Persverklaring deur Jan Heunis, president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch

  • 8

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Jan Heunis (foto: Naomi Bruwer)

Persverklaring deur adv JC Heunis SC, president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch

In 'n persverklaring wat op Sondag 22 Mei 2016 uitgereik is, sê mnr George Steyn, die voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US), dat dit betreurenswaardig is dat 'n paar lede van die Raad die Raad self, die Bestuur en die taalbeleidhersieningsproses in die media verdag maak.

Dié verklaring is voorafgegaan deur 'n berig in Rapport waarvolgens Raadslede hul teleurstelling uitgespreek het nadat die Raad verlede Saterdag 'n mosie wat ek ingedien het, met 'n meerderheid van 13 stemme teenoor 8 verwerp het.

Die mosie lees soos volg:

Dat die Raad hom verbind tot gelyke status aan Afrikaans en Engels en die betekenisvolle ontwikkeling van isiXhosa as 'n akademiese taal en dat die taalbeleid daarop ingestel moet wees om dit in vervulling te laat gaan.

In sy verklaring sê mnr Steyn onder meer dat dit die Raadslede se verantwoordelikheid is om die belange van die US se studente, lektore en professionele en administratiewe ondersteunende personeel te bevorder en nie dié van ander belangegroepe en buite-organisasies nie. Die implikasie is duidelik dat Raadslede wat hul teleurstelling uitgespreek het na aanleiding van die verwerping van die mosie, hierdie verantwoordelikheid nie nakom nie. Dit is louter onsin, veral as in ag geneem word dat in die onlangse verlede transkripsies van die verrigtinge van Raadsvergaderings met reëlmaat openbare dokumente in die konteks van hofsake word, soos wat waarskynlik ook met Saterdag se vergadering sal gebeur.

Op grond van mnr Steyn se eie erkennings, waarna ek hier onder verwys, het die Bestuur op onregmatige wyse op groot skaal afgewyk van die US se taalbeleid. Dít is 'n versuim om die belange van die US te bevorder.

Ek is sedert 3 April vanjaar 'n Raadslid, maar ook die president van die US Konvokasie, 'n instelling wat hopelik nie tel onder die ander belangegroepe en buite-organisasies waarna mnr Steyn verwys nie.

My mosie was nie alleen in ooreenstemming met die Konvokasie se siening oor die US se taalbeleid nie, maar ook in ooreenstemming met die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie se kommentaar op die voorgestelde nuwe taalbeleid.

In die breë maak die huidige taalbeleid voorsiening vir Afrikaans en Engels as primêre tale van onderrig met gelyke status.

Die feit dat my mosie nie aanvaar is nie, is onomstootlike bewys daarvan dat Afrikaans in die proses is om hierdie gelyke status te verloor.

Dit het al lankal in die praktyk gebeur, en vir hoe lank, en die skaal waarop dit gebeur, blyk uit erkennings van Bestuurslede in dié verband asook 'n eedsverklaring wat mnr Steyn in die AfriForum- en Adam Tas-studenteverenigings se hofsaak teen die US afgelê het en waarin hy sê:

  1. Die UK(R) en die Rektor se bestuurspan aanvaar dat tot die mate wat daar van die taalspesifikasies in die 2016 Jaarboek afgewyk word, die US onregmatig optree; en, na die inwin van advies van die US se regsverteenwoordigers …, aanvaar hulle voorts dat resolusie 3 van 20 Februarie 2016 (waarin die Raad die soepele implementering van die taalbeleid probeer wettig het) regtens aanvegbaar is omdat dit in wese op 'n wysiging van die taalplan neerkom en dit nie deur 'n proses voorafgegaan is wat strook met artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 en met paragraaf 3.6.1 van die ondernemings in paragraaf 7.2.4 hierbo beskryf nie.

 (Die ondernemings was onder meer 'n onderneming, op sterkte waarvan AfriForum 'n hofaansoek teruggetrek het, dat die US sal verseker dat alle belanghebbers aan die US, insluitende AfriForum, 'n redelike geleentheid gegee sal word om 'n bydrae te maak tot die taalbeleid- en taalplanhersieningsproses.)

  1. Ek heg hierby aan 'n dokument wat deur US Bestuur saamgestel is vanaf inligting soos voorsien deur dekane … wat die taalspesifikasies en die mate waarin daar tans van die taalspesifikasies afgewyk word, uiteensit. Die aantal modules waarin daar tans hiervolgens van die taalspesifikasies in die onderskeie fakulteite afgewyk word, is as volg:
  • Landbouwetenskappe: 25
  • Ekonomie en Bestuurswetenskappe: 31
  • Ingenieursfakulteit: 67
  • Natuurwetenskappe: 16
  • Opvoedkunde: 73
  • Regsfakulteit: 49
  • Teologie: 7.

Dit het daartoe gelei dat die Kaapse hooggeregshof op 19 Mei 2016 'n tussentydse hofbevel finaal gemaak het waarvolgens die US gelas word om sy taalbeleid uit te voer.

Die ironie hiervan is dat die Raad van die US danksy 'n hofaansoek te wete gekom het dat daar van die US se taalbeleid afgewyk word en danksy daardie hofaansoek te wete gekom het presies wat die omvang van die afwyking is.

In 'n poging om die Bestuur ter wille te wees en die de facto-afwyking van die taalbeleid met wettigheid te beklee, het die Raad vroeër vanjaar besluit dat die taalbeleid met soepelheid geïmplementeer kan word.

Die geldigheid van hierdie besluit, waarvan mnr Steyn erken het dat dit regtens aanvegbaar is omdat dit in wese op 'n wysiging van die taalplan neerkom en nie deur 'n proses voorafgegaan is wat strook met artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys en met die onderneming wat aan AfriForum gegee is nie, is ook deur die AfriForum- en Adam Tas-studenteverenigings in 'n hofsaak aangeval en op 'n Raadsvergadering van 9 Mei 2016 het die Raad dit self tersyde gestel.

Indien dit nie gebeur het nie, sou dit deur die hof tersyde gestel gewees het.

Die jongste konseptaalbeleid, wat deur Bestuur geïnisieer is en nie die Raad nie, is net nog 'n poging om die onwettige afwyking van die taalbeleid te wettig. Dat die Raad nie hierdie poging geïnisieer het nie, blyk onder meer uit die feit dat Saterdag se Raadsvergadering belê is met die uitsluitlike doel om die Raad se uitgangspunte vir die taalbeleid te formuleer op 'n tydstip waar die Bestuur al 'n tweede konseptaalbeleid gefinaliseer het.

Om dié pil te versuiker het die Raad, uit die oogpunt van die belange van Afrikaans as onderrigtaal, 'n niksseggende mosie aanvaar dat die Engelse aanbod verhoog moet word sodat geen ingeskrewe student van die akademiese aanbod uitgesluit sal word nie en dat daar terselfdertyd verseker moet word dat die Afrikaanse aanbod nie verminder word nie. Ook dat Afrikaans as onderrigtaal verder bevorder moet word.

Presies hoe betekenisloos hierdie mosie is, blyk uit die statistiese gegewens wat mnr Steyn self verskaf het, en waarna ek reeds verwys het, met betrekking tot die mate waartoe die status van Afrikaans in die praktyk ondermyn en byvoorbeeld (en daar is baie voorbeelde) die feit dat die Bestuur se advertensie vir die pos van studentedekaan nie Afrikaansvaardigheid as 'n vereiste vir dié belangrike pos stel nie, asook, natuurlik, die feit dat die gelyke-status-mosie verwerp is.

Dit is jammer dat ek genoodsaak is om te sê dat mnr Steyn self grootliks aandadig was aan die verwerping van die gelyke-status-mosie deur sy aktiewe deelname, vanuit die voorsitterstoel, aan die debat daaroor en deur opmerkings soos byvoorbeeld dat indien die mosie aanvaar word, die US sal brand. Dit is insiggewend dat dit presies is wat prof Jonathan Jansen tydens die Senaatsvergadering van die Universiteit van die Vrystaat gesê het toe daar besluit is om by die Raad van daardie universiteit aan te beveel dat Afrikaans se gelyke status as onderrigtaal beëindig moet word.

Oorwegings soos hierdie het klaarblyklik niks te make met die meriete van Afrikaans as onderrigtaal nie. Dat dit nie sal help om aan sulke afdreiging toe te gee nie, blyk uit die feit dat dit hoofsaaklik universiteite waarvan Engels die enigste onderrigtaal is, soos Kaapstad, Wits, Mafikeng en Johannesburg, wat onlangs deurgeloop het en deurloop onder brandstigting en geweldpleging.

Indien die de facto-afwyking van die US se taalbeleid regverdigbaar was as gevolg van die bestaan van 'n noodtoestand (wat ek hoegenaamd nie aanvaar nie, aangesien die afwykings al te lank aan die gang is), ontstaan die vraag waarom die Bestuur nie die Raad, of selfs die Uitvoerende Komitee van die Raad, daaroor ingelig het met 'n versoek dat die Raad dit sanksioneer nie. Die Raad het daarvan kennis geneem eers nadat, in mnr Steyn se woorde, ander belangegroepe en buite-organisasies regstappe teen die US ingestel het.

Die "dan brand die universiteit"-opmerkings waarna ek hier bo verwys het, beteken op die koop toe dat minstens twee belangrike tersiêre instellings hulle nie deur pedagogiese en taaloorwegings in die formulering van hul taalbeleid laat lei nie, maar deur wantroue in die staat se vermoë om die reg en orde in 'n regstaat te handhaaf.

Daar is bekommernis dat dit saamval met die druk wat vanuit die Departement van Hoër Onderwys deur die minister, mnr Blade Nzimande, uitgeoefen word op universiteite wat nog Afrikaans as onderrigtaal het om te "transformeer". Hierdie "transformasie" berus bloot op "demografiese verteenwoordiging", 'n konsep van rasseklassifikasie wat veronderstel is om uiteindelik in 'n formule van 80-9-9-2 in ooreenstemming met die bevolkingsamestelling te eindig.

Kenners het reeds daarop gewys dat die US se konseptaalbeleid 'n taalrangorde met Engels as dominant en Afrikaans as ondergeskik vestig. Dit sal onvermydelik herhaal in 'n statushiërargie met Afrikaanssprekendes en hul kultuur as minderwaardig – kortom, kulturele vooroordeel. Dit voldoen hoegenaamd nie aan die mees basiese vereistes van gelykberegtiging in kollektiewe eiewaarde tussen verskillende taalgemeenskappe nie.

Daar is ernstige vrae wat na vore kom na aanleiding van mnr Steyn se "dan brand die universiteit"-opmerking. Soos:

  • Oor watter inligting beskik hy, waarmee die Raad nie te vertrou is nie, dat die US sal brand?
  • Waar kom hierdie dreigement vandaan?
  • Is dit 'n reële dreigement?
  • Hoekom word dit nie as 'n veiligheidsprobleem behandel nie, maar as 'n taalargument?

Geen universiteit kan in reaksie op afdreiging en uit vrees vir geweld belangrike besluite neem oor byvoorbeeld die inhoud van sy taalbeleid nie, en sulke oorwegings behoort hoegenaamd nie die besluitnemingsproses te bepaal of beïnvloed nie. Dit is eerder 'n rede om die taalbeleidmakende proses op te skort sodat daar aandag aan die veiligheidsprobleme gegee kan word en sodat, wanneer dit gebeur het, die taalbeleidhersieningsproses voortgesit kan word met inagneming van argumente wat onderliggend aan so 'n proses behoort te wees.

As 'n mens in ag neem dat taal die blywendste en duidelikste kenmerk van 'n taalgemeenskap is (allermins kleur – dit was een van die apartheidsregime se foute), dan is die werklikheid van die implikasies van die verengelsing van al Suid-Afrika se universiteite dat dit gevolg word deur Afrikaanse skole, die Afrikaanse media, koerantwese en uitgewers, om maar 'n paar te noem.

Hoe eerloos die proses is wat hom aan die US afspeel, blyk ook uit die feit dat die universiteit vir dekades die voordeel geniet het van 'n enorme skenking van Jan Marais van £100 000 op voorwaarde dat Afrikaans "geen mindere plaats" aan die US sal beklee nie.

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek het met groot dankbaarheid kennis van Jan Heunis se helder standpunt geneem. Dit is hartversterkend om te weet dat daar iemand soos hy is wat baie moeite doen en baie tyd ter behoud van ons taal en kultuur afstaan. Hy het met die regte woord die taalgebeure aan die US gekarakteriseer: EERLOOS. Die groot tragedie is dat Afrikaanssprekendes die voorbokke in hierdie eerloosheid is.

  • In ons nuwe bestel is dit duidelik tot nadeel van die meerderheid Suid-Afrikaners indien Afrikaans nie ten minste volledige gelyke status by die Universiteit Stellenbosch gaan behou nie. Dis die sterkste argument vir die behoud van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch maar ek sien of hoor niemand daardie argument gebruik nie. Die nie-gebruik van daardie argument kom daarop neer dat ons samelewing steeds die mes in het vir die meerderheid van Suid-Afrikaners. Wanneer gaan menslikheid ooit asemhaal in hierdie land?

  • Jan, ek haal my hoed af vir jou en ander wat opstaan om die stryd vir die langtermynoorlewing van Afrikaans as volwaardige Afrika- en akademiese taal te veg - want dit is wat dit is - 'n oorlewingstryd en nie ’n hunkering na oorheersing of begeerte tot uitsluiting, soos sommige dit kwaadwilliglik etiketteer nie.
    Daar is 'n groot verskil tussen die voortbestaan van 'n taal en die voortleef van 'n taal - Latyn bestaan immers nog as taal maar is morsdood as lewende taal.
    Ek is bevrees dat die skrif aan die muur is vir die gelyke voortbestaan van Afrikaans naas Engels op Stellenbosch. Net soos in die geval van die ondersoek na die wapenskandaal is die uitslag van die ondersoek na die taalbeleid op Stellenbosch hoogs voorspelbaar. Die hartseer realiteit en onbillikheid lê daarin dat die aanklaer teen die gelyke voortbestaan van Afrikaans (die Raad soos dit nou uit jou skrywe blyk) ook toevallig die regter in hierdie waterskeidingsaak gaan wees. Verder het Abraham de Vries in Die Burger sy ernstige bedenkinge uitgespreek oor die onafhanklikheid van die "onafhanklike taalkenner/ondersoekbeampte " wat veronderstel is om die Raad oor hierdie netelige kwessie objektief te adviseer.
    Die raad is verder nie 'n breë demokraties verkose liggaam nie , is dus nie proporsioneel verteenwoordigend van belangegroepe nie en het geen mandaat om minderheidsgroepe se belange te beskerm nie. Voldoen die wetgewing wat dit magtig aan die basiese vereistes van regverdigheid en billikheid wat ons Grondwet voorskryf ? Ek vra maar net, want dit stel 'n klein groep onverkose mense in staat om met 'n nog kleiner meerderheidstem die meerderheid belanghebbendes van hul grondwetlike regte ten opsigte van taal te ontneem.
    Hierdie aangeleentheid is polities gedrewe en die spel word volgens politieke reëls gespeel. Besware en hofsake het bloot die proses van maatskaplike ingenieurswese (social engineering) wat hier aan die gang is vertraag.
    Om beswaarmakers en die media van kwaadwillige verdagmakery te beskuldig is verregaande, soos jy baie duidelik aantoon. Mense wat in glashuise bly moet liewer in die donker stort want hul gaan nie die toets van die lig weerstaan nie. Die Raad het nog in elke hofsaak tot dusver sleg tweede gekom.
    Die Raadslede wat hierdie proses dryf moet ondubbelsinnig vir ons sê waar hul Afrikaans oor 5 jaar op Stellenbosch (eintlik in SA) sien, sodat hul nie eendag kan sê die uitsterf van Afrikaans was 'n onbedoelde gevolg van hul besluite nie.
    Laastens vind ek dit vreemd dat sommige Raadslede openlik aktivisties is vir die dekolonisering van leerplanne by universiteite, terwyl daardie selfde Raadslede ewe aktivisties is vir die totale kolonisering van ons universiteite wat taal betref. Is daar werklik 'n groot behoefte by die internasionale wêreld aan gedekoloniseerde kennis in Engels?
    Al slaag al jou en ander se besware en hofsake slegs daarin om die eerloosheid van die verengelsingsproses op Stellenbosch te ontbloot vir wat dit is, was dit nie 'n redelose mors van tyd nie.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    In Die Burger (26 Mei, p 15) is daar 'n artikel deur Lizette Rabe waarin sy beweer dat 40 jaar na die Soweto-opstand in 1976 daar "steeds 'bloed aan die taal' kleef" en daardie taal is Afrikaans. Haar kritiek is teen blankes (spesifiek Afrikaanssprekendes) en Afrikaans gemik; glad nie teen nie-wittes en Engels nie. Wat sy probeer tuisbring, word versterk deur die oorbekende foto van Hector Pieterson, die skoolstokkiesdraaier wat om politieke redes tot held en heilige verhef is. Rabe haal Piet Cillié goedkeurend aan: "Elke keer wanneer 'Afrikaans as die taal van die verdrukker voorgehou kan word, word die saak van Afrikaans ernstig benadeel.'" Maar dit is presies wat Rabe in haar artikel doen.
    Rabe se artikel is 'n pleidooi vir die voortgesette verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) en sekerlik ook vir die verdere afskaling van Afrikaans. Die naaste wat sy aan kritiek op die koloniale taal Engels kom, is om die gebruik van Afrikaans teen wit oorheersing te loof. Sy verwys na hoe "Afrikaans gebruik [is] om die koloniale bestel te hekel ... dit Afrikaans die status van versettaal gegee het téén wit dominansie." Afrikaans as versettaal teen wit oorheersing vind guns in haar oë, maar Afrikaans moet volgens haar nie as versettaal teen swart dominansie gebruik word nie. "As Afrikaans verloor, dan wen hy." Dus, as Afrikaans weens onvoldoende verset in sy swernoot aan die US gaan, sal dit volgens haar tot voordeel van Afrikaans en seker ook Afrikaners wees.
    Sy karakteriseer Afrikaans as "die resultaat van 'n gekreoliseerde Kaapse kultuur" omdat sodanige vertolking haar linkse politiek pas. 'n Taalkundige Edith Raidt het egter tereg daarop gewys dat wat gebeur het nie "kreolisering nie maar taalsteuring" was (Daniel Hugo, Halala Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2009, p 27). Die Khoi-San en slawe is nie die skeppers/eienaars van Afrikaans nie. Hulle het bloot die taal van die destydse blankes skeef en krom gepraat en in daardie sin 'n bydrae tot die ontstaan van proto-Afrikaans gelewer, maar glad nie tot die daadwerklike ontwikkeling en amptelike erkenning van Afrikaans nie. Dit is dus misplaas om polities korrek met die verwyt te kom dat blankes Afrikaans geannekseer het, dus van nie-wittes gesteel het.
    "Hoe kan dié taal, geannekseer vir 'n hand vol dekades deur Afrikanernasionalisme, van daardie aaklige smet ontslae raak?" My wedervrae is: Waarom word Afrikanernasionalisme veroordeel en nie swart nasionalisme nie? Het Afrikanernasionalisme nie net soveel bestaansreg soos swart nasionalisme nie? Waarom word Afrikaans deur Rabe met bloed en smet geassosieer maar nie Engels nie? Afrikaans en Afrikanernasionalisme word (feitlik) net in Suid-Afrika en eintlik net sedert 1875 (die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners) aangetref. Engels en Engelse nasionalisme, kolonialisme en imperialisme is of word dwarsoor die wêreld aangetref en daaraan kleef veel meer bloed en smet oor 'n baie langer tydperk as aan Afrikaans en Afrikanernasionalisme. Waarom word Afrikaans en Afrikanernasionalisme verdoem en nie die ooreenstemmende Engelssektor nie?

  • Avatar
    Marko van der Colff

    Aan die agbare Johannes Comestor (o.a.),
    Jy vra aan die einde van jou skrywe hoekom Afrikaans en Afrikanernasionalisme verdoem word en die die ooreenstemmende 'Engelssektor' (sic) nie?
    Waar is die sogenaamde ooreenstemmende 'Engelssektor' waarna jy verwys? Watter onderdrukkersrol (taal en andersins) het hulle in Suid-Afrika gespeel vandat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het?
    Afrikaans het spontaan in die mond van blank en nie-blank ontstaan op die buiteposte, straathoeke, smidswinkels, boupersele, markte, kantiene en kombuise van die VOC se 'Suid-Afrika'.
    Is jy bewus daarvan dat Afrikaans en die term Afrikaner lank voor die stigting van die GRA bestaan het? (Vergelyk maar die geval van Hendrik Biebouw.) Juis die benaming 'Regte Afrikaners' dui op 'n roepingskleed wat om 'n taal en sogenaamde uitgelese groep (by name die 'Regte Afrikaner') se skouers gehang is en waarvan hy/hulle vandag steeds moeilik kan wegkom.
    Wat gaan dit enigiemand, wat lief is vir Afrikaans, baat as die veldslag (hofsake) gewen word, maar die oorlog verloor word? Wil ons werklik nog 'n Hector Pietersen hê?

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Vir die "agbare" Johannes Comestor is daar maar min agting by Marko van der Colff. Waarom "Engelssektor" sic as dit klaarblyklik na Engels en Engelse nasionalisme verwys? Die mening van 'n oud-Robbeneilandgevangene en geswore kommunis sal seker by Van der Colff gewig dra. Neville Alexander verwys na "the fallacy of the ideological neutrality of the English language" (Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, p 84). Dit verwys onder meer na die onderdrukkende rol van die Engelssektor voor 1948 en sedert 1990. Dit is misplaas om die GRA-lede as 'n "sogenaamde uitgelese groep" te etiketteer. Hulle was meer uitgelese as diegene op die straathoeke en in die kroeë en kombuise waarna Van der Cloff verwys. Ek is bewus van die geval Biebouw. Dit is dus onnodig om my daaroor in te lig. Die GRA het gepoog om die belange van Afrikaans en Afrikaners te bevorder. As dit 'n roepingskleed genoem word, het ek ook daardie kleredrag aan. Daarom bevorder ek myns insiens 'n groter mate Afrikaans- en Afrikanerbelange as wat Van der Colff met sy negatiewe opmerkings doen. Die Hector Pietersen-sage is 'n episode in 'n terreurgeskiedenis wat vele ingewikkelde fasette het. Propaganda hieroor word wyd geglo, onder meer dat die Soweto-opstand in 1976 "spontaan" ontstaan het en nie deur bose magte vooraf haarfyn beplan is nie; onder meer deur te sorg dat joernaliste en fotograwe vooraf geweet het waar om die aksie af te wag en dus na hartelus verslae en foto's daaroor kon produseer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top