Persverklaring: Deon Maas se kunsuitstalling Ou koeie open op 14 Junie 2025 by die Breytenbach Galery

  • 0

Met sy uitstalling Ou koeie gebruik filmmaker, joernalis en skrywer Deon Maas oorspronklike koerantfoto’s, spuitverf en fotostate om kommentaar op die Suid-Afrika van die 1970’s en 1980’s te lewer, en herroep hy momente en mense uit dié stormagtige jare. Dit open op 14 Junie 2025 om 13:00 by die Breytenbach Galery in Wellington, met akteur Gerard Rudolf as openingspreker.

Maas die skrywer se boeke beweeg voortdurend tussen popkultuur, geskiedenis en politiek. As kritiese stem oor hedendaagse Suid-Afrikaanse kultuur is hy bekend vir sy insiggewende ondersoeke van sosio-politiese temas, fyn verweef deur narratiewe vorme wat die konvensies van genre en storievertelling uitdaag. Sy werk spreek dikwels die kompleksiteite van post-apartheid Suid-Afrika aan, en delf in die fynere besonderhede van identiteit, kultuur en geskiedenis.

Maas se kuns-oeuvre word gekenmerk deur sy ondermynende sin vir humor, kulturele kommentaar en ’n diep betrokkenheid by die werklikhede van gemarginaliseerdes en stemloses.

“Ek het lankal ’n sterk oortuiging dat in hierdie tyd waar ons al hoe minder aandag gee aan onlangse geskiedenis, waar dinge so vinnig verander dat ons die lêers moet uitvee om meer spasie te maak, popkultuur ’n groot rol speel om nuwe lewe in geskiedenis te blaas,” sê Maas. “Hulle het dit gedoen met die kykNet-reeks, Fortuinsoekers, en ook met die dokumentêre film Punk in Africa.”

Maas beskryf die 70’s en 80’s in Suid-Afrika as “’n vreemde tyd” wat onder meer onthou word vir die dood van Steve Biko, die bedanking van BJ Vorster, die Soweto-onluste, die Inligtingskandaal en die verbanning van mense soos Winnie Mandela, John Kani en Beyers Naudé. Breyten Breytenbach is tronk toe gestuur weens terrorisme. Die eerste swart Springbok, Errol Tobias, is gekies, en Suid-Afrika het wêreldkampioene in oa swaargewig boks (Gerrie Coetzee) opgelewer.

“Desmond Tutu, Allan Boesak en Jay Naidoo het ’n nuwe pad deur die bos gekap het eerder as om die teerpad te vat,” vertel hy.

“Ons vergeet so vinnig,” voeg hy by.

Hy gebruik verskillende mediums in sy kunswerke. Dit sluit oorspronklike ou koerantfoto’s eerder as bloot net knipsels in.

Deon vertel hoedat hy ‘n ou DDR-tikmasjien op straat in Berlyn (waar hy tans woon) opgetel het, en daarna ook ou skool-tikpapier uit die DDR van die 80’s. Daarby het hy rubberstempels in ‘n bank in Bulgarye raakgeloop. Dié gebruik hy saam met koerantuitknipsels, fotostate, spuit- en waterverf, akriel, bladgoud en Indiese ink.

“Alles is reguit analoog. Die naaste aan tegnologie is die 50-jaar-oue tikmasjien!”

Vir navrae, kontak die Breytenbach Galery by galery@breytenbachsentrum.co.za of WhatsApp by 083 415 0002.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top