Persverklaring: Die Proscenium-dramakompetisie se inskrywings vir 2025 het pas oopgemaak

  • 0

Agter (vlnr): Hanno van Zyl, Ethan Bester, Jean Retief, Roderick Carroll, Dean John Smith (MC); middel: Blyde Schoeman (algehele wenner); voor vlnr: Francois Retief (naaswenner); Rico Immelman (derde), Junior G Khumalo (Foto: Nardus Engelbrecht)

Die Proscenium-dramakompetisie se inskrywings vir 2025 het pas oopgemaak. 

Die kompetisie het in 2024 afgeskop met meer as 600 inskrywings van oor die hele Suid-Afrika en uit Namibië. Ná die nasionale uitdunne is 70 kandidate deur na die finale rondes wat in Kaapstad plaasgevind het.

’n Hoogtepunt waarna finaliste kan uitsien, is om ingesluit te word in die geselskap van ’n verhoogproduksie wat onder leiding van ’n professionele regisseur by een of meer nasionale kunstefeeste opgevoer gaan word.  2025 se produksie word deur die SBA moontlik gemaak.

2024 se verhoogproduksie-projek is met die ondersteuning van die Wes-Kaapse onderwysdepartement van stapel gestuur. Vyftien skrywers het opdrag gekry om dialoë te skryf en onder regie van verskillende professionele regisseurs het die finaliste dit by vanjaar se Toyota Woordfees in Stellenbosch opgevoer. Dis volgende jaar ook deel van die Suidoosterfees en KKNK se programme. Die dialoë is verfilm en die tekste asook die video’s sal vanaf November 2024 in Afrikaans, Engels en Xhosa op die WKOD se ePortal (https://wcedeportal.co.za/) beskikbaar wees.

Anina Lundie van die departement se kurrikulumdirektoraat, verduidelik dat die projek opvoeders en leerders in staat stel om direk met die professionele teateromgewing in aanraking te kom. “Die WKOD streef daarna om opvoeders in die skeppende kunste te ondersteun met opvoedkundige materiaal van hoë gehalte, en waarmee leerders van ons inheemse taalgroepe gemaklik voel.

In die senior fase is die voorgeskrewe dialoogwerk ’n ideale medium om leerders se kommunikasievaardighede en kreatiewe ontwikkeling te verskerp. Die samewerking met Proscenium en die kunstefeeste help ons om die aanbod van geskikte dramatekste uit te brei, opvoeders van handige demonstrasiemateriaal te voorsien en om leerders se lewensvaardighede te verryk.”

Proscenium is ’n inisiatief van die Tribuo Fonds, wat oa die doelwit nastreef om bemagtigting in die kunste te bevorder. Karen Meiring, Tribuo se uitvoerende voorsitter, sê: “’n Belangrike oogmerk is om in die toekoms en die gesonde voortbestaan van die vermaaklikheidsbedryf te belê, en juis daarom die jeug bekend te stel aan die wêreld van die uitvoerende kunste. Die ekosisteem in die kunste is baie belangrik en daarom verseker ons dat hierdie kompetisie deelnemers blootstel aan verskeie fasette van die vermaaklikheidsbedryf soos teater, televisie, radio en oorklanking.”

Dié veeltalige kompetisie skep vir deelnemers die geleentheid om individueel in te skryf en hul kreatiwiteit op nasionale vlak uit te leef. Hoërskoolleerders van graad 8 tot 12 kan self inskryf, óf deur hul skole óf onafhanklike drama-opleidingsinstansies.

Die finaliste wat vanjaar in die Proscenium-dramakompetisie goedgekeur is vir deelname aan die WKOD se Hoërskool-dialoogprojek (Foto: Nardus Engelbrecht)

Gillian Mitchell, wat onlangs ook as direkteur van Tribuo aangestel is, beaam: “Die kompetisie sal skoliere help om ingeligte loopbaanbesluite te neem. Deelnemers ontmoet suksesvolle professionele akteurs en ervare mentors uit verskeie velde, en hulle gaan skouers skuur met eendersdenkende kulturele en diverse uitblinkers in die land. Tydens die finale rondes wat in Kaapstad plaasvind, word daar waardevolle vriendskapsbande gesmee, en skoliere word deel van nuwe kreatiewe netwerke wat oor die hele land strek.”

Inskrywings het reeds op 1 Oktober 2024 geopen en word aanlyn gedoen by www.proscenium.pro. Inskrywingsfooie beloop R200 per deelnemer. Die sluitingsdatum is 27 Januarie 2025. Einde Februarie 2025 skop die uitdunrondes in verskeie sentra in al nege provinsies af, waarna die finaal van 15 tot 17 Mei 2025 in die Kunstekaap-teatersentrum plaasvind.

Wenners word die aand van 17 Mei tydens ’n prysuitdeling aangekondig. Sertifikate, medaljes en kontantpryse is op die spel, en RSG kies uitblinkers onder die finaliste om in ’n radiodrama te speel.

Graad 12-finaliste kan ook aansoek doen vir ’n studiebeurs aan Northlink Kollege.  

Cornelia Faasen, hoof van NATi en ook ’n Tribuo-direksielid, moedig hoërskoolleerders aan om van dié opwindende geleentheid gebruik te maak. “Die Proscenium Dramakompetisie fokus op die individu se talent en tegniese vermoëns, en nie soseer op ensemble-werk soos in die geval met baie ander kompetisies nie. Skryf nou in en word deel van ’n onvergeetlike ervaring.”

Inskrywings: www.proscenium.pro
Navrae: info@proscenium.pro       

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top