Persverklaring: Die nuwe Afrikaanse prosaboek

  • 0

Human & Rousseau, druknaam van NB-Uitgewers, beplan om Oktober 2019 ’n splinternuwe kortverhaalbloemlesing uit te gee, getiteld Die nuwe Afrikaanse prosaboek. Sonja Loots en Steward van Wyk, beide bedrewe letterkundiges respektiewelik verbonde aan die Universiteit Kaapstad en die Universiteit van die Wes-Kaapland, sal die samestelling van hierdie nuwe bloemlesing behartig.

Met hierdie projek beoog H&R ’n vernuwende samestelling wat Afrikaanse kortverhale sedert 1960 sal bevat.

Steward van Wyk som die projek as volg op: “Die nuwe Afrikaanse prosaboek is ’n opwindende geleentheid om opnuut te kyk na die skryfwerk wat die beste in die genre versinnebeeld en sinoniem met die kanon van Afrikaanse kortprosa is. Dit is ook ’n geleentheid om te kyk na werk wat uitdagend en verruimend is en wat die verskeidenheid van Afrikaans uitbeeld.”

Sonja Loots verduidelik verder: “Omdat ons letterkunde die afgelope jare soveel nuwe stemme bygekry het, waardeur Afrikaans voortdurend aan die verruim en verander is, sien ons uit na ’n nuwe bloemlesing wat dié verskeidenheid stemme en tonge waarmee daar gepraat en geskryf word, reflekteer.”

Ons nooi jou dus hiermee graag uit om enige ongepubliseerde verhale wat dalk iewers in ’n laai (of inboks) lê, aan ons voor te lê vir moontlike insluiting in Die nuwe Afrikaanse prosaboek. Verhale moet liefs nie langer as 5 000 woorde wees nie. Slegs drie verhale per skrywer mag voorgelê word. Die sluitingsdatum vir voorleggings is 11 Januarie 2019.

Voorleggings (in Word-formaat, asb) kan elektronies aangestuur word na kortverhale@humanrousseau.com. Navrae kan gerig word aan nb@nb.co.za.

Skrywers wie se verhale in die bloemlesing opgeneem sal word, sal teen 10 April 2019 in kennis gestel word, en ’n skrywerskontrak sal met hulle gesluit word. Ongelukkig kan daar nie terugvoer gelewer word op voorleggings nie. Die finale oordeel berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top