
Uitgewers word hartlik uitgenooi om weer boeke voor te lê vir die 2023 kykNET-Rapport Boekpryse.
Die pryse het ten doel om die ryk korpus van die Afrikaanse letterkunde uit te brei deur skrywers finansieel te bemagtig vir die navorsing en skep van nuwe werk. Dit word toegeken in die volgende kategorieë:
- Beste Afrikaanse volwasse roman (R300 000)
- Beste Afrikaanse niefiksie-boek (R300 000)
- Afrikaanse roman of niefiksie-boek met die meeste filmiese potensiaal (R155 000)
Dit is ’n letterkunde toekenning. Die sameroeper wil nie graag deelname beperk nie, maar versoek uitgewers vriendelik om goeie oordeel aan die dag te lê by die voorlegging van boeke in die verskillende kategorieë. As die volgende vrae ’n ja-antwoord het, kwalifiseer die boeke vir inskrywing:
Fiksie
Is dit ’n boek wat die bekende vreemd maak, een wat die verbeelding aanvuur? Wat in tema die nuwe aandurf, in taalgebruik die reikwydte van Afrikaans vergroot, in diepgang meer as een lesing inhou, en wat die groot gesprek van die Afrikaanse en wêreldletterkunde verder voer op ’n manier wat die geïnteresseerde leser nie agterlaat nie?
Niefiksie
Is dit ’n noodsaaklike boek om te lees vir die verdieping en verbreding van ons begrip van die wêreld? Spreek die boek van grasie en empatie, of andersyds, skok dit die onwillige begryper tot nuwe insig? Kan dit saamgesels met die beste in die wêreld? Is dit gevestig in diepgaande navorsing, gekonstrueer om die inhoud ten beste oor te dra, en gebou met hoogs effektiewe Afrikaans?
Filmtoekenning
Is die tema geskik om aangepas te word as ’n rolprent, televisiereeks of dokumentêre program? (As jy die verhaal in ’n sin saamvat, kan jy dit op ’n plakkaat sien?)
Is dit bekostigbaar? Die finansiële realiteit van die rolprentbedryf sluit kommersialiteit in.
Amptelike reëls
1. Slegs gepubliseerde boeke wat tussen 1 Januarie 2022 en 31 Desember 2022 verskyn het, kom in aanmerking vir die kykNET-Rapport Boekpryse. Let asb streng op die reëls vir deelname. Die sameroeper is nie verantwoordelik vir boeke wat verkeerdelik voorgelê is nie.
2. Skrywers se toestemming moet in alle gevalle vooraf verkry word.
3. Geen selfpublikasies word oorweeg nie.
4. Boeke moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees. Indien boeke gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn het, kom die Afrikaanse uitgawe in aanmerking vir die prys mits dit deur die skrywer self vertaal is.
5. Biografieë val onder niefiksie en mag nie in albei kategorieë ingeskryf word nie.
6. Die besluite van die keurders is finaal.
7. Uitgewers sal in kennis gestel word van boeke op die kortlys en versoek word om so gou doenlik die sameroeper te voorsien van die volgende:
- ’n goeie gehalte foto van die skrywer
- bondige biografiese gegewens
- skriftelike toestemming dat gratis uittreksels van boeke op die kortlys in Rapport en op LitNet mag verskyn.
8. Geen inskrywingsfooi is betaalbaar nie.
9. Voltooide inskrywingsvorms vir die kykNET-Rapport Boekpryse sowel as 10 eksemplare van elke boek moet die sameroeper bereik voor of op die sperdatum: 2 Desember 2022. Boeke wat na hierdie datum verskyn, moet asb apart gekoerier word.
Laai die inskrywingsvorm hier af.
Geen versendings voor 15 November 2022 sal aanvaar word nie.
Adres waarheen boeke per koerier versend moet word:
Mev Hettie Scholtz
kykNET-Rapport Boekpryse
Knightsbridge Gardens 3
Otto du Plessisstraat 28
Helderrand
Somerset-Wes 7130
084 583 0272
Nota aan koerier: Die adres is in ’n kompleks. Skakel asb die sameroeper by die hek om toegang te kry.
Rig alle navrae aan die sameroeper:
Hettie Scholtz
scholtz5@mweb.co.za
084 583 0272


Kommentaar
Is ek laat vir die boekvoorlegging?