Persverklaring en uitnodiging: The ephemeral nature of things – a provocation, ’n solo-uitstalling deur Laurette de Jager

  • 0

 

Klapmuts / Simondium, Suid-Afrika (September 2026)

Die Gallery at Glen Carlou in Klapmuts/Simondium is verheug om die opening van The ephemeral nature of things: a provocation, ’n solo-uitstalling deur Laurette de Jager, aan te kondig. Hierdie uitstalling vorm deel van die voortsetting van haar doktorale navorsing deur die Universiteit van Suid-Afrika en volg op haar vroeëre uitstalling The ephemeral nature of things: an evocation. Waar die eerste reeks werke gepoog het om atmosfeer en plek vas te vang deur grond as materiaal en metafoor, stel The provocation die praktyk voor as ’n doelbewuste daad van weerstand wat aannames oor waarde, agentskap en artistieke beheer bevraagteken.
 
Die uitstalling duur van 6 September tot 10 Oktober 2026. Dit word geopen deur Emma Willemse, ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar en akademikus bekend vir haar installasies en konseptuele projekte wat ontheemding, geheue en die politiek van plek ondersoek.

Laurette de Jager is ’n visuele kunstenaar, dosent en kurator wat haar tyd verdeel tussen die Tankwa Karoo, die Overstrand en die noordelike voorstede van Kaapstad. Sy het ’n MA in Visuele Kuns (Unisa) (cum laude), sowel as ’n Nasionale Diploma en Nasionale Hoër Diploma in Juweliersontwerp en -vervaardiging (CPUT). Sy werk tans aan haar PhD in Visuele Kuns deur Unisa. Sy het haar kuratoriese debuut gemaak met Apart / a part in November
2020 en het sedertdien verskeie uitstallings gekureer, insluitend Intertwined in November

Sy het wyd uitgestal en haar werk is plaaslik en internasionaal in private en korporatiewe versamelings. Sy beskryf die doel van haar werk as die vind van nuwe maniere om te bestaan in ’n sterwende wêreld.
 
The ephemeral nature of things: a provocation bestaan uit ’n versameling eksperimente in skilderkuns, intermedialiteit en konseptuele installasie. Hierdie werke bou voort op vroeëre pogings om klimaatsmart en solastalgie te verwerk, en herdefinieer die praktyk as provokasies wat konvensies van artistieke produksie ontwrig en op die agentskap van plek aandring. Terwyl die installasie spesifieke plekke aanhaal, verskuif die fokus na die dryfkrag van skep met die planeet eerder as oor die planeet. Materiaal en argivale dokumentasie word verweef deur dade van herinnering, terwyl dit gelyktydig die menslike drang om te beheer en uit te buit bevraagteken.
 
De Jager se praktyk word onderskryf deur nuwe materialistiese denke wat toegee dat materie agentskap en betekenis dra. As kunstenaar-navorser stel sy ontstellende vrae oor die monetisering van die planeet se opbrengs. Haar praktyk erken medepligtigheid in die ekologiese krisis en dring daarop aan om die teenstrydighede van uitbuitende sisteme te
konfronteer. Sentraal tot hierdie uitstalling is die vraag na waarde binne laatfase-kapitalisme.

Die helfte van die opbrengs van die formate wat begrawe is, word aan bewaringsgroepe geskenk wat die begrafnis- en opgrawingsproses gefasiliteer het. Op hierdie manier word erkenning gegee aan die ekologiese voetspoor van die uitstalling.
 
In dialoog met Lien Botha se tekstuele en visuele praktyk dien haar werk as weeklaag vir die die wêreld, terwyl dit ’n ekologiese praktyk van herinnering aanroep. Terselfdertyd verbeel dit ’n ekologiese estetika van herwêrelding. In opposisie met Katie Paterson se multidissiplinêre Future library project (2014–2114) en met Anna Lowenhaupt Tsing se spekulasie oor lewe in kapitalistiese ruïnes, poog De Jager se werk om kuns te maak wat nie die kunstenaar sal oorleef nie. Eerder as om as nalatenskap te bly voortbestaan, is die werke bedoel om na die aarde terug te keer.
 
De Jager se praktyk werk direk met die aarde. Die formate wat hier aangebied word, is vir uitgebreide periodes in die grond begrawe voordat dit opgegrawe is, met minimale ingryping hanteer is en slegs gestabiliseer is om uitgestal te kan word. Hulle toon weinig menslike ingryping en beliggaam eerder samewerking met die planeet. Op hierdie manier gee die werke stem aan Gaia met minimale inmenging, verskuif die skeppingsregister buite menslike beheer en laat natuurlike kragte die praktyk deurweek. Hierdie brose formate weerstaan meesterskap en beheer; dit herinner aan topografiese vorms en lees as byna heeltemal ontneem van menslike bedoeling buite die kuratoriese raamwerk.
 
Hierdie uitstalling bou voort op De Jager se verkenning van kompos as materiaal en metafoor. Begrafnis en opgrawing word dade van herdenking wat plekke gedenk wat die gevaar loop om te verdwyn. Die brose formate herinner ons aan die verganklikheid van lewende sisteme en konfronteer die teenstrydighede van praktyke wat uitbuit. Op hierdie manier brei The provocation haar vroeëre etos van ’n ekologiese estetika van sorg en ’n estetiese ekologie van
herinnering uit, terwyl dit beweeg na ’n ekologiese estetika van herwêrelding.
 
Die werke stel ook spekulatiewe vrae oor hul toekomstige trajekte. Oor dekades heen kan swamspore bymiddels metaboliseer en swambloeisels produseer wat ontbinding versnel.

Andersins kan bindmiddels die verganklikheid vertraag en sodoende die proses oor geslagte heen verleng. Die menslike ingryping mag ook die formate fossiliseer as ’n argief van verval.

Hierdie scenario’s posisioneer die werke as materiële metafore van voortganklikheid wat buite die tydraamwerk van die navorsing self strek. Die artefakte kan uiteindelik tot stof terugkeer en die verganklikheid van alle dinge uitlig.
 
Hierdie uitstalling is ook ’n roupraktyk. Dade van begrafnis, wag en opgrawing eggo rituele van herinnering. Die werke nooi kykers uit om stil te word, te reflekteer en medepligtigheid in ekologiese krisis te konfronteer. Hulle roep op tot ander verbeelding, erkenning van medepligtigheid en aandag aan meer-as-menslike wêrelde. Die uitstalling is ’n provokasie: ’n oproep tot herwêrelding, skeppend saam met Gaia en dring daarop aan dat ons konsepte van
waarde, agentskap en toekomstige verhale heroorweeg. Op hierdie manier word The provocation ’n ekologiese estetika van herwêrelding.
 
Uitstallingsbesonderhede:
Opening: 6 September 2026 om 11:00
Ligging: Glen Carlou-galery, Klapmuts, Wes-Kaap
Duur: Tot 10 Oktober 2026
Galery-ure: Dinsdae – Sondae: 10:00 – 17:00
Vir meer inligting, kontak asseblief:
Glen Carlou-galery
Telefoon: +27 21 875 5528
E-pos: gallery@glencarlou.co.za
Webwerf: https://glencarlou.com/art
 

Lees ook:

The ephemeral nature of things: ’n onderhoud oor ’n kunsuitstalling, die natuur en die kortstondigheid van die lewe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top