
22 van die land se voorste skrywers in verskillende genres, het hul tyd en talente ingespan om saam aan ’n enkele roman te skryf.
Die Klerksdorpse skrywer en resensent, Stefaans Coetzee, het die Life FM | Sanctuary Boekfees-projek vir meer as twee jaar gekoördineer. Hy skryf op Facebook dat ’n roman wat deur vele skrywers geskryf sou word, aanvanklik na ’n blink idee geklink het, en hy kon nie verstaan hoekom dit nog nooit gedoen is nie.
En toe is dit al gedoen!
In 1999, die jaar toe LitNet gestig is, het Etienne van Heerden en Jaco Botha (as assistenredakteur) skrywers genooi om elke maand by te dra tot Die rooi roman, die eerste roman wat oor die internet geskryf is, en ook deur ’n veelheid van skrywers.
Die roman is toe in 1999 deur Human & Rousseau uitgegee met ’n verrassende slothoofstuk wat niemand nog gesien het nie.
Coetzee het steeds gedink dis ’n goeie idee om weer so ’n projek aan te pak en het sy gedagte eerste met Louise van der Merwe, ’n plaaslike Romanza-skrywer, bespreek en op haar aanbeveling vir die jeugskrywer, sanger en Pukke-lektor, Constant van Graan, genader om die epiese fantasie-verhaal uit te werk.
Daarna is die skrywers gekontak. Madelein Rust, Dibi Breytenbach, Annerle Barnard, Sidney Gilroy, Elsa Winckler, Hannes Barnard, Stefan Enslin, Duane Aslett, Jan Vermeulen, Henk Breytenbach, Didi Potgieter, Brian Fredericks, Ferdie Swanepoel, Erla Diedericks, René van Zyl, Christelle Van Rooyen Wessels, Irna van Zyl en Kerneels Breytenbach is van die skrywers wat saamgeskryf het.
“Dibi het my vroeg-vroeg goeie raad gegee,” skryf Stefaans: “Sy en haar skrywer-broer, Henk, het saam aan ’n boek geskryf, maar mekaar probeer vasskryf. Op die ou einde het hulle die boek doodgeskryf.”
Die idee van die groeproman word toe dat elke skrywer slegs een hoofstuk skryf.
“22 weke en ons is klaar,” het Coetzee vas geglo, maar Covid en skrywers se spertye het die proses vertraag. Ander skrywers het onttrek en nuwe stemme is gekontak. Die uitvoerbaarheid van die projek het meer skryf- en gesinstyd opgeneem as wat hy voorsien het. Daar was tye dat hy die projek net laat staan het om asem te haal.
Was dit nie dat hy skrywers nader aan die einde meer vryheid gegee het nie, sou ’n groeproman ’n droom gebly het.
En skielik is die droom hier. Op 1 April word die groeproman, Op pad na Grysberg, deur Naledi-uitgewers uitgegee.
Dibi Breytenbach sê in 'n video op Facebook dat sy super opgewonde is, want net soos die lesers weet sy nie hoe die boek eindig nie. Elke skrywer kon net die hoofstukke voor haar/hom lees, en daarna niks.
Ferdie Swanepoel, eienaar van Life FM wat self 'n hoofstuk geskryf het, sê dit wys jou net hoeveel vertroue die skrywers in mekaar het.
Dit is net Coetzee en Kerneels Breytenbach wat die laaste hoofstuk neergepen het, wat weet hoe die boek eindig.


Kommentaar
Oh wow! Sien uit.