
Die SA Akademie se nuwe blog, Gesprekspunt, waar Akademielede en ander kundiges uitgenooi word om te besin oor aktuele aangeleenthede, is pas op hul webblad geloods.
Gesprekspunt het ten doel om ’n addisionele en eietydse digitale platform te benut om die Akademie se missie en algemene doelstellings om die wetenskap, tegnologie en die kunste, asook die gebruik en gehalte van Afrikaans te bevorder. Gesprekspunt stel die intellek en ervaring van Akademielede en kundiges aan die woord om bestaande perspektiewe oor aktuele aangeleenthede toe te lig en ook nuwe inligting en perspektiewe by te dra in meningstukke oor kwessies wat die samelewing raak.
Oktober was die maand vir psigiesegesondheidsbewusmaking in Suid-Afrika. In die eerste meningstuk, "Sielkundige welstand: ’n Blik op die voordele van verhoogde globale bewussyn van geestesgesondheid", het die voormalige voorsitter van die Akademie, Irma Eloff, die fokus laat val op geestesgesondheid na die Covid-19-pandemie.
In die jongste meningstuk, gepubliseer kort na die Minister van Finansies sy mediumtermyn-begrotingsrede gelewer het, gee Van Zyl de Villiers, ’n voormalige voorsitter van die Akademie, en Frik van Niekerk hulle perspektiewe op die oorsake van die elektrisiteitskrisis en moontlike oplossings daarvoor in hul artikel "Die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika: ’n Besinning oor die uitdagings en geleenthede van ’n komplekse situasie".

