PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Rudie van Rensburg, Lien Botha en Karel Schoeman

  • 0

Na afloop van die Mei 2018-sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat opgerig is met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sal die volgende drie vertalings befonds word:

  • ’n Nederlandse vertaling van Slagyster deur Rudie van Rensburg
  • ’n Nederlandse vertaling van Wonderboom deur Lien Botha
  • ’n Nederlandse vertaling van Die hemeltuin deur Karel Schoeman.

Slagyster, Rudie van Rensburg se debuut as spanningsverhaalskrywer, sal by Uitgeverij Conserve verskyn. Uitgeverij Conserve het oor hul 35 bestaansjare veral bekend geword vir die literêr-historiese werke wat hul publiseer, maar brei hier hul lys misdaadromans uit deur die toevoeging van die eerste boek in Van Rensburg se topverkoper-reeks met Inspekteur Kassie Kasselman aan die stuur. Volgens uitgewer Kees de Bakker is Van Rensburg se werk “even spannend en prikkelend als dat van Deon Meyer”. Jente Rhebergen sal die roman in Nederlands vertaal. Slagyster het oorspronklik in 2013 by Queillerie, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskyn.

Zirimiri Press, ’n onafhanklike uitgewery wat sedert hul ontstaan in 2009 fokus op die vertaling van literatuur uit ander tale, veral kleiner en minder-vertaalde tale, sal Lien Botha se bekroonde debuut Wonderboom in Nederlands uitgee. Wonderboom het in 2014 by Queillerie verskyn en is nie net aangewys as die Huisgenoot Tempo Boek van die Jaar vir 2016 nie, maar het ook aan Botha die Jan Rabie-Rapportprys 2016 en Eugene Marais-prys 2017 besorg. Robert Dorsman, ’n vooraanstaande vertaler van beide poësie en prosa, sal die Nederlandse vertaling behartig. Hy het voorheen werk van onder meer Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Olive Schreiner, Achmat Dangor, K. Sello Duiker en Etienne van Heerden vertaal.

Uitgeverij Aldo Manuzio voeg Die hemeltuin deur Karel Schoeman by hul groeiende lys Nederlandse vertalings van Afrikaanse romans. Die hemeltuin het oorspronklik in 1979 by Human & Rousseau verskyn. In ’n resensie beskryf JP Smuts die roman as “’n werk wat die skrywer se krag toon . . . Binne sy oeuvre is dit een van sy beste werke.”

Rob van der Veer sal die Nederlandse vertaling behartig. Bestaande vertalings deur Van der Veer sluit in: Hierdie lewe, Die uur van die engel en Verliesfontein deur Karel Schoeman, Kroniek van Perdepoort deur Anna M Louw en Buys deur Willem Anker. Laasgenoemde is in samewerking met Karina van Santen vertaal. 

Aldo Manuzio is die uitgewer van verskeie van Schoeman se werke, onder meer die Stemme-drieluik, en publiseer ook eersdaags Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström en Fees van die ongenooides deur PG du Plessis in Nederlandse vertaling. Laasgenoemde twee vertalings is ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Dit is verblydend om te sien dat vertalings van so ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke uit hierdie suksesvolle befondsingsaansoeke sal voortvloei.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met meer volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://www.litnet.co.za/reglement-vir-die-pen-afrikaans-vertaalfonds/

Navrae kan gerig word na: penafrikaans@gmail.com

 

Reglement vir die PEN Afrikaans Vertaalfonds

Rules and regulations for the PEN Afrikaans Translation Fund

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top