Persverklaring: Die Afrikaanse Taalraad se standpunt oor die SAIGR se nuwe taalbeleid

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) beskou SAIGR (Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters) se besluit om die tale wat vir hul kwalifiserende eksamens gebruik kan word tot  Engels te beperk, as ’n groot fout. Ons glo dat hierdie nie ’n ingeligte besluit is nie en dat dit op gebrekkige argumente gebaseer is.

Waarom glo SAIGR dat veeltaligheid hulle sal verhoed om internasionale wederkerigheid en erkenningstandaarde te handhaaf? - aldus SAIGR se eerste rede vir slegs Engels. Hoeveel ander georganiseerde rekenmeester-organisasies in Europa, Latyns-Amerika en elders slaag daarin om die "probleem" van eksamens in die nasionale tale te oorkom terwyl hulle terselfdertyd daarin slaag om die belangrike internasionale verhoudings te handhaaf? Hoekom is SAIGR nie daartoe in staat om dit te doen nie?

Waarom dink SAIGR dat veeltaligheid die internasionale mobiliteit van geoktrooieerde rekenmeesters (GR’s) sal verminder wanneer die beskikbare taalkundige bewyse op die teenoorgestelde dui? – aldus SAIGR se tweede rede vir slegs Engels. Nog belangriker, hoekom is die internasionale mobiliteit van GR’s so hoog op SAIGR se agenda? Word GR’s nou opgelei om ’n diens aan die land te lewer of om te emigreer? Hoe rym die sterk fokus op internasionale mobiliteit met die behoefte om GR-kwalifikasies meer toeganklik te maak vir ’n wyer segment van Suid-Afrikaners en vir positiewe verandering in die beroep? Hoe kan dit bereik word indien nie deur meertaligheid nie?

Hoe kan SAIGR die meertaligheid wat in die Grondwet verskans is as ’n argument vir enkeltaligheid gebruik? Aldus SAICA se derde argument vir slegs Engels. Die Grondwet bevorder nie ’n alles-of-niks-benadering nie, ook nie dat "onregverdigheid" uitgebrei moet word om "regverdigheid" te bewerkstellig nie. Waarom nie meertaligheid by die SAIGR uitbrei in plaas daarvan om dit te verminder nie? Pleks van die baba met die badwater uit te gooi, kan belangrike streekstale eerder geleidelik en op ’n pragmatiese wyse ingesluit word.

Dit lyk egter asof SAIGR taal as ’n probleem, ’n oorlas of ’n koste beskou – eerder as ’n waardevolle hulpbron wat gebruik kan word om ons samelewing positief te verander en ekonomiese groei te optimaliseer deur die insluiting van alle segmente van die samelewing.

Die Afrikaanse Taalraad versoek dus SAIGR om sy nuwe taalbeleid vir eksamens te heroorweeg. In hierdie verband bemiddel ons graag kontak met die groot aantal taalspesialiste en taalorganisasies wat hulle met die ontwikkeling van al die land se inheemse tale bemoei.

Die Afrikaanse Taalraad is ’n artikel 185-organisasie met oorkoepelende ondersteuning wat Afrikaans in sy volle verskeidenheid in ’n meertalige konteks bevorder. Ons hoor graag van SAIGR.

Conrad Steenkamp is die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad. Kontak hom gerus by: +27 (0)82 613 6725

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top