PEN Afrikaans Nuusbrief – Wat was jou woord van 2015?

  • 0

pen600

Beste lid van PEN Afrikaans

Dit was ’n onstuimige jaar met die woede van ’n nuwe jong Suid-Afrika wat die aarde van Kaapland tot bo in die Noorde laat dreun het. Die woelinge van 2015 met al sy heftige meningsverskille oor politiek, meertaligheid, dekolonisasie en Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite word treffend en soms heel pittig in LitNet se Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie weerspieël.

Kerneels Breytenhach, PEN Afrikaans se voorsitter, het “Jakobregop” as sy woord van die jaar aangewys en vir Bettina Wyngaard, ons onder-voorsitter, was dit “hashtag-aktivisme”. Breyten Breytenbach het “Kakiebosch” gekies en vir een van PEN Afrikaans se nuut verkose bestuurslede, Izak de Vries, was dit “banting”. Anzil Kulsen, ook nuut op ons bestuur, het “poenankies” genomineer. Vir Danie Marais was “witheid” die woord wat helaas ’n gevaarlike nuwe polarisering in ons identiteitspolitiek aangedui het. Frederik de Jager het “witgeit” gekies. Athol Fugard het “loop” genomineer, Kirby van der Merwe “ja-nee” en vir Dominique Botha was 2015 ’n “Zunami”. 

“Emotikontjies” as verkleinwoord vir die vertaling van “emoticons”, wat onlangs in ’n rubriek deur Wilhelm Jordaan gebruik is, was egter sekerlik die beste meerduidige nuutskepping van 2015 – veral as ’n mens in ag neem dat dit gemaak is met verwysing na die feit dat die “tears of joy”-emotikon aangewys is as Oxford-woordeboeke se woord van die jaar. Oxford se “wenwoord” is ’n veelseggende herinnering aan die wyse waarop gesprek in die internet-era verander het. Dit druk implisiet die spanning uit tussen vereenvoudiging en standaardisering ter wille van globale kommunikasie aan die een kant, en die idiosinkratiese rykdom van meertaligheid en dialekte wat andersyds geskakeerde betekenismoontlikhede en bewussynsverruimende misverstande fasiliteer.

Dit is daarom opvallend en gepas dat verskeie ander skrywers en lesers “studenteprotes” of “taaldebat” gekies het, terwyl “Afrikaans”, onder andere, Pieter-Dirk Uys en Elsabé Brits se woord van die jaar was. Lees hier nog inskrywings.

Wanneer dit gaan oor ’n stryd vir of protes teen ’n taal, gaan dit nooit net oor taal as gestandaardiseerde kommunikasiemiddel nie. Geen taal is bloot ’n versameling emotikontjies nie – dis ’n unieke wêreld en meesal ook die lewende, muterende simbool en opgaarplek van ’n geskiedenis. As taal net oor kommunikasie gegaan het, hoekom hoegenaamd jou pyp met die bedwelmende twak van poësie stop of jou kosbare tyd mors met die kollektiewe droomwerk van ’n letterkunde? In die markplek en parlement kan ons mekaar probeer verstaan met die emotikontjies van ’n lingua franca se generiese frases en die halwe waarhede van ideologiese slagspreuke, maar hierdie oorvereenvoudigende woordprentjies sal nooit deug om saam met ons kinders en geliefdes die dieper geheime van die kosmos of die windinge van die hart te verken nie.

Die bestuur van PEN Afrikaans het daarom met verligting kennis geneem van die US-raad se verbintenis tot meertaligheid aan die Universiteit Stellenbosch. (Klik hier vir meer besonderhede omtrent die raadsbesluit.) Ons bedank almal wat vanjaar aan hierdie openbare gesprek deelgeneem en probeer saamdink het aan oplossings wat ’n pluraliteit van taalwêrelde ook in openbare ruimtes wil erken.

Diegene wat waarde heg aan die voortbestaan en groei van Afrikaans en ander inheemse tale binne ’n Suid-Afrika waar die ekonomiese speelruimte tans dramaties aan die krimp is, sal egter moet besef dat kreatiewe oplossings en nie retoriek nie uiteindelik die deurslag sal gee. Die aandring op grondwetlike regte moet met die daadwerklike soeke na en skep van alternatiewe, nuwe taalruimtes gepaard gaan. Die twis rondom Afrikaans op die kampusse van die universiteite in Noordwes, Stellenbosch en die Vrystaat het gewys dat daar nie meer tyd is om te kyk wat gebeur nie. Alliansies en planne moet nóú gesluit en gemaak word.

Dit is dus ’n plesier om te rapporteer dat PEN Afrikaans te midde van al die sosio-politiese storms, die steierende ekonomie en groot nasionale onsekerheid bestendig vooruit geboer het.

Die Page Likes op ons Facebook-bladsy het tussen 1 Februarie en 1 Desember vanjaar op Facebook verdubbel en dus daarmee ook ons invloedsfeer op daardie sosiale media-platform. Ons het meer as 400 volgelinge op Twitter en verlede jaar dié tyd het ons nog nie ’n Twitter-rekening gehad nie. Onder hierdie volgelinge tel ’n groot deel van die PEN International-familie en verskeie invloedryke individue en organisasies in die wêreld van lettere en menseregte.

(Vir verdere inligting oor PEN Afrikaans se bedrywighede vanjaar, sien die verslae van ons voorsitter en bestuurder asook die verslag oor PEN Afrikaanse se bywoning van die PEN International-kongres in Kanada.)

PEN Afrikaans is, met ander woorde, besig om nasionaal en internasionaal die bande te smee wat nodig is vir ’n minderheidstaal en sy skrywers om gehoor te word en in gesprek te tree met mense en groepe wêreldwyd wat met soortgelyke uitdagings en dilemmas stoei.

Ons nooi hiermee ook al ons lede nogmaals hartlik uit om saam te gesels oor moontlikhede om Afrikaanse skryfwerk te bevorder en stimuleer – oral en veral ook onder gemarginaliseerde groepe.

In daardie gees klink ons ’n glas op al die nuwe Afrikaanse boeke wat in November en Desember verskyn het. (Klik hier om die volledige lys in Excel-formaat af te laai.)

Ons lig ook die glas op ’n weerbarstige jong Suid-Afrikaanse uitgewer wat vanjaar mondig geword het. Kwela Books, een van die drukname in die stal van NB-Uitgewers, is in 1994 onder die leiding van dr. Annari van der Merwe geloods.

Die doel met Kwela Books was uit die staanspoor om aan swart skrywers ‘n pubikasietuiste te verskaf. Binne die eerste tien jaar van sy bestaan het dr. Van der Merwe die plaaslike uitgewerswese goed laat kennis neem van haar uitgewery se ratsheid. Onder die name wat binne die eerste dekade deur Kwela uitgegee is, tel Achmat Dangor (Kafka’s Curse en Bitter Fruit), K. Sello Duiker (The Qiet Violence of Dreams), Lewis Nkosi (Underground People) en die bekroonde werk van Rayda Jacobs, Confessions of a Gambler.

Kwela het ook ’n tuiste gebied vir Afrikaanse skrywers. Die groot deurbraak was A.H.M. Scholtz se Vatmaar. Van Scholtz is verskeie ander werke gepubliseer. ’n Ander naam wat deur Kwela bekend gemaak is, is dié van EKM Dido (’n Stringetjie blou krale, Die onsigbares en Rugdraai en stilbly), Loit Sôls, Anchien Troskie, Pat Stamatelos, Odette Schoeman en Karel Benjamin.

Antjie Krog (Kleur kom nooit alleen nie, Met woorde soos met kerse en Die sterre se ‘Tsau’) en Ronelda Kamfer (Noudat slapende honde en Grond/Santekraam) is twee van die toonaangewende digters wat by Kwela ’n tuiste gevind het.

Van der Merwe is opgevolg deur Nèlleke de Jager, wat Van der Merwe se publikasiebeleid voortgesit het, soos ook James Woodhouse en Carin van Houwelingen, De Jager se opvolgers.

Willem Anker, wat in 2007 by Kwela gedebuteer het met Siegfried, het in Kwela se mondigwordingsjaar aan dié druknaam groot luister gebring deur feitlik elke moontlike literêre prys in te palm met sy 2014-roman, Buys. Maar dit was nie die enigste verjaardagjaarseges nie: Nathan Trantraal, wie se opspraakwekkende debuut, Chokers en survivors, eweneens in 2013 by Kwela verskyn het, is vanjaar met die Ingrid Jonker-prys bekroon.

Gesondheid! Op uitgewers en skrywers van alle soorte en ’n vreedsame, boekryke feestyd en Nuwejaar vir julle almal.

Met vriendelike groete
Kerneels Breytenbach (voorsitter) en Danie Marais (bestuurder)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top