
16 tot 18 Junie by die Oos-Kerksaal, Van Zylstraat, Robertson
Ná ’n onderbreking van twee jaar, weens die inperkings, vind die Eseltjiesrus Boekfees weer plaas van Donderdag 16 Junie tot Saterdag 18 Junie. Dié bielie van ’n boekverkoping word vanjaar by die Oos-Kerksaal in Robertson gehou, vanaf 09h30 tot 16h00 op hierdie betrokke datums.
Vanjaar word ’n magdom boeke – meer as 14 000 – aangebied, waarvan sowat die helfte splinternuut is. Dit is al beskryf as “die grootste boekmark in die Wes-Kaap” met vragte vol winskopies. Skaars en buitengewone boeke, kinderboeke, kookboeke, reisverhale, geestelike boeke, fiksie en niefiksie – noem maar op, dis daar!
Dit totale opbrengs van hierdie geleentheid word aangewend om bejaarde en verwaarloosde donkies, wat uit haglike omstandighede gered is, te versorg. Eseltjiesrus bied vir hulle ’n permanente en veilige tuiste.
Donkies word gereeld gespot en geminag, maar ten spyte hiervan is hulle saggeaard en herken hulle swaarkry in mense. Hulle leer die mens gedurig dat nederigheid ’n teken van krag is, eerder as ’n swakheid.
Musieklegende David Kramer het kort na die ontstaan van Eseltjiesrus in 2008 ingestem om Beskermheer van hierdie besonderse donkie-oord te wees.
Kramer het onlangs die liedjie “Donkiehemel” geskep en opgeneem om bewustheid te skep van die lot van werkende donkies, asook die welsynswerk wat by Eseltjiesrus naby McGregor plaasvind.
Die liedjie is op wêrelddonkiedag, 8 Mei, bekendgestel.
Sien die video hier om solank op te warm vir die heerlike gees by die boekfees:
Kontak info@donkeysanctuary.co.za of skakel 023 625 1593 met enige navrae.
Onthou die donkies by Eseltjiesrus op McGregor verwelkom besoekers: Donderdae tot Sondae van 10vm tot 4nm.

