Persverklaring: Finaliste van Tafelberg se jeugboekpryse 2026 word aangekondig

  • 0

Jonathan Ball Uitgewers het die name van die finaliste in die twee kategorieë van sy Tafelberg Jeugboekpryse vir 2026 bekendgemaak. Skrywers is genooi om manuskripte vir lesers 8 tot 12 jaar oud, en vir 13 jaar en ouer, voor te lê.

Die finaliste in die kategorie vir lesers 8 tot 12 jaar is:

Marion Erskine – Die Veldkrokodille en die soektog na Suid-Afrika se Silkie-superster,
Aniel Karsten – Die wonderlike wensblik,
en Brigette Langford – Bleeksiele kan brul.

In die kategorie vir tiener- of jongvolwassenemanuskripte vir lesers ouer as 13 jaar is die finaliste:

François Bloemhof – Dagboek van iemand in die moeilikheid,
Sandy Schoeman – Aliens het nie hare nie,
en Marita van der Vyver – Twee halwes maak ’n hele.

Die ses finaliste is uit altesaam 103 inskrywings aangewys. Die wenner in elke kategorie sal met ’n prysgeld van R50 000 wegstap.

Beoordeling het anoniem plaasgevind, dus kon gevestigde en debuutskrywers op gelyke vlak meeding.

Die beoordelaarspanele was vol lof vir vanjaar se inskrywings. Volgens hulle slaag die manuskripte vir ouer lesers daarin om die tydsgees in allerlei gedaantes te weerspieël en illustreer dit skrywers se aanvoeling vir die geleefde ervarings van hedendaagse tieners. Die beoordelaars van die manuskripte vir lesers van 8 tot 12 jaar was opgewonde oor die avontuur, aksie en humor daarin, sowel as temas soos randfigure, selftwyfel, afwesige ouers en sosio-ekonomiese kwessies wat uitstekend tot die ouderdomsgroep spreek.

Die wenners in elke kategorie word teen die einde van April 2026 aangekondig. Die wenboeke word deur Jonathan Ball Uitgewers se druknaam Tafelberg uitgegee.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top