Persverklaring: Aansoeke ingewag vir PEN dit Neer-residensie

  • 0

Die Jakes Gerwel Stigting, in vennootskap met PEN Afrikaans en PEN South Africa, nooi belangstellende skrywers en digters uit om aansoek te doen vir ’n unieke residensie wat gefokusde en ononderbroke skryftyd bied. Hierdie residensie vind plaas vanaf 20 April tot 10 Mei in die rustige en inspirerende omgewing van die Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) in die Oos-Kaap.

Sedert die program in 2019 van stapel gestuur is, het 40 skrywers reeds baat gevind uit die geleentheid om hul werk in ’n ondersteunende en kreatiewe atmosfeer te ontwikkel. Benewens die plaaslike PEN-vennote, word elke jaar ’n buitelandse PEN-sentrum genooi om ’n deelnemer se internasionale reiskostes te dek. Vanjaar is PEN Eritrea die internasionale vennoot, wat verdere geleenthede skep vir die uitruil van idees tussen skrywers van uiteenlopende agtergronde.

Belangstellendes moet teen 30 Januarie aanlyn aansoek doen op die Jakes Gerwel Stigting se webwerf: www.jgf.org.za. Aansoekers moet motiveer waarom ’n wegbreek en gefokusde skryftyd noodsaaklik is om die voorgestelde projek te kan skryf. Daar is geen mentorskap betrokke nie, en daarom moet die skrywer voorts die beoordelingspaneel oortuig dat hy/sy op eie stoom kan skryf. Die projekvoorstel moet verder uniek wees en bydra tot die verryking van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Alhoewel dit nie verpligtend is nie, tel ’n ondersteuningsbrief van ’n uitgewer in die guns van die aansoeker.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die suksesvolle kandidate se reis- en verblyfkostes, asook drie maaltye per dag. Die residensie vind plaas vanaf 20 April tot 10 Mei 2026.

Vir verdere inligting of navrae, kontak asseblief Theo Kemp by theo@jgf.org.za

Oor die Jakes Gerwel Stigting

Die Jakes Gerwel Stigting is ’n nie-winsgewende organisasie wat die nalatenskap van prof. Jakes Gerwel eer deur projekte te ondersteun wat geletterdheid, skryfwerk, opvoeding en sosiale geregtigheid bevorder. Vanuit sy basis in die Paulet Huis in KwaNojoli bied die Stigting residensies, opleidingsgeleenthede en gemeenskapsprogramme aan wat die krag van stories en idees gebruik om ’n meer regverdige en inklusiewe samelewing te help bou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top