Persverklaring: Digleiding in ’n digtersdorp

  • 1

Louwhuis en Museum Sutherland bied ’n poësiewerkswinkel aan

Vir woordgevoeliges wat nog effens “dig” voel as hulle pen op papier of vinger op sleutelbord plaas om ’n gedig op te tower: Die pasgestigte Louwhuis en Museum Sutherland bied ’n geleentheid om die middele en werkinge van geslaagde poësie te leer ken – én om dit op eie digpogings toe te pas.

Bernard Odendaal, digter en digkunskenner wat die afgelope dekade die direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) was, sal ’n poësiewerkswinkel in Sutherland lei op Vrydagmiddag 28 Oktober en Saterdagoggend 29 Oktober 2022. Ook die bekroonde digter, rubriekskrywer en literêre vertaler Daniel Hugo sal by die werkswinkel aansluit om van sý sieninge en wenke oor die digkuns met kursusgangers te deel. ’n Vol program word van Vrydagmiddag tot Sondag laatoggend beplan.

As onderdeel van ’n genotvolle naweek van kennismaking met die Louwhuis en Museum Sutherland en ander besienswaardighede in en rondom Sutherland, sal die poësiewerkswinkel tussen 17:00 en 20:00 op die Vrydag, en tussen 09:00 en 13:00 op die Saterdag plaasvind. Voornemende kursusgangers lê twee eie gedigskeppings voor by inskrywing vir die werkswinkel. Naas gesprekvoering oor die skeppingsmiddele tot ’n digter se beskikking, sal praktiese toepaslikmaking daarvan in die digwerk van ingeskrewenes aan die beurt kom. Sutherland, waar die onmisbare literêre nalatenskap van NP van Wyk Louw en WEG Louw bewaar en gevier word, dien as inspirerende ruimte waar die werkswinkel in die ruim ou Karookliphuis, Jakkalsdou (1905), sal plaasvind – reg in die middel van die dorp en oorkant die historiese kerk.

Die ATKV-Skryfskool van die NWU tree as vennoot van die LH&M op in die aanbied daarvan. Reeds meer as 30 jaar lank staan die ATKV-Skryfskool met sy kortkursusse opkomende skrywers en digters by om ’n eie koers in te slaan binne die Afrikaanse skryfwêreld. Na berekening het meer as 6 000 publikasies deur oud-kursusgangers van die Skryfskool reeds die lig gesien.

Die inskrywingskoste van die werkswinkel beloop R250,00. Bywonergetalle word beperk. Skryf dus voor of op 21 Oktober aan Gerard Scholtz te e-posadres diebeiteltjie@louwhuis.co.za, of skakel hom by 083 388 8209 om inskrywings te verseker. Oor die ATKV-Skryfskool se doelstellings en geskiedenis is meer te lees by http://humanities.nwu.ac.za/af/atkv-creative-writing/oor-ons.

  • 1

Kommentaar

  • Helen dos Santos Nunes

    Goeiedag, ek stel belang in die poësiewerkswinkel. Ook ander poësiewerkswinkels.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top