Persverklaring: 20ste Artscape Women’s Humanity Festival vir die gemeenskap deur die gemeenskap!

  • 0

Stappers van die Artscape Women's Humanity Walk op Vrouedag neem daadwerklike aksie saam met Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap.

Toe Rahima Moosa, Lilian Ngoyi, Sophie Williams-de Bruyn en Helen Joseph op 9 Augustus in 1956 die 20 000 vroue na die apartheidsregering se hoofkwartiere by die Uniegeboue in Pretoria lei, was dit met petisies van oor die 100 000 handtekeninge wat ongeregtigheid onomwonde verwerp. Vir 30 minute het hulle in absolute stilte gestaan ​​voordat hulle hul kreet uiter: “Wathint’ Abafazi Wathint’ imbokodo!” (You strike a woman, you strike a rock!)

Dié jongmense van die Cape Town Interfaith Initiative het seënbede geoffer.

Dit is hierdie moed, veerkragtigheid, verset en gesamentlike optrede van uiteenlopende vroue teen die brutaliteit van apartheid wat uitdruklik nee sê vir ongeregtigheid, en veral die drakoniese ‘dompas’, wat die sleutelpilare vorm van vanjaar se Artscape Women’s Humanity Festival en vorige aanbiedings daarvan.  Vanjaar se 20ste aanbieding, in samewerking met Woman Zone, is weer eens sorgvuldig saamgestel deur uiteenlopende gemeenskapsbelanghebbendes, vir die uitsluitlike doel om ons gemeenskappe bymekaar te bring – vroue, persone met gestremdhede, die LGBTQIA+-gemeenskap, uitvoerende kunstenaars, NRO’s, die burgerlike samelewing, intergeloofsgroepe, die jeug, gemeenskapsleiers, wyksraadslede, mediapersoonlikhede, geslagsaktiviste, akademici, en aktiviste wat die kunste as platform vir aksie gebruik, om te besin oor hoe ver ons land gevorder het oor die afgelope 70 jaar ná die ikoniese Vroueoptog.

Artscape Women’s Humanity Festival-program versterk die kragtige aksie van 1956

Jaar na jaar, vir die afgelope 20 jaar, het die Artscape Women’s Humanity Festival ’n spreekbuis geword vir diegene wat voorheen uitgesluit is, deur kunswerke te onthul, veerkragtigheid te vier,  beywering vir ’n gelyke samelewing, ’n staptog vir menslikheid, boekbekendstellings, dokumentêre filmvertonings, teaterproduksies, dans, sang, uitstallings, werkswinkels, petisies teen geslagsgebaseerde geweld en uitsluiting, openbare besprekings wat stilte uitdaag – ’n maandlange program geïnspireer deur die kragtige aksie  van gewone vroue in 1956.

Die Bonteheuwel Walking Ladies laat hul stem hoor teen GBV en uitsluiting.

In my toespraak by die onlangse Gender Sensitisation Workshop van die 2026 Commonwealth Women Parliamentarians (CWP) Africa Region by die Wes-Kaapse Wetgewer in Kaapstad, het ek gefokus op hoe ons by Kunstekaap die kunste en gemeenskapsbetrokkenheid benut om skadelike stereotipes af te breek en inklusiewe narratiewe te bevorder. By ons jaarlikse Humanity Walk op Sondag – in die reën! – was dit persone met gestremdhede en lede van die LGBTQIA+-gemeenskap wat die staptog saam met die Bonteheuwel Walking Ladies gelei het – ’n unieke gebeurtenis wat selde elders gesien word.

Goed op papier, stukkend in die praktyk

My toespraak by die CWP Gender Workshop het ook ’n sleuteluitdaging in ons regstelsel uitgelig: Ons land spog met een van die wêreld se progressiefste grondwette, maar vroue met gestremdhede trek polities steeds aan die kortste ent: die beste wette maar gebrekkige implementering. Dieselfde kan gesê word oor die plaag van geslagsgebaseerde geweld in ons land en die gebrek aan insluiting van alle mense.

Die Artscape Women's Humanity Walk is die toonbeeld van insluiting van, onder andere, persone met gestremdhede en die LGBTQIA+gemeenskap.

Hierdie feit is duidelik beklemtoon by die Artscape Women’s Humanity Festival in ’n paneelbespreking oor hierdie onderwerp onder leiding van die radiopersoonlikheid Lester Kiewit. Paneellede het ingesluit Gertrude Fester-Wicomb, voormalige Kunstekaap-direksielid (1994) en voormalige kommissaris van die Geslagsgelykheidskommissie; Bonnie Currie-Gamwo, NVG-advokaat en spesialis oor Thuthuzela-sorgsentrums; ’n lid van die GBV-aktivisorganisasie Women for Change; pastoor Craven Engel, uitvoerende hoof van The First Community Resource Centre in Hanover Park; gestremdheidsaktivis Notukela Makohliso; en skrywer en LGBTQIA+-aktivis Dianne du Toit Albertze.

Daar is gekyk na die aksies wat reeds gedoen is asook dit wat steeds nodig is om die voortdurende uitdagings in gemarginaliseerde gemeenskappe aan te pak. Die paneellede het saamgestem dat  behoorlike toerekenbaarheid en implementering deur diegene in magsposisies dringend geprioritiseer moet word.

Humanity Walk verbreek die stilte

Geïnspireer deur die helde van die ikoniese Vroueoptog, gaan die Artscape Women’s Humanity Walk op Nasionale Vrouedag vanaf die Kaapstad-burgersentrum na die Kunstekaap-gebou oor vroue wat daadwerklik tot aksie oorgaan. Dit het uiteenlopende gemeenskappe, persone met gestremdhede, die LGBTQIA+-gemeenskap, NRO’s, die burgerlike samelewing, intergeloofsgemeenskappe, die jeug en kunstenaars bymekaargebring.  Ons het almal saam hande gevat en besin oor hoe ons gesamentlik die verandering in ons gemeenskappe, in ons samelewing, in die kunste, in die werkplek, in ons gesinne kan verwesenlik. Deelnemers het ’n oomblik van stilte gehou voordat hulle hul maskers verwyder en gesamentlik verklaar het: “Stop die stilte!”, in samewerking met Women for Change. Hierdie kragtige daad simboliseer ’n verenigde standpunt teen geslagsgebaseerde geweld, diskriminasie en die stilmaak van gemarginaliseerde stemme.

Jong intergeloofsleiers het seënbede geoffer, geestelike dansers het saam met die Kaapse popsensasie Jimmy Nevis opgetree wat sy anti-GBV-liedjie “Prey” sing: ’n gebed dat geen mens ooit ’n slagoffer van hierdie plaag moet word nie! Die bekende diva van Mitchells Plain, Salome – ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld wat ook voorheen aan tik verslaaf was – het die verhoog gedeel met Michael September, die voorsitter van Lief en Leed vir persone met gestremdhede in Mamre. Albei het die belangrikheid beklemtoon van so ’n platform om uitdrukking te kan gee aan gemeenskaplike behoeftes vir aanvaarding, hulpbronne en daadwerklike verandering as deel van ’n groter groep mense. Die geleentheid is afgesluit met ’n impromptu optrede deur Salome, en seënbede deur jong lede van die Cape Town Interfaith Initiative – ’n viering van hoop, eenheid en ons gedeelde menslikheid, asook gesamentlike aksie wat blywende verandering inspireer.

Die Artscape Humanity Walk beklemtoon dus die oproep om die stereotipering, vooroordeel, en geslagsgebaseerde geweld te stop, om menslikheid te bevorder, en te onthou: elke persoon se lewe maak saak. Dit is ’n voortdurende aksie teen geslagsgebaseerde geweld, onreg, diskriminasie, stereotipering en vooroordeel, maar ook ’n voortdurende aksie vir geleenthede en hulpbronne, persone met gestremdhede, vroue, die jeug, insluiting, eenheid, geregtigheid, en vrede. Dit is ’n ope oproep aan die regering om wette aktief te implimenteer, voldoende befondsing beskikbaar te stel en versterk, en bestaande wetlike raamwerke uit te brei om sodoende die beskerming en insluiting van ons gemarginaliseerde burgers te verseker. Die Artscape Women’s Humanity Festival dien as ’n doeltreffende model van hoe ’n staatsinstelling sy mandaat gebruik om diverse gemeenskappe bymekaar te bring wat gesamentlik krag, prestasies, moed, uitdrukking, artistieke bekwaamheid vier, en ’n veilige ruimte bied waar almal behoort, waar elke lewe saak maak.

ABFAB-drag, Divalicious Dames en Bottelnek Breek Bek

Met uitverkoopte produksies soos die jaarlikse ABFAB-dragvertoning, Divalicious Dames, en Bottelnek Breek Bek-toneelstuk en -boekbekendstelling, het die Artscape Women’s Humanity Festival bewys dis ’n ruimte wat alle geslagsuitdrukkings omarm en die stereotipering van LGBTQIA+-persone verbreek, teen wie steeds daagliks in die samelewing gediskrimineer word.  So onlangs as Mei vanjaar was LGBTQIA+-aktiviste en belangeorganisasies geskok deur die vryspraak van ’n man wat beskuldig word van ’n beweerde “regstellende” verkragting van ’n lesbiese tiener op 1 Januarie 2020. Die uitspraak het die debat heropen oor die uitdagings waarmee LGBTQIA+-oorlewendes te kampe het wanneer hulle geregtigheid in Suid-Afrika soek, veral in sake oor haatgeweld. Die bogenoemde produksies, en veral die ABFAB-drag, was van die hooftrekpleisters by die jaarlikse Artscape Women’s Humanity Festival, wat Kunstekaap se verbintenis tot ’n plek vir almal bevestig.

Ons staan op die breë skouers van sterk vroue: Dr. Mildred Ramakaba-Lesiea vereer

(Voor regs) Mildred Ramakaba-Lesiea (93) en haar dogters hier saam met Marlene Le Roux (Kunstekaap se uitvoerende hoof).

Vanjaar was ons bevoorreg om Mildred (Mme) Ramakaba-Lesiea (93), veteraanaktivis van Langa/Gugulethu, by die Artscape Women’s Humanity Festival te vereer met ’n humanitêre toekenning vir haar belangrike rol in die mobilisering van Kaapstadse vroue vir die Vroueoptog in 1956, asook andere veldtogte teen ongeregtigheid. Sy is ook in 2017 deur die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) vereer met ’n eredoktorsgraad in publieke bestuur. Mme Ramakaba-Lesiea het vertel hoe sy en ander vroue se opstand teen apartheid gelei het tot talle huisarrestasies. Sy was ook die eerste vrou wat in die Pollsmoor-gevangenis aangehou is as ’n politieke gevangene. Haar waardering vir die erkenning in die teenwoordigheid van haar dogters, beklemtoon die belangrikheid van die Artscape Women's Humanity Festival as ’n medium waar opofferings wat deur sterk vroue gemaak word, erken word om sodoende die jonger geslag te motiveer om die heldhaftige verhale van ons sterk vroue te vertel deur middel van onder meer sang, dans, geskrewe werk en artistieke optredes.

EVERYWOMAN-tekstielkunswerke herdenk 70 jaar van vroue in aksie

Aangespoor tot aksie deur die helde van 1956, het gemeenskapsvrywilligers van verskeie vlakke van die samelewing saamgewerk om twee pragtige, handgemaakte EVERYWOMAN-tekstielkunswerke te skep wat ons tydens vanjaar se Artscape Women’s Humanity Festival onthul het: onderskeidelik om die historiese Vroueoptog te herdenk en die Kunstekaap-gebou se 55ste bestaansjaar ​​te vier. Elke naaldwerksteek vertel die verhaal van moed, weerstand, uitdagings, veerkragtigheid, krag en hoop: ’n wonderlike geskenk van die gemeenskap aan ’n regeringsinstelling – nog ’n bewys Kunstekaap is werklik ’n plek vir almal. Hierdie kwilte sal vir jare in die Kunstekaap-gebou hang. Hiervoor is ons dankbaar vir Woman Zone – een van ons geassosieerde organisasies in ons gebou wat al vir die afgelope 13 jaar met ons saamwerk – vir hul leiding en aksie om die Artscape Women’s Humanity Festival ’n impakvolle en onvergeetlike gebeurtenis te maak. Ek is amper seker Kunstekaap is ook die enigste staatsteater met haar eie vroueorganisasie wat vrouekwessies en -prestasies beklemtoon, boekbekendstellings en dokumentêre filmertonings deur vroulike skrywers en filmmakers aanbied, asook treffende kunsvlyt skep – aksies wat die voetspoor van die helde van 1956 verbreed.

Bones-dokumentêr: Sara Baartman se oorskot kom huis toe

Vanjaar was ons ook bevoorreg om die moed van die jong UK-meesterstudent en filmmaker Nomandla Vilakazi te erken en te vier, vir haar dokumentêre film Bones – ’n aangrypende dokumentêr oor die repatriasie van Sara “Saartjie” Baartman se oorskot van die Musée de l'Homme in Parys, Frankryk, na Suid-Afrika in Mei 2002, nadat dit vir byna twee eeue in Parys aangehou is. Bones is geïnspireer deur Nomandla se gemengde afkoms wat Khoi-erfenis insluit.  Sara Baartman se repatriasie na Suid-Afrika is aangevuur deur die ikoniese gedig deur wyle Diana Ferrus, ‘Ek het gekom om jou huis toe te neem’, wat pleit vir haar terugkeer. Sy is uiteindelik op 9 Augustus 2002 – Nasionale Vrouedag – in Hankey in die Oos-Kaap ter ruste gelê om saam met ons helde van 1956 herdenk te word. Nomandla se dokumentêr moedig diepgaande besinning oor die diepgewortelde geskiedenis van geslagsgebaseerde geweld en die objektivering en mishandeling wat ons Eerste Nasies-vroue tydens kolonisasie ervaar het. Dit beklemtoon ook die verlies aan kulturele erfenis en die dringende behoefte aan repatriasie en herstel.

Bekendstelling van boek Lilian Ngoyi – a Life, deur Martha Evans

Woman Zone sal eersdaags drie boeke deur vroulike skrywers by vanjaar se Artscape Women’s Humanity Festival bekendstel, wat hulle opvolg met onderhoude met die skrywers. Die onlangs vrygestelde boek Lilian Ngoyi – a Life deur Martha Evans belig die dapperheid en intellek van een van die sleutelargitekte van die historiese Vroueoptog in 1956, ’n dinamiese orator en die eerste vrou wat tot die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee verkies is.

Choreographing Rebellion: Dance practice from South Africa to Japan deur danser Jackï Job gee ’n kragtige outo-etnografiese weergawe van choreografie oor identiteit, dekolonisasie en transformasie vanuit ’n feministiese oogpunt. Die boek is oor drie dekades ontwikkel deur die Suid-Afrikaans gebore skrywer wat in beide Suid-Afrika en Japan werk.

Chasing Deadlines, ’n memoir deur joernalis Rusana Philander, neem lesers verder as die nuuskantoor op ’n diep persoonlike reis.

Die maandlange Artscape Women’s Humanity Festival – wat op 31 Augustus eindig – is wyd gepubliseer op alle hoofmediaplatforms, in dagkoerante, aanlynpublikasies, en op televisie – SABC, eNCA, Expresso Morning Breakfast Show, Cape Town TV – sowel as in verskeie gemeenskapskoerante. Hierdie hoë sigbaarheid weerspieël die status daarvan as ’n gerespekteerde, impakvolle jaarlikse geleentheid van 20 jaar wat gemeenskappe van alle agtergronde bymekaarbring om aktief te reageer op die uitdaging en leierskap van die Vroueoptog van 1956. Hul beslissende daad van verset, weerstand, moed en krag beweeg ons om ons platforms te gebruik, om die kunste te gebruik, as mediums om te sê: Genoeg is genoeg! Niks oor ons sonder ons nie! Voorwaarts marsjeer ons!

  • Marlene le Roux is die uitvoerende hoof van die Kunstekaap-teatersentrum.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top