Persverklaring: Diek Grobler se unieke speldeskermkuns te sien by die SA Akademie in Pretoria

  • 0

Die bekroonde kunstenaar en animeerder Diek Grobler se uitstalling, Agter die Spykergordyn, open op Saterdag 22 Augustus 2026 om 11:00 by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria. Die uitstalling word aangebied in samewerking met die SA Akademie se Kommissie vir Visuele Kunste.

Elfriede Dreyer, akademikus, kurator, skrywer, kunstenaar en lid van die Kommissie sal die uitstalling open.

Die uitstalling bied ’n seldsame blik op speldeskermkuns: ’n veeleisende animasietegniek waarin beweegbare pennetjies en lig gebruik word om ryk skaduprente te skep wat aan etse en gravures herinner.

Grobler se speldeskerm, Akasia, is die enigste van sy soort in die suidelike halfrond.

Die uitstalling bestaan uit vier afdelings: ’n inleiding tot die instrument en Grobler se vroeë krapbordwerke; unieke speldeskermtekeninge en beperkte afdrukke; bekroonde en nuwe animasiefilms; en ’n interaktiewe oudiovisuele installasie met die klankkunstenaar Leon Ecroignard.

’n Nuwe musiekfilm, Nagmusiek, met klavierspel deur Wessel van Wyk sal ook vir die eerste keer tydens die openingsgeleentheid aan die publiek vertoon word. Verskeie van die kunswerke is met QR-kodes toegerus wat besoekers toegang gee tot filmgrepe wat die werke verder belig.

Daar sal ook van Grobler se werke te koop wees.

Uitstallingsbesonderhede

  • Datum: Saterdag 22 Augustus 2026
  • Tyd: 11:00
  • Plek: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria
  • Toegang: Gratis

RSVP op die laaste teen 17 Augustus per e-pos by melanie@akademie.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top