Persverklaring: Eerste Innibos Boekenaweek in September op Kaapsehoop gehou

  • 0

Liefhebbers van lees, boeke en woorde moet nie die eerste Innibos Boekenaweek van Vrydag, 1 September, tot Sondag, 3 September, op Kaapsehoop misloop nie.

“Innibos is opgewonde oor hierdie eerste boekenaweek op Kaapsehoop as deel van die jaarlikse feesaanbieding,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. “In pas met die jongste neiging landwyd om boekfeeste op kleiner dorpies te hou, sien ons uit daarna om ’n verskeidenheid skrywers, insluitend twee Hertzogpryswenners, te verwelkom. Die rustige atmosfeer van die klein dorp leen hom tot boekgesprekke, en dit is ook die ideale kans vir besoekers van elders vir ’n sielsvoedende naweekwegbreek.”

Die program skop af met die bekendstelling van Dana Snyman se jongste boek, Die binneland in, om 15:00 op Vrydag, 1 September. Die Bloemfonteinse skrywerfilosoof Johann Rossouw stel daarna sy splinternuwe boek, Sluitstuk, bekend waarna die fokus na Afrika-avonture verskuif met Tony Park se Vendetta, ook pas op die rakke. Die aand word afgesluit met ’n Filosofiekafee.

Die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te doen, kom in die eerste boekbespreking (Diensplig) op Saterdag, 2 September, om 9:00 onder die vergrootglas. Dan volg Kaapsehoopse skrywer Alita Steenkamp se Deur die vuur, Carina Stander kom gesels oor haar meesleurende Bergengel-trilogie en bring van haar kunswerke saam, en SJ Naudè, ontvanger van die Hertzogpryswenner vir prosa verlede jaar, stel sy boek Van vaders en vlugtelinge bekend.

Nóg ’n Hertzogpryswenner, digter Johan Myburg, en Tom Dreyer, wat pas sy buiging as debuutdigter gemaak het, gesels met mekaar oor onder meer hul onderskeie bundels Narreskip en Nou in infrarooi. Sondagoggend vertel Stefaans Coetzer meer oor sy boek Onbeskryflike genade waarom hy méér is as sy donker verlede wat moord en tronkstraf insluit.

Die Laeveldse groep digters van Words in my Mouth sal hul ook Saterdag slag wys met die voordrag van hul gedigte. Een van die hoogtepunte sal beslis ook wees wanneer Susan Booyens, joernalis en wenner van die meeste prysgeld nóg in Wie word ’n miljoenêr lesers se boekkennis en meer gaan troef in die letterkunde-vasvra.

Gert Vlok Nel is Saterdagaand op die verhoog met sy beautiful woorde.

Die volledige program is op innibos.co.za. Die boekgesprekke R50 per boekgesprek. Gert Vlok Nel se vertoning kos R150. Kaartjies is by Quicket (quicket.co.za) te koop.

Verblyf is beskikbaar by ’n verskeidenheid gastehuise en selfsorgplekke in Kaapsehoop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top