Persverklaring: Drie plaaslike romkoms op Showmax in maand van liefde

  • 0
 

Raak verlief hierdie Februarie met drie splinternuwe Showmax Original- romantiese komedies.

 
  • Soos pynappel op pizza – Stroom vanaf Vrydag, 14 Februarie

Beeld: Showmax (verskaf)

 
Waldo en Becca het presies drie dinge in gemeen. Albei is sjefs. Albei is enkellopend. En albei hou ewe min van mekaar. Wanneer hulle by ’n gekke enkellopende toevlugsoord in die berge beland, gooi die noodlot hulle saam in die een absurde scenario ná die ander. Só word hulle gedwing om hul opinies oor die liefde te heroorweeg. 
 
Die Safta-wenner Schalk Bezuidenhout (Kanarie, Hotel) en Safta-benoemde Kate Pinchuck (Tali’s baby diary) vertolk die hoofrolle – Schalk in Afrikaans en Kate in Engels – met die res van die sterbelaaide rolverdeling wat spelers soos die Silwerskermtoekennings-wenners Rolanda Marais en Edwin van der Walt insluit, asook die Safta-benoemde Keenan Arrison, en Braeden Buys (Spinners, Trompoppie).
 
Die nuweling Morné Strydom (Twintig tone in ’n hangkas) se ster skitter blink as die skrywer en re;gisseur van dié eiesoortige romkom wat op Silvermist-wynlandgoed verfilm is. Die film is deur die veelbekroonde Nagvlug Films (Donkerbos; Nêrens, Noord-Kaap), asook One more cup of coffee, wat deur Strydom en vervaardiger Aisha Williams besit word, vervaardig.
 
Kyk die lokprent:
 

  • Gebokste liefde Stroom vanaf Vrydag, 7 Februarie

Beeld: Showmax (verskaf)

 
Sy het haar tande as assistent-regisseur geslyp aan die sy van die ontslape advertensielegende Keith Rose, en nou maak Annelize Frost haar debuut as rolprentregisseur met die Showmax Original romkom Gebokste liefde – voorwaar ’n uitklophou. 
 
Die Safta-wenner Tarryn Wyngaard (Devil’s peak) vertolk die rol van ’n geskeide enkelma, Suma-Lee. Dis wanneer sy haar werk as modeontwerper verloor dat sy teësinnig by ’n boksgimnasium aansluit en uiteindelik die selfvertroue ontwikkel om nie net vir haarself op te staan nie, maar ook te baklei vir wat sy wil hê: liefde. 
 
Jandré le Roux (Kuroobi in One piece) speel haar boksafrigter, terwyl die model Roché Killian (Plaasjapie) as haar eks, Dries, verskyn. Dries staan nou weer op trou – dié keer met ’n model (Emma van Heyn van Eksie perfeksie en Matilda en Matthys). Ook in die rolverdeling is die tweemalige Silwerskermtoekennings-wenner en driemalige Safta-benoemde Erica Wessels (Donkerbos) wat as Suma-Lee se baas haar komediese sy wys. 
 
Gebokste liefde is deur Advantage Entertainment (Redeeming Love) vervaardig.
 
Kyk die lokprent:
 

  • Not my type Stroom vanaf Vrydag, 14 Februarie 

Beeld: Showmax (verskaf)

 
Die kerkgaande Letsatsi ontwerp al vir jare trourokke terwyl sy wag vir God om die perfekte man vir haar uit te kies. Maar wanneer haar jonger suster ’n huweliksaanbod ontvang, raak sy effe desperaat. Haar noukeurig beplande lewe, wat teen dié tyd al ’n man moes insluit, is immers nie besig om te ontvou soos sy verwag het nie... 
 
Lorraine Moropa (Guilt, Hope, Ikani) speel die hoofrol as Letsatsi, met Lulama Nyembezi (The queen, House of Zwide) as Thimothi, ’n voormalige gelowige wat ’n ommeswaai na stout seun gemaak het ná ’n slegte ervaring met die kerk, asook Moagi Kai as Mhlonishwa, ’n mede-Christen wie Letsatsi glo God se antwoord tot haar gebede is.
 
Thape Media Production (Gospel unplugged, Widowed, Fix my love, Fooled by love) is die vervaardiger, met regie deur die Safta-wenner Siyabonga Mkhize (Umkhokha, 7de Laan, eHostela, Champions).
 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top