Persverklaring: Breyten Breytenbach se lewe en werk op 23 Februarie 2025 by die Breytenbach Sentrum in Wellington gevier

  • 0

Breyten Breytenbach in sy kantoor (foto: verskaf)

Die digter, kunstenaar, skrywer, stryder vir Afrikaans en aktivis vir menseregte, Breyten Breytenbach, se lewe en werk word op 23 Februarie 2025 by die Breytenbach Sentrum in Wellington gevier.

Breyten (85), wat op 16 September 1939 op Bonnievale gebore is, is op 24 November 2024 na ’n siekte in Parys, Frankryk oorlede. Hy is op 3 Desember 2024 in die Père-Lachaise-begraafplaas in Parys ter ruste gelê.

Die begrafnisdiens is op 3 Desember in die Salle de la Couple gehou, waarna hy veras is. Dié beroemde begraafplaas is die laaste rusplek vir baie wêreldgrotes in die geskiedenis, wetenskap en ook die kunste.

Breyten se vrou Yolande, sy dogter Daphnée, skoonseun Tim en kleinseuns Theseus en Orpheus reis vanaf Frankryk om die viering op 23 Februarie 2025 in Breyten se eertydse ouerhuis by te woon. Dit word reeds sedert 2007 as ’n kultuursentrum bedryf.

Volgens Francois Lötter, wat die viering namens die Breytenbach Sentrum organiseer,  is dit ’n hartseer, maar ook grootse geleentheid wat op ’n wyse wat gepas is vir die nalatenskap en statuur van Breyten aangebied sal word.

“Die geleentheid is nie ’n diens nie (dit was in Parys), maar veel eerder ’n viering. Breyten sal (en moet) voortleef in sy skeppings, en deur sy poësie, skryfwerk, kunswerke, stryd teen ongeregtighede, sy menswees, en nog vele meer.

“Die Breytenbach Sentrum het daarom vanjaar ook sy tema #altydbreyten gemaak,” sê Louis Duvenage, voorsitter van die Breytenbach Sentrum Direksie.   

Die Breytenbach Sentrum in Wellington (foto: verskaf)

Die Sentrum kan op Sondag 23 Februarie 2025 vanaf 14:00 besoek word. Gaste kan ’n besondere #altydbreyten-uitstalling in die galerye besigtig, en ook die boekwinkel en digterstuin besoek.

Die koor van Hugenote Hoërskool in Wellington, waar Breyten eens die hoofseun was, sal ter verwelkoming vir gaste van sy getoonsette gedigte en ander liedere in die tuin sing.

Die amptelike program vind van 18:00 tot 20:00 plaas.

Die program word afgesluit met voorlesing deur die digter Antjie Krog van Breyten se gedigte in Engels, tesame met Laurinda Hofmeyr wat van sy getoonsette gedigte sal sing. Hulle sal bygestaan word deur die musikant en baskitaarspeler Schalk Joubert.

Daar sal ook voorlesings wees van Afrikaanse gedigte deur die digter Diana Ferrus, video’s en ’n praatjie deur dr. Francis Galloway, sy biograaf. Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach Galery, sal gesels oor haar en haar man, wyle Ampie Coetzee, se jarelange vriendskap met Breyten en Yolande, terwyl sy dogter, Daphnée, vertellings oor haar pa sal deel. Georges Lory, Breyten se Franse vertaler sal die toespraak wat hy in Frans in Parys gelewer het, in Engels voorlees.

Weens beperkte spasie is dit werklik noodsaaklik dat belangstellendes wat die geleentheid wil bywoon, teen Dinsdag 18 Februarie 2025 versoeke om bespreking stuur na francois@breytenbachsentrum.co.za, of deur hom te Whatsapp na +27 66 289 2212. ’n Waglys-sisteem sal in werking wees.

Die program sal ook direk op die internet gestroom word. Die skakel sal eersdaags op die Breytenbach Sentrum se sosiale platforms (Instagram, Facebook en webblad) bekend gemaak word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top