Persverklaring: Digtersweek 2026

  • 0

Ná twee baie suksesvolle Digtersweke in 2024 en 2025, is dit weer tyd om aan ontluikende digters die geleentheid te gee om hul vaardighede te slyp en hul kennis uit te brei.

Digtersweek 2026 vind aanlyn plaas van 3 tot 7 Augustus en word weereens gefasiliteer deur Amanda de Lange, voormalige joernalis en nou lewensafrigter en mentor vir ontluikende skrywers.

“Ek kry dikwels versoeke van kliënte of voornemende kliënte vir mentorskap in die digkuns, maar dit is nie my sterk punt nie. Toe besluit ek wat is dan beter as om ’n handvol meesters in poësie bymekaar te kry op een platform, vyf dae lank waar elkeen oor ’n aspek van die digkuns kan gesels,” het De Lange gesê. (Belangstellendes kan die blad The Writers Coach op Facebook besoek vir meer inligting en gereelde opdaterings rakende Digtersweek 2026.)

Die paneel digters vanjaar is inderdaad weer eens formidabel:

Bibi Slippers is ’n digter van Baardskeerdersbos in die Overberg. Sy is die skrywer van Fotostaatmasjien (2016) en Soekenjin (2023). Soekenjin is vroeër vanjaar vir die Hertzogprys vir poësie benoem;

Alwyn Roux het in 2024 met die digbundel Weerskyn gedebuteer, wat op die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys geplaas is en die Eugène Maraisprys verower het. Benewens sy eie digwerk is hy mederedakteur van die versamelbundel Merang (2025) en die huldigingsbundel Onthou is die dag wat breek (2026). Hy doseer literatuurwetenskap en kreatiewe skryfkuns aan Unisa;

Gaireyah Fredericks is ’n bekroonde skrywer wat die Eugene Maraisprys en die UJ-prys verower vir haar debuutwerk een voet innie kabr. Nog twee van haar bundels, Mientjies en Kaaps is Hollands, is ook vir die Eugene Marais-prys benoem. Ander pryse sluit onder meer in die Neville Alexander prestigeprys, die eretoekenning van die Wellingtonstasiefees vir die bevordering van Kaaps, en ’n eresertifikaat van die McGregor Poetry Festival;

René Bohnen is ’n bekroonde digter met ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns. Sy is die skrywer van drie digbundels, haar werk is in verskeie bloemlesings opgeneem en gedigte van haar is getoonset en vir skole voorgeskryf. Sy het internasionale erkenning ontvang, onder meer as wenner van die European Union Sol Plaatje Poetry Prize se tweede prys en as een van die top tien haikudigters wie se werk in Kyoto, Japan, uitgestal is. Sy werk ook op die raakvlak van poësie, fotografie, video en waterverf;

Jo Prins is ’n boekeredakteur, joernalis en digter van Melville in Johannesburg. Sy debuut, een hart, het in 2009 by Lapa verskyn. Sy werk is in verskeie bloemlesings opgeneem – van die laaste, “geblikte” Groot Verseboek, tot meer onlangs Merang en Nogmaals vir die bysiende leser,  gedigte ter ere van Wilma Stockenström (beide bundels Naledi, 2025).

Dié digters gaan deelnemers aand ná aand toerus met hul kennis en vaardighede.

Buiten die geleentheid om vrae te vra en aan die interaktiewe proses deel te neem, is daar vanjaar weereens vir deelnemers die unieke kans om een van hul gedigte in te stuur en direkte terugvoer van ’n lid van die paneel te ontvang.

Deelnemers wat graag van dié geleentheid gebruik wil maak, moet hul gedig teen  29 Julie per e-pos aan De Lange stuur tesame met hul bewys van registrasie (amanda@amandadelange.co.za).

“Ons wil graag aan die deelnemers die geleentheid gun om direk van die digters te hoor oor hul skryfwerk. Al die gedigte wat voorgelê word sal onder die digters versprei word en aan die begin van elke sessie sal hulle hul terugvoer met die skrywers deel,” het De Lange verduidelik.

Om die gesprekke so toeganklik moontlik te maak, word dit aanlyn aangebied. Belangstellendes kan dus van enige plek op die aardbol deelneem. Die koste per persoon is R850. Alle gesprekke sal ook ná die tyd aflyn beskikbaar wees vir almal wat die Digtersweek bygewoon het.

Die temas wat deur die week gedek word, is soos volg:

Maandag 3 Augustus, BIBI SLIPPERS: Om beter te kan lees: Metafore vir ’n nuwe benadering tot die lees van gedigte

Dinsdag 4 Augustus, ALWYN ROUX: Vir wie wys ek my gedigte: Hoe literêre vriendskappe jou digkuns kan beïnvloed

Woensdag 5 Augustus, GAIREYAH FREDERICKS: Kom ons vertel ’n storie

Donderdag 6 Augustus, RENÉ BOHNEN: Die haiku in 2026 – ’n dieper beskouing van die antroposeen, tradisie, genre en vorm

Vrydag 7 Augustus, JO PRINS: Sonde met die diere: Wat het poësie met jou hond, kat of goudvis te doen?

Belangstellendes kan Amanda de Lange kontak by 0824915308 of ʼn e-pos stuur na amanda@amandadelange.co.za

Skakel na die advertensie op Facebook: https://www.facebook.com/share/p/1PihQEGgsF/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top