
’n Ongewone en diep betekenisvolle kunsuitstalling waarin dierebene as medium gebruik word om temas van verlies, oorlog, kulturele erfenis, herstel en hoop te verken, word van 19 tot 25 September in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument aangebied.
Dié weeklange uitstalling, wat saamval met die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees op 24 September by die Kultuurtuiste, fokus op die konseptuele werke van die Middelburgse kunstenaar Johanna Botha. Haar kunswerke word op dierebene uitgesny en geskilder – ’n unieke kunsvorm wat op besonderse wyse aansluit by die historiese betekenis en emosionele atmosfeer van die Senotaafsaal.
Vir Botha is been veel meer as bloot ’n kunsmedium. Dit verteenwoordig die laaste tasbare oorblyfsel van ’n lewende wese en word in haar werk ’n simbool van verlies en sterflikheid, maar ook van krag, standvastigheid en familieherkoms.
Volgens Botha bied kuns aan haar die geleentheid om emosies uit te druk wat soms moeilik is om te verwoord. “Ek kanaliseer hierdie artistieke reis metafories deur dierebene,” verduidelik sy.
Die kunstenaar verbind haar werk met die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die verwoestende gevolge van die Britse verskroeideaardebeleid onder leiers soos Lord Roberts en Lord Kitchener. Vir Botha simboliseer die bene die verlies en vernietiging wat die oorlog veroorsaak het, asook die blywende emosionele nalatenskap daarvan.
“Die verskroeideaardebeleid was daarop gemik om die Afrikaner se moed te breek, hulle te verswak en tot oorgawe te dwing deur hul hart en siel te vernietig,” sê sy. “Dit het ’n bitterheid gelaat wat vandag nog diep in die Afrikaner se kollektiewe geheue voortleef.”
Die proses waardeur Botha met die bene werk, vorm deel van die betekenis van haar kuns. Sy steriliseer en dissekteer die bene voordat dit in nuwe vorms en kleure getransformeer word. Die oorspronklik wit, steriele been word afgebreek en opnuut opgebou.
Volgens haar verbeeld hierdie proses verandering, aanpassing en oorgang – temas wat nie net op individue van toepassing is nie, maar ook op gemeenskappe en kulture wat deur moeilike tye moes aanpas en voortbestaan.
Die geestelike dimensie van haar werk speel eweneens ’n belangrike rol. Botha verwys na Esegiël 37:4, waar die profeet opdrag kry om oor die doodsbeendere te profeteer. Vir haar bevat dié beeld ’n tydlose boodskap van herstel en nuwe lewe.
“My gebed is vir ’n beter Suid-Afrika; een van herstel en hoop deur Jesus Christus,” sê Botha.
Marize Möller, kurator van die FAK-VTM-Kunsgalery, sê die uitstalling bied ’n besonderse invalshoek op die betekenis van Erfenisdag.
“Hierdie uitstalling herinner ons daaraan dat erfenis nie net iets is waarna ons kyk nie, maar iets waarmee ons in gesprek tree. Botha se werk dra die herinnering aan verlies en vernietiging, maar haar kuns stop nie by die verlede nie. Dit daag ons uit om te besin oor wat ons met daardie nalatenskap doen: bly ons daarin vasgevang, of kan dit transformeer in ’n boodskap van herinnering, versoening en hoop? Daarom is die FAK-VTM-Kunsgalery in die Senotaafsaal die ideale ruimte vir hierdie uitstalling.”
Die uitstalling is ook ’n uitnodiging om tydens Erfenisdag nie bloot terug te kyk op die verlede nie, maar om na te dink oor hoe geskiedenis vandag geïnterpreteer word en watter boodskap dit vir toekomstige geslagte inhou.
Botha se opwipuitstalling kan van 19 tot 25 September 2026 in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument besigtig word.
- Bespreek vandag nog jou kaartjie vir die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees: vtm.org.za/erfenisfees Suid-Afrikaanse burgers kan die Monument op 24 September teen halfprys besoek en die eerste twee kinders per gesin geniet gratis Monument-toegang.

