PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van romans deur Harry Kalmer en Jaco Jacobs

  • 0

PEN Afrikaans kondig met trots die jongste suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds aan. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en ter wille van die bevordering van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland.   

Na oorweging van die aansoeke wat teen die Mei 2020-sperdatum ontvang is, sal die volgende twee vertalings befonds word:

  • ’n Nederlandse vertaling van In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer
  • ’n Nederlandse vertaling van ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs.

In ’n land sonder voëls, die laaste roman van ontslape skrywer Harry Kalmer, sal deur Rob van der Veer vertaal word en na verwagting in Februarie 2021 by Uitgeverij Aldo Manuzio verskyn. Dié distopiese roman het in 2019 by Penguin Random House verskyn, kort voor die dood van die skrywer, wat bekend was vir sy oorspronklikheid en vakmanskap – nie net in sy bekroonde werk in die advertensiewese nie, maar ook as dramaturg, kortverhaalskrywer en romansier.

In 2018 is die gesogte Barry Ronge-prys vir fiksie aan Kalmer toegeken vir A Thousand Tales of Johannesburg, die Engelse uitgawe van sy stadsroman ’n Duisend stories oor Johannesburg.

Uitgeverij Aldo Manuzio het ’n groeiende lys van Afrikaanse titels in Nederlandse vertaling. Pieter Rouwendal, uitgewer by Aldo Manuzio, meld in sy aansoek sy trots om Kalmer by dié lys te voeg en aan hom die groter, internasionale gehoor te help gee wat hy verdien.

Oor In ’n land sonder voëls skryf Jean Meiring in ’n resensie: “[e]nduit is dit ’n meesterlike en uiters vindingryke verbeeldingsvlug.”

Uitgeverij Ploegsma, ’n afdeling van WPG Kindermedia, bestaan al meer as 100 jaar en is ’n vooraanstaande Nederlandse uitgewer van hedendaagse en klassieke kinder- en jeugboeke. Hierdie gerekende uitgewery voeg eersdaags Jaco Jacobs se trefferroman ’n Goeie dag vir boomklim (LAPA) by hul lys van vertaalde werke.

’n Goeie dag vir boomklim het in 2016 die kykNET/Rapport-prys in die filmkategorie gewen en filmregte is aan M-Net toegeken.

Die roman het sedertdien by voorste buitelandse uitgewers in vertaling verskyn: in Engels by Oneworld Publications en in Italiaans by Rizzoli.  Die jurie van die roemryke Hans Christian Andersen-prys het dit ook onlangs uitgesonder as een van ’n lys van merkwaardige boeke waartoe kinders vanoor die wêreld deur vertaling toegang behoort te hê.

Uitgeverij Ploegsma sal die boek in hardeband en e-formaat uitgee. Tjalling Bos, ’n hoog aangeskrewe vertaler met meer as veertig jaar se ondervinding, is vir die Nederlandse vertaling verantwoordelik.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://www.litnet.co.za/reglement-vir-die-pen-afrikaans-vertaalfonds/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top