Ons wil erkenning gee aan mense, jonk en oud, wat stil-stil vir Afrikaans werk. Ons mik veral op mense wat oplossings soek en op die grond ’n verskil vir Afrikaans maak. Hierdie Afrikaans verbind al sy sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat en reik uit na die sprekers van die ander inheemse tale van die land.
Dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR
Die Kokertoekennings gee erkenning aan mense wat besondere bydraes tot Afrikaans maak, naamlik in die volgende kategorieë:
- Die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook bemagtiging deur Afrikaans;
- Spesiale bydraes tot Afrikaans deur jeugdiges (tot en met 35 jaar);
- Lewenslange bydraes tot Afrikaans;
- Afrikaanse onderwyser van die jaar (nuwe kategorie).
Volgens dr Hendrik Theys, voorsitter van die ATR-direksie, gee die Taalraad erkenning aan mense wat op verskeie terreine baanbrekerswerk vir Afrikaans gedoen het en nog steeds doen. “Ons betuig ook ons waardering vir hulle wat help met die bevordering van hierdie jong, dog dinamiese inheemse taal van ’n wesenlike deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap.”
Die wenners vir 2023:
Lewenslange bydrae tot Afrikaans
Prof Victor Nicholas Webb
Bevordering van Afrikaans
Milanie Vosloo
Beskerming van Afrikaans
Prof Debra Meyer
Bemagtiging deur Afrikaans
Joanita Richter
Jeugkoker
Kenan Davids
Beste onderwyser
Carline Janse van Rensburg (International school of Cape Town)