Witkraal is die soutplaas waar ek grootgeword geword het, die anker van die familie.
Daar word ek weer herinner aan verlies, spesifiek die dood, hoe dit ons verwar en soms laat voel of dit die einde is.
Die winde in die panne het verkeerdom gewaai,
die swaeltjies het verdwaal, hulle’t omgedraai,
want jy’t huis toe gegaan om nie weer terug te kom,
wat maak ek nou, o liewe son?
Maar dis juis die verliese wat ons dryf om insig te gaan soek. Dit is soos Cohen gesê het, dat die lig inkom deur die krake.
Ek gaan soek toe na die hemel,
want ek’t jou verskriklik gemis
en ek loop en ek loop maar ek kry nie my rus.
Ek roep en ek soek en my voete raak moeg,
maar die pad lei my toe reguit na Witkraal toe.
Witkraal word ’n metafoor vir die hart, die binnekamer waarna die soeke uiteindelik lei en die vrae beantwoord word.
Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Hier’s dit nou: die hemel is binne-in jou.
Die lewe is wat ons daarvan maak en hoe ons besluit om dit te sien. Dit alles kom van binne. Wat jou volgende kreatiewe opdrag is, is nie altyd duidelik nie. Ons is bloot net kanale vir die groter kreatiewe bron wat sy skepping laat ontkiem diep binne jou waar die hemel woon.
Kommentaar
Kosbare lirieke!