
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het met die opening van sy kantoor in die Paarl einde verlede jaar besluit om ’n stewige kultuurspoor in die Wes-Kaap te vestig. Hierdie visie word nou verder uitgebou met die eerste FAK-Kultuurnaweek, wat van 19 tot 20 Junie op die prentjiemooi Montpellier Wynlandgoed net buite Tulbagh aangebied word.
’n Verskeidenheid bekende kunstenaars sal gehore vermaak met ’n unieke en vars benadering tot Afrikaanse kuns en kultuur.
Die FAK het verlede jaar ’n dinamiese samewerkingsooreenkoms met Montpellier gesluit, wat die organisasie se kulturele aanbod na ’n nuwe vlak neem. Die FAK se Bolandse fynproewersnaweek beloof om ’n hoogtepunt op die kultuurkalender te wees – ’n viering van woord, klank, kuns en samesyn.

Die fees skop af met ’n sprankelende openingskonsert in Montpellier se ikoniese wynkelder – ’n atmosfeer waar geskiedenis, wyn en musiek saamvloei. Besoekers kan uitsien na ’n verskeidenheid sorgvuldig saamgestelde produksies wat die beste van Afrikaanse kuns en vermaak bied, sonder oorweldigiing – elke ervaring is ontwerp om te verras en te inspireer.
Een van die groot trekpleisters is die gewilde eenmanstuk Reünie met Frank Opperman, wat met ’n kykNET Fiësta-prys bekroon is. Die teks, geskryf deur Dana Snyman, bied ’n eerlike en nostalgiese blik op menswees en herinneringe

Vir musiekliefhebbers is daar die liriese konsertprogram By alle skone dinge, waarin Franco Prinsloo se toonsettings die werk van ikoniese digters soos Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach en Antjie Krog tot nuwe lewe bring. Met vertolkings deur Chris Vale en klavierbegeleiding deur die komponis self, word elke lied ’n intieme reis van emosie en betekenis.
Die program sluit ook ’n voorafgesprek met die legendariese Philip de Vos in, asook nuwe, speelse toonsettings deur Prinsloo, met Klaus-Louis Jansen van Vuuren as sanger en De Vos wat verse voordra.
Verder bied die bekroonde tjellis Gerrit Koorsen ’n besonderse soloprogram aan, met Johann Sebastian Bach se ikoniese eerste tjellosuite as ankerpunt, aangevul deur die nuwe Tulbagh Suite. Op die program is ook Leon Gropp, wat saam met musikale medewerkers gedigte van N.P van Wyk Louw op vars wyse laat herleef.

Buiten vermaak kan besoeker uitsien na wyntoere op die plaas, ’n wyn-en-kwiltpassing, en ’n spitsvondige kunsuitstalling met antieke eetware deur John Robbertse, wat identiteit in hedendaagse Suid-Afrika ondersoek.
Die FAK-Kultuurnaweek word afgesluit met ’n intieme konsert in die wynkelder, waar Montpellier se bekroonde Spyseniersberg-wyn die ervaring afrond.
Die twee dae beloof nie net wêreldklasvermaak nie, maar ook die geleentheid om te kuier en die unieke sjarme van Tulbagh te beleef.
Hou die FAK en Montpellier se sosialemediablaaie dop vir meer besonderhede. Kaartjieverkope open in Mei.

