Persverklaring: Eseltjiesrus Boekefees 2026

  • 0

Penny, Randall Page, Beauty en Paris Ardendorf (Foto: Jackie Wernberg)

7–9 Mei by Ooskerk, Robertson

Dit is wêrelddonkiedag op 8 Mei!

Boekeliefhebbers kan uitsien daarna om weer na hartelus te kom snuffel by die groot jaarlikse Eseltjiesrus Boekefees. Daar is duisende vars tweedehandse boeke en talle splinternuwes om van te kies. Of jy nou na kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels of ’n rare en kosbare boek soek, daar is meer as genoeg om van te kies. Nuwe voorraad word daagliks tydens die fees-week uitgepak.

Die meerderheid van die boeke sal teen R30 elk verkoop word. Daar is boonop ook uitgesoekte koffietafel-boeke wat individueel gemerk gaan wees. ’n Keur van rare boeke gaan op ’n skriftelike veiling beskikbaar wees. Belangstellendes kan op ’n vorm bie en die boeke sal aan die hoogste bod toegeken word.

In 2001 het Johan en Annemarie van Zijl van die dorpie McGregor in die Wes-Kaap van Suid-Afrika gereageer op ’n versoek van die DBV om skuiling te bied vir twee erg verwaarloosde donkies. Die twee genote het opgedaag en is Vaal en Japie genoem – “vaaljapie” is ’n Afrikaanse term vir ’n goedkoop natuurlike witwyn. Dit het gou duidelik geword dat daar baie ander donkies was wat ook dringend voedsel, water, skuiling en sorg nodig gehad het. Die droom van ’n donkie-heiligdom is gebore. Eseltjiesrus is in 2007 geregistreer en die eerste donkie, Adam, het in dié donkie-paradys ingetrek.

Eseltjiesrus bied vandag ’n permanente tuiste vir bejaarde, verwaarloosde en mishandelde donkies net buite McGregor. Hier word hulle die geleentheid gegee om die res van hul lewens gemaklik saam met ander donkies deur te bring. Die donkies word elke dag individueel versorg en gevoed na gelang van hulle ouderdom en behoeftes. Elke boek wat verkoop word, help met die versorging en rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by Eseltjiesrus Donkey Sanctuary gehuisves word.

Daaglikse donkiesorg by Eseltjiesrus

Die donkies eet hul ontbyt om 08:00. Terwyl hulle eet, beweeg die versorgers tussen hulle om seker te maak dat hulle goed eet en geen beserings of gesondheidsprobleme het nie. Die personeel kry daarna hul versorgingsborsels gereed vir oggendsorg. Dit behels groet, borsel en die streel van elke donkie. Die donkies se hoewe word ook skoongemaak en vlieg-afweermiddels word aangewend. Dit is ’n liefdevolle daaglikse roetine. Die donkies beweeg dan na die ruim plaasgrond om te wei, terwyl die versorgers op hul verdere daaglikse take fokus. Die laaste maaltyd van die dag is 16:00, waarna die donkies individueel weer nagegaan word. Soms is daar besoeke van ’n veearts, hoefsmid of donkietandarts. Die donkies is altyd die span se top prioriteit.

Eseltjiesrus het ook ’n bron van inligting geword en hanteer daagliks navrae van oor die hele land oor goeie versorging vir donkies. Die meeste probleme ontstaan as gevolg van onkunde of die wangeloof dat donkies nie gereelde hantering en versorging nodig het nie. Hierdie hulp maak ’n beduidende verskil om die status van donkies in die algemene publiek se oë te verbeter. Elke individuele donkie wat gehelp word, is een minder wat ongemak hoef te verduur.

Die sukses van hierdie jaar se Boekefees in McGregor gaan dus weer ’n onontbeerlike rol speel in die komende jaar se werksaamhede by Eseltjiesrus.

Kyk ook uit vir die hoekie by die Boekefees waar jy een of meer van die donkies by Eseltjiesrus kan aanneem. Meer inligting by: https://www.donkeysanctuary.co.za/how-you-can-help

Bederf jouself en kom vul jou voorraad lekker leesstof aan vir die winter wat voorlê!

Jy kan ook boeke vir die Boekefees skenk of geskenkbewyse vir vriende en familielede koop. Daar is ook ’n opsie om ’n finansiële skenking te maak wat aangewend sal word vir boeke aan plaaslike skole en biblioteke. Vir meer inligting skakel 023 625 1801 of stuur ’n e-pos aan bookfair@donkeysanctuary.co.za / Webtuiste www.donkeysanctuary.co.za

Vir akkommodasie kontak McGregor Toerisme: 023 625 1954 / Robertson Toerisme 023 626 4437.

Sosiale media:
  • Facebook: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary
  • Instagram: @eseltjiesrusdonkeysanctuary
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top