
Grafika verskaf deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Die jaarlikse Studentesimposium in die Natuurwetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) word op 29 en 30 Oktober by die SA Akademiekantoor in Pretoria aangebied. Die simposium word gereël deur die Akademiekantoor in samewerking met die Kommissie vir Natuurwetenskappe en die Afdeling vir Natuurwetenskappe en Tegnologie van die SA Akademie, in oorleg met akademiese rolspelers en vakspesialiste. Die simposium is op alle natuurwetenskaplike vakgebiede gerig en bied aan nagraadse studente die geleentheid om hul navorsingsresultate in ’n interdissiplinêre omgewing in Afrikaans aan te bied.
Nagraadse studente word genooi om hul navorsing by die studentesimposium aan te bied, hetsy as ’n referaat (15 minute) of ’n flitsaanbieding (5 minute). Niemoedertaalsprekers van Afrikaans word aangemoedig om ook deel te neem. Hierdie simposium ondersteun die missie van die SA Akademie direk deur die versterking en uitbouing van Afrikaans as akademiese taal, ook in die natuurwetenskappe.
Studente wat ’n referaat of ’n flitsaanbieding wil lewer, sowel as voornemende simposiumgangers, moet op die simposiumwebwerf registreer. Die vereiste opsomming vir deelname moet tydens registrasie teen 4 September ook op hierdie webwerf gelaai word. Deelnemers sal teen 18 September per e-pos in kennis gestel word of hul opsommings vir aanbieding by die simposium aanvaar is.
’n Nie-terugbetaalbare registrasiefooi van R800 is eers ná 18 September betaalbaar.
Alle aanbiedings word beoordeel en pryse sal toegeken word, insluitend ’n spesiale prys vir die beste aanbieding deur ’n niemoedertaalspreker van Afrikaans. Uitgebreide opsommings van geselekteerde referate sal in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer word.
Registrasiesluitingsdatums:
- Aanbieders: 4 September
- Ander simposiumgangers: 22 Oktober
Navrae: akademie@akademie.co.za


