Persverklaring: Eben Cruywagen se laaste radiodramaverwerking bring Stinkhout met groot Afrikaanse sterre na RSG

  • 0

RSG bied met trots die tweedelige radiodrama Stinkhout aan – ’n aangrypende verhaal oor ’n pa en seun, uitdagende verhoudings, herinneringe en die stille getuienis van ’n enorme witstinkhoutboom.

Die drama – wenner  van die 2025 ATKV-Woordveertjie vir ’n dramateks – is  deur die geliefde en onlangs oorlede Eben Cruywagen vir radio verwerk. Dit was sy laaste dramawerk vir RSG en word uitgesaai op 22 Oktober en 29 Oktober om 20:00.

Stinkhout bring van die mees legendariese, sowel as die mees opwindende nuwer, name in Afrikaanse drama saam: Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock – ’n rolverdeling wat dit as ’n voorreg beskryf om deel te wees van die radioverwerking, veral omdat die verhoogstuk reeds groot aandag op verskeie kunstefeeste getrek het.

Skrywer Philip Rademeyer vertel dat die stuk ontstaan het toe iemand op ’n filmstel opgemerk het dat Frank Opperman en Wilhelm van der Walt “nogal soos pa en seun lyk”. Daardie toevallige opmerking het die vonk geword vir ’n storie wat diep in die pa‑seun‑verhouding delf:

In Stinkhout keer Louw terug na sy gesin se kleinhoewe ná sy broer se skielike dood. Daar word hy met sy pa, Gert, herenig. Ou wonde word oopgekrap soos hulle mekaar toets, blameer en konfronteer, terwyl die waarheid bruis binne ’n enorme witstinkhoutboom wat al dekades lank alles op dié familiegrond aanskou.

Regisseur Joanie Combrink sê die grootste uitdaging was om die verhoogstuk se toonaard getrou na radio oor te dra: “Dit was vir my baie belangrik om ’n atmosfeer in die ateljee te skep waarin die spelers veilig en ontspanne kon voel. Die radioverwerking is dubbel die lengte van ’n gewone radiodrama, en vir Frank Opperman en Wilhelm van der Walt was dit belangrik om getrou te bly aan hul vertolkings in die verhoogstuk.”

Die drama se emosionele diepte en die behoefte aan rou-eerlike spel het die produksie tot ’n besondere ervaring gemaak - een wat ook die nalatenskap van Eben Cruywagen met waardigheid eer.

Stinkhout is die laaste teks wat hy ooit vir RSG verwerk het. Sy werk het oor jare heen ’n onuitwisbare merk op Afrikaanse radiodrama gelaat. Hierdie uitsending is daarom nie net ’n drama nie; dit is ’n huldeblyk aan ’n man wie se uitsaaikennis, penvaardigheid, stem en visie die medium verryk het.

Stinkhout, Deel 1 word Donderdag 22 Oktober om 20:00 op RSG uitgesaai en Deel 2 Donderdag 29 Oktober om 20:00.

Die beste van Afrikaanse radioteater vind jy, soos altyd, op RSG.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top