Penseel
Penseel is die Departement Afrikaans en Nederlands (US) se studentebundel en word saamgestel en uitgegee deur die VER[r]AS-komitee (VER[r]AS – die Vereniging vir Afrikaansstudente)
Teoretici wat hulle met identiteitskwessies besig hou, noem drie aspekte wat gebruik kan word om identiteit te beskryf: die statistiese en feitelike gegewens oor die betrokke saak of groep, die manier waarop die saak of groep van binne uit beskou word, en die siening van buite oor die saak of die groep. Dit sou net so van toepassing gemaak kan word op taal en tale, maar by ’n taal kom daar, soos ek dit sien, nog iets belangriks by. Al sou daar statisties baie sprekers van Afrikaans wees en al sou Afrikaanssprekendes baie positief voel oor die taal, is dit ook belangrik en betekenisvol wat en hoe en hoeveel daar in daardie taal geskryf word. Die Afrikaanse letterkunde is in hierdie opsig ’n belangrike merker oor die vermoë en ook oor die stand van Afrikaans. Amptelik, dus van buite gesien, is die taal nie gewild nie, word die taal geknyp en afgeskaal, en tog word daar baie “letterkunde” oor ’n wye spektrum geskryf in Afrikaans – as mens natuurlik die begrip letterkunde oop en los opneem: gevestigde skrywers skryf voort en is produktief; dit is opvallend hoe daar in Afrikaans baie skrywers is wat tot op ’n hoë ouderdom aktief skryf; op die internet word daar baie Afrikaans gepubliseer; baie mens sing in Afrikaans (ook op verskillende vlakke van geslaagdheid); studente en jongmense skryf en wil skryf; skryfskole, veral nie-akademiese skryfkursusse, gedy en skryfkuns as vak groei.
Daarom is dit verblydend dat studente op eie stoom en uit eie geledere hulle skryfpogings bymekaarbring en uitgee. Dit gebeur by verskillende universiteite en is iets wat aangemoedig en aangeprys behoort te word, want hierdie onselfbewuste en selfs naïewe skryfoefeninge verskaf nie net ’n breë basis waarop latere skryfwerk as ’n piek kan voortbou nie, maar is as ’n oefenskool baie nodig. Jong skrywers skryf hoofsaaklik uit emosionele opwelling, hetsy ontroering of ontsteltenis, maar om jou eie skryfsels op papier en meer nog in boekvorm te sien, verskaf ’n bepaalde afstand wat die skrywer self (soms) laat sien wat kan werk en wat glad nie werk nie.
Hierdie bundel vertoon dan ook inderdaad al die eienskappe van sulke studentewerk. Die onderwerpe en temas val in twee groepe uiteen: sosio-ekonomiese en sosio-politieke kwessies en persoonlike emosies en ervarings. Uiteraard sal die Suid-Afrikaanse politieke agtergrond en die vroeëre en huidige stand van kulturele en politieke verhoudinge prominent figureer. Daar is dan ook in die bundel heelparty gedigte oor sosiale ongelykheid, identiteitskwessies, armoede en swaarkry, maar die meeste verse gaan oor persoonlike belewenis: selfontdekking, persoonlike en seksuele identiteit, teleurstelling, liefdesontnugtering en afskeid. Dit is natuurlik dat hierdie soort tematiek oorheers, maar jong digters moet wel bewus gemaak word daarvan dat die woordjie “ek” liefs nie oorgebruik moet word in die poësie nie. Dis ’n woord wat gou die oë van die leser vermoei!
Wat die toonaard van die gedigte betref, vind mens ook die jeugdige oormoed en selfversekering wat tekens is van lewenskragtigheid en die strewe en vermoë om nuut te kan kyk en dink. Daar is ook jeugdige sinisme en ontnugtering, die skerpheid waarmee jongmense dinge beleef. Jongmense hoef nog nie die probleme op te los nie – hulle kan dit ontmasker, dit uitlewer; hulle kan aankla en sinies wees met oorgawe. Dis hulle reg om deur hierdie fase te gaan. Wat mens veral opval, is die tydgenootlike ingesteldheid om liewer te ontluister as om te waardeer of aan te prys, en dit kan begryp word, want dit is inderdaad die toonaard waarin Suid-Afrikaners tans leef. Ook die voorliefde vir skoktaktiek en skokkende gegewens en ’n skokkende houding teenoor die werklikheid, ook ’n voorkeur vir die dramatiese, kom bykans regdeur voor.
Dit is wel jammer dat as mens na die bundel in sy geheel kyk, daar baie min tekens is dat die skrywers iets van die poësie as ’n genre of gewoon net as ’n bepaalde soort taalaktiwiteit weet, want daar is bloedweinig tekens van poëtiese werkwyses of strategieë (en ek praat nie van gevorderde poëtiese tegniek nie). Ek begryp dat hierdie skrywers nie noodwendig taalstudente of self skryfkunsstudente is nie, maar enige mens kan lees, en as jy, selfs net op ’n gematigde manier, die behoefte aan skryf of die belangstelling in skryf het, behoort jy te lees, veral in die genre waarin jy graag wil skryf. Die enigste bewys dat die skrywers wel lees, is enkele verse waarin mens die invloed van ’n bekende digter soos Antjie Krog kan raaklees (in ’n enkele geval is die gedig ook direk in gesprek met Krog, wat wys dat hierdie skrywer Krog se werk goed ken). Daar is ook gedigte wat, hoewel naïef, ’n opregtheid weerspieël en so aantreklik is, maar baie van die gedigte is gewoon prosaïese uitsprake wat in versreëls aangebied word.
Hiermee wil ek die pogings glad nie afmaak nie – juis nie – maar dit is belangrik dat publikasies soos hierdie vir die skrywers as ’n leerskool en as ’n oefengeleentheid sal werk. Hierdie jong skrywers wíl skryf, en hulle doen dit ook inderdaad; die drang en die toewyding is daar, maar die poësie is ook maar ’n bedryf met sy eie moontlikhede (en beperkinge). En elke vakman moet sy vak verken en leer ken om dit goed te kan beoefen. Met eksperimentering en oefening kan baie van hierdie skrywers goeie gedigte maak en ek hoop van harte dat dit sal gebeur.
Die bundel is betreklik goed versorg. Setfoutjies sal daar altyd wees, hoewel ek nogal gewonder het of “skyfdeur” en “maaitjies” setfoute of spelfoute is.
Ek wil VER(r)AS gelukwens met die bundel en mens hou duim vas dat hulle in die toekoms steeds die energie en toewyding sal vind om nog baie sulke bundels te laat verskyn.
- Fokusprent: foto deur Carla Watson
- Lees ook: Penseel-bekendstelling: fotogalery
Kommentaar
uit lote groei twygies en word takkies. heelwat later, na jare, altemit bome ... PENSEEL het 'n ou-ou geskiedenis, met in die vroeë sewentigs se studente soos Marlene van Niekerk en Fanie Olivier wat daar gedebuteer het ... seg ek maar, stilletjies, agteraf, brommend by myself, alleen ... maar weet van dié wat weet ...