Persverklaring: Beryl Botman vier derde boek met soirée en swier

  • 0

Skrywer en oudonderwysspesialis Beryl Botman sal haar derde outobiografiese boek, Twee word een: Herinneringe aan 25 jaar saam met Russel Botman, sowel as haar huidige podsendingreeks On her Way with Beryl Botman, bekendstel met ’n genotvolle Celebration Soirée in die Kunstekaapteater op 13 April om 18:30. Die bekroonde musiekduo, Lynelle Kenned en Stefan Lombard, en die bekende jazzmusikant Ramon Alexander sal vermaak verskaf met die gewilde radio- en TV-aanbieder en aktrise Lyntjie Jaars as aanbieder. Kunstekaap se uitvoerende hoof Marlene le Roux sal die gaste verwelkom.

Botman, weduwee van wyle Russel Botman, die eerste niewit rektor van die Universiteit Stellenbosch, het reeds twee outobiografiese boeke gepubliseer wat haar verlies en rouproses beskryf sedert die verlies van haar man in 2014, naamlik Sedert die dood ons skei/With-(out) You in 2022 en Steeds bly die liefde /Still, love remains (2023). Saam beeld hierdie twee outobiografiese nie-fiksie-narratiewe die tydperk van 5 jaar van rou oor hierdie verlies uit.

In haar nuutste boek is sy in gesprek met haar oorlede oumagrootjie oor haar vreugdes en hartseer tydens haar 25-jarige huwelik met Russel Botman. Hierin lig sy voorbeelde uit van hul spesiale oomblikke saam, van verlowing en troue, eerste padreis en laaste oorsese reis tot vieringe en dreigemente, geboortes en sterftes. Sy gebruik die agtien maande periodes aan die begin en einde van daardie liefdesverhouding en huwelik.

Haar podsendingreeks Op Pad met Beryl Botman bou voort op die temas van verlies en rou soos wat weerspieël word in haar eerste twee boeke. Met die opvolgreeks Beryl in gesprek met … gesels sy met verskeie belangrike mense in haar lewe wat betekenis en ondersteuning aan haar gee, en verken sy die passies, belangstellings en impak wat haar gaste het, nie net op haar nie, maar ook in die breër gemeenskap en samelewing. Van hierdie gesprekke is reeds op Facebook, Instagram, YouTube en Spotify vrygestel. Haar gaste sluit in Roxanne Botman, Catherine Saint Jude Pretorius, Belinda Jackson, Marlow Valentine, Ilse Botman, Lynelle Kenned en Marlene le Roux met onderwerpe soos Herskep ’n loopbaan; Ons is nie ons werk nie; ’n Pastoor wat omgee; Liefde vir skoonmense; Sielsusters, om ’n paar te noem.

Die sopraan Lynelle Kenned en klavierbegeleier Stefan Lombard is al vir meer as ’n dekade lank gewild by Suid-Afrikaanse gehore sedert hul samewerking in Kaapstad Opera se Showboat-toer in die Verenigde Koninkryk in 2014. Hulle het ook saam opgetree in bekroonde produksies soos David Kramer se Orpheus in Africa, “Valentines under the Stars”, en die Kaapse Filharmoniese Orkes se gemeenskapsgalakonserte. Hul musikale reis het hulle na treffende bestemmings soos die Namib-woestyn, Hillcrest Quarry, Casa Labia in Muizenberg, en die Klein Karoo Klassique in Oudtshoorn geneem, sowel as ’n onvergeetlike gala-optrede in die ondergrondse grotte van die Güray Keramiekmuseum in Kappadosië, Turkye. In 2025 het hulle die kykNET Fiësta-toekenning vir Ontban (Unbanned) ontvang as die Beste Musiekgedrewe Produksie oor alle Suid-Afrikaanse kunstefeeste heen.

Die ewe-gewilde jazzfoendie Ramon Alexander – ’n gereelde deelnemer by die jaarlikse Kaapstad Internasionale Jazzfees – het al saam met van die beste plaaslike en internasionale jazzmusikante gewerk, insluitend die Amerikaanse jazz-ikoon Hubert Laws, Khaya Mahlangu, Robbie Jansen, Errol Dyers, McCoy Mrubata, Leslie Kleinsmith, Mark Hauser, Tuur Forizone, Frank Paco se Kunsensemble, die Japannese trompetlegende Terumasa Hino en The Cape Jazz Band onder leiding van veteraantromspeler Jack Momple. Met twee albums op sy kerfstok (Picnic at Kontiki, 2011; en Echoes from Louwskloof, 2015), is ​​Alexander die hoof van die jazz-afdeling by die Universiteit Stellenbosch se musiekdepartement. Hy is ook ’n bekroonde kurator, vervaardiger en musikale direkteur by talle kunstefeeste regoor Suid-Afrika.

“Om my storie in my eie stem te vertel – eers skriftelik en daarna deurmiddel van poduitsendings – het perspektiewe van ‘ouer’ en jonger gehore meegebring. Dit moet beslis gevier word! En ’n soiree is net die regte medium om my poduitsendinggaste te vereer, en sommer ook my nuutste boek aan lesers bekend te stel,’ sê Botman.

Vir meer inligting oor die Celebration Soiréee of onderhoude, kontak Botman gerus by 082 829 2442 of beryl.botman60@gmail.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top