
Paulet Huis in Somerset-Oos | Foto: verskaf
Inleiding
Na ’n onderbreking van twee jaar weens die COVID-19-pandemie is die Jake Gerwel Stigting en Brussels-gebaseerde International House of Literature Passa Porta se Dialoogprogram vir Skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika weer onderweg.
Die samewerking tussen die Jakes Gerwel Stigting en Passa Porta is in 2019 bevestig met die eerste skrywersresidensie vir twee Suid-Afrikaners, Chase Rhys en Denver Breda, en twee Belgiese skrywers, Miriam Van hee en Rachida Lamrabet, by die Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos, Oos-Kaap.
Twee Vlaamse skrywers word elke jaar gekies om die residensie met twee Suid-Afrikaanse skrywers te deel. Op hierdie manier moedig die vennote kruisbestuiwing tussen die skryfwerk van skrywers van verskillende agtergronde aan en streef daarna om die versameling literatuur van hier en oorsee te verryk.
Meer oor die vennote
Hierdie samewerking spruit uit professor Jakes Gerwel se beduidende nalatenskap deurdat hy sy doktorsgraad in Literatuur en Filosofie (magna cum laude) in 1979 aan die Vrije Universiteit in Brussel behaal het. Sy tesis is in 1983 gepubliseer onder die titel Literatuur en apartheid: Konsepsies van “gekleurdes” in die Afrikaanse roman tot 1948. Dit was ’n studie wat ’n geweldige groot impak op die Afrikaanse literêre kritiek gehad het.
Die Stigting se mikpunt vandag is om Suid-Afrikaanse literatuur in die algemeen, maar spesifiek Afrikaanse literatuur wat professor Gerwel se spesialisgebied was, te bevorder en uit te brei.
Die Stigting fokus op:
- Die verryking van Suid-Afrikaanse literatuur
- Die bydra van nuwe perspektiewe en deel van nuwe ervarings
- Die ondersteuning van ontluikende skrywers en nuwe stemme
- Die aanmoediging van lees en bevordering van geletterdheid onder die jeug.
Die Stigting is egter oop vir veeltaligheid soortgelyk aan ons vennoot Passa Porta wat ’n veeltalige bymekaarkomplek is in Brussel, ’n stad waar 180 nasionaliteite saam bestaan. Passa Porta beklee ’n plek in die hartjie van al hierdie tale en bied ’n paspoort vir lesers om hul gunstelingskrywers van die huis en elders te ontmoet en nuwe skryfwerk te ontdek.
Dit is bowenal ’n plek waar skrywers, kunstenaars en vertalers hul pas stadiger kan maak en ’n platform kan hê waar hulle idees, tekste en stories kan uitruil. Elke tweede jaar sak honderde skrywers en kunstenaars op Brussel toe om aan die Passa Porta-fees wat Brussel as ’n literatuurstad eer, deel te neem.
Residensie-inligting
Die voluitbetaalde Dialoogprogram vir Skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika vind plaas by Paulet Huis in Somerset-Oos van 7 tot 21 November 2022. As jy wil deel wees van hierdie opwindende samewerking, stuur asseblief jou voorlegging aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 5 September 2022.
Residensie-vereistes:
- Jy moet ’n motiveringsbrief in die taal waarin jy skryf of publiseer, insluit.
- Jy moet ’n CV saam met ’n lys van jou gepubliseerde werk insluit as jy ’n gevestigde of ontluikende skrywer is. Alle genres sal oorweeg word.
- Jy moet ’n projekuiteensetting insluit van dít waaraan jy beoog om tydens die residensie te werk. Dit sal ten sterkste in jou guns tel as jou skryfwerk of navorsingsprojek versoenbaar is met dié van die twee Belgiese skrywers wat reeds vir die residensie gekies is.
- Jy moet verbind wees daartoe om die residensie produktief te benut en jy moet daartoe verbind wees om tot die gaste en ’n respekvolle atmosfeer in Paulet Huis by te dra.
- Jy is welkom om teen jou eie pas waaraan jy gewoond is te skryf en te vorder, want daar is geen mentors betrokke by hierdie residensie nie.
Meer oor die Belgiese skrywers
Yousra Benfquih
Afgesien van die feit dat sy ’n internasionale menseregtejuris is, is Yousra Benfquih ook ’n skrywer, rubriekskrywer, digter en gesprokewoordkunstenaar. Sy het die txt-on-stage-kompetisie Naft voor Woord in 2017 gewen. Haar rubrieke verskyn gereeld in publikasies soos De Standaard, De Morgen, VRT NWS, rekto:verso, SamPol en Knack, terwyl die klankopname van haar brief aan De Held van de Week elke maand op die Vlaamse Radio 1 gehoor kan word. Haar digkuns, waarin sy daarna streef om humor en erns asook ongemak en patos te balanseer, het reeds op vele platforms verskyn.
Yousra behaal in 2020 haar PhD aan die Universiteit van Antwerpen en ontvang in 2021 die Max van der Stoel-menseregtetoekenning 2021 vir haar PhD-verhandeling in die veld van internasionale menseregte. Haar verhandeling is getiteld “Reasonable Accommodation in Education: An Integrated Human Rights Approach on the Basis of the Right to Equality, Inclusive Education and Freedom of Religion”.
Fleur Pierets
Fleur is ’n bekroonde Belgiese kunstenaar en skrywer asook ’n LGBTQ+-aktivis. Sy kombineer verskillende media soos fotografie en uitvoerende kunste met skryf. Haar werk word gekenmerk deur positiewe aktivisme wat fokus op wat ons saambind eerder as wat ons skei. Fleur se boek Julian, waarin sy skryf oor die verlies van haar vrou en hul werk saam, het in 2019 verskyn. Haar kinderboek Love Around the World (2019) is in New York gepubliseer. Fleur bied lesings regoor die wêreld aan.
Vir meer inligting, sien: