwedloop op Paarlberg vir goeie doel op 13 Desember 2023

  • 0

Met die groeiende uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedreigende siektes, asook hul gesinne, te verbeter, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Drakenstein Palliatiewe Hospies. Boonop is talle kontantpryse op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust, Drakenstein Palliatiewe Hospies en Paarl Atletiekklub se pretgelaaide Aandwedloop op Woensdag 13 Desember 2023 op die beeldskone Paarlberg plaasvind.

Soos altyd kan deelnemers en ondersteuners staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelgrond en buitelugspeletjies wink. Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder. Omskep dit in ’n heerlike aand: bring ʼn piekniekmandjie (geen glas) of bestel een vooraf by die Suikerkan op 082 216 2510 (WhatsApp). Dié bistro sal ook verversings en pizza te koop aanbied. Bring ʼn kombers/kussings en onthou ook warm klere en ʼn flits.

Die 10km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:45 en volg ʼn opwindende, uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 19:00 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom! Deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ʼn nommer. In beide gevalle is stappers is ook welkom, dus daar is g’n verskoning om nie gesond, goed en vrygewig te voel nie.

Toegang is gratis vir ondersteuners en die draffooie is as volg:

  • Vir 10km: R120 vir geregistreerde en R180 vir ongeregistreerde hardlopers voor 23:59 op 10 Desember (R130 vir geregistreerde en R190 vir ongeregistreerde hardlopers op die dag self tussen 16:00 en 18:15)
  • Vir 5km: R70 voor 23:59 op 10 Desember (R80 op die dag self tussen 16:00 en 18:15)

Vorms vir voorafinskrywings is beskikbaar via info@topevents.co.za.

Vir navrae oor die 10km-Aandwedloop, kontak Lucky Mokwena op lmokwena@icloud.com of 084 826 5895.
Vir navrae oor die 5km-Woordloop, kontak Amila Ernstzen op 021 872 2022 of info@historium.co.za

Meeste palliatiewe sorg in Suid-Afrika word uitsluitlik deur privaat instellings aangebied, en Drakenstein Palliatiewe Hospies is in 1991 deur 'n klein groep vrywilligers gestig is om hierdie gemeenskapsdiens te verrig. Hulle versorg gemiddeld 230 pasiënte met lewensbedreigende siektes in hul huise per maand en bedien die hele Drakenstein-distrik van Saron tot Simondium, insluitend al die dorpe, landelike gebiede en informele nedersettings. Hul sorgspan verseker dat pasiënte en hul gesinne van die beste gehalte palliatiewe sorg voorsien word en met waardigheid sterf. Die doel is om lyding te voorkom en te verminder deur middel van vroeë identifikasie en deeglike assessering, en deur die pyn en ander probleme wat met die siektes verband hou op ’n fisieke, psigososiale en geestelike vlak aan te pak. Meer inligting by drakensteinhospice.org.za of 021 872 4060.

Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top