PEN Afrikaans Nuusbrief: April 2016

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Verveling is ons duidelik nie hier aan die suidpunt van Afrika beskore nie, maar in Maart was daar ook verskeie ligpunte.

Bekronings deur die SA Akademie en kortlyste vir die UJ-pryse

Hartlik geluk aan ons skrywerslede wat pas deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon is. Die volgende skrywers en hul boeke is vereer:

Die Hertzogprys vir Prosa is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan Willem Anker vir Buys: 'n Grensroman.

Die Deleen Bekkerprys vir Beste Draaiboek van 'n TV-drama in Afrikaans kan jaarliks toegeken word en roteer soos volg:

  • Dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans.
  • Draaiboek vir rolprent in Afrikaans.
  • TV-draaiboek vir Afrikaanse drama, hetsy 'n enkel drama of een episode uit 'n reeks.

Die prys word vanjaar toegeken aan Paul C. Venter vir Vlug na Egipte (episode 3) en Terug na Egipte (episode 6).

Die Eugène Marais-prys word toegeken vir 'n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan 'n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan Stephanus Muller vir Nagmusiek.

Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur word toegeken vir die bevordering van hoogstaande Afrikaanse jeugliteratuur en moet van goeie letterkundige en/of opvoedkundige gehalte getuig.

Die prys word toegeken aan Marita van der Vyver vir Swemlesse vir 'n meermin.

Die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur word toegeken vir enige literêre werk in die kategorie kinderliteratuur, d.w.s. die groep lesers van sewe tot twaalf. 

Die prys word vanjaar toegeken aan Kobus Geldenhuys vir Hoekom die walvisse gekom het.

Die Protea Boekhuisprys vir Beste Gepubliseerde Werk in Afrikaans kan jaarliks toegeken word en roteer soos volg:

  • Beste M-verhandeling in Afrikaans;
  • Beste D-proefskrif in Afrikaans;
  • Beste gepubliseerde werk in Afrikaans.

Die prys word toegeken aan Carel van der Merwe vir Donker stroom. Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog.

Klik hier om ’n volledige lys van al die Akademie-bekronings te lees.

Vir onderhoude met die bekroonde outeurs en resensies van hul boeke, kan jy op hierdie skakel klik.

Baie geluk ook aan al die skrywers wat vanjaar die kortlyste vir die gesogte UJ-pryse gehaal het.

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir die beste kreatiewe debuut in Afrikaans (met ’n prysgeld van R30 000) en die UJ-prys vir die beste kreatiewe teks in Afrikaans (met ’n prysgeld van R75 000).

Onder die debutante is die volgende titels deur die beoordelaars vir die kortlys  (alfabeties volgens outeur) uitgesonder:
Lien Botha se Wonderboom
Johan Fourie se Struisvoël
Roela Hattingh se Kamee

Die titels wat opgeneem is in die kortlys vir die 2016 UJ-prys vir die beste Afrikaanse kreatiewe werk, is (alfabeties volgens outeur):
Vlam in die sneeu -  Francis Galloway (red)
Soos familie - Ena Jansen
Brandwaterkom - Alexander Strachan
Donker Stroom - Carel van der Merwe
Vlakwater - Ingrid Winterbach

Klik hier vir meer volledige inligting oor die skrywers asook skakels na onderhoude en resensies.

Samekoms van PAN (PEN African Network) en die TLRC (PEN International Committee for Translation and Linguistic Rights) – 6 tot 11 Maart 2016, WITS, Johannbesburg

In Maart het Bettina Wyngaard en Danie Marais PEN Afrikaans verteenwoordig by ’n baie interessante en geskiedkundige konferensie in Johannesburg.

Bettina was deel van die PAN-vergadering (6-9 Maart) waar hierdie netwerk, wat reeds sedert 2001 bestaan, vir die eerste keer ’n amptelike grondwet aanvaar het.

Danie het Bettina die middag van die 9de Maart afgelos en die TRLC-konferensie op 10 en 11 Maart bygewoon. Dit was die eerste keer dat die TRLC op Afrika-bodem bymekaar gekom het sedert dié spesiale PEN International-komitee se stigting in Stockholm in 1978.

Bettina oor die PAN-konferensie

Vanaf 6 Maart tot en met 9 Maart 2016 het al die PEN-sentra in Afrika, met geringe uitsonderings (Marokko en Ethiopië kon nie daar wees nie) in Johannesburg vergader as deel van die PEN International-projek om kriminele laster iets van die verlede te maak.

Beslis ’n hoogtepunt was om die PEN-sentrums van Mali, Mauritanië en Zimbabwe te verwelkom. Zimbabwe is gerekonstitueer, terwyl Mali en Mauritanië splinternuwe sentra is wat verlede jaar by die 81ste PEN-kongres in Québec amptelik erken en as PEN-lede aanvaar is.

Een van die doelstellings van die kongres was om dié netwerk, (in 2001 PAN – PEN Afrika Netwerk gedoop) te formaliseer deur die opstel en aanvaarding van ’n grondwet, en die verkiesing van die eerste bestuur. (Klik hier vir meer inligting oor PEN se regionale skrywersnetwerke.)

Hoe gaan die spreuk? “All the best laid plans of mice and men ...” Die grondwet is aanvaar, ná aansienlike kompromieë aangegaan is, maar ons het eenvoudig nie tyd gehad om by die verkiesing uit te kom nie. Daar is ooreengekom dat die verkiesing sal oorstaan tot by die volgende PEN International-kongres in Ourense, Spanje, later vanjaar. Daar word egter allerweë gehoop dat hierdie samekoms die grondslag gelê het vir ’n meer gekoördineerde PAN wat hom vir groter samewerking tussen die skrywersgemeenskappe van Afrika sal beywer.

Geen PEN-kongres is volledig sonder dat daar aandag geskenk word aan skrywers wat weens vryheid van spraak-kwessies vervolg word nie. Ons het dus die geleentheid gehad om te hoor van skrywers in Soedan en die uitgeweke skrywers van Eritrea. Elke keer dat ek opnuut moedeloos word oor ons situasie in Suid-Afrika, word ek herinner dat daar ander is wat soveel erger moet deurmaak.

Rafael Marques de Morais van Angola het ook sy verhaal met ons gedeel. Dit was veral ’n skok om te besef dat hy waarskynlik by sy terugkeer na Angola arresteer sou word, en dat ’n lasbrief vir sy arres alreeds uitgereik sou wees.

Op 8 Maart, Internasionale Vrouedag, het die vroue elkeen ’n gedig van ʼn vroulike digter uit hul eie land voorgedra. Daar was soveel gedigte wat ek sou wou deel met my kollegas van ander lande. Die Antjie Krog-gedig waarop ek uiteindelik besluit het (en in Afrikaans voorgedra het) het heelwat opgewondenheid veroorsaak!

Ons was bevoorreg om met sprekers van uitstaande gehalte oor die kwessie van kriminele laster in gesprek te tree. Krish Naidoo, hoof van die ANC se regspan, en Nobuntu Mbelle, regskenner met gespesialiseerde kennis van die AU-hof, het ons ’n oorsig van die wetgewing uit Suid-Afrikaanse sowel as die breër Afrika-perspektief gegee. Verteenwoordigers van die PEN-sentra in Sierra Leone, Uganda, Nigerië en Senegal het in aansluiting daarby hulle ervarings van die wetgewing se prakties toepassing met die groep gedeel.

Dru Menaker van PEN Amerika het kom praat oor etiese joernalistiek en Mark Heywood, voorheen van die TAC en nou die NRO Section 27, het vir ons waardevolle wenke gegee oor hoe om ’n suksesvolle bewusmakingsveldtog te loods. Heywood het ook op 9 Maart ’n prikkelende lesing oor die rol van die skrywer binne ’n demokrasie gelewer wat hier gelees kan word.

Die grootste geskenk wat ek elke keer van so ’n byeenkoms wegneem, is die wete dat ons nie alleen is nie. Ons kry ’n vars perspektief op ons plek in die groter PEN-gemeenskap, en die wete dat ons aanvaar word as volwaardige, waardevolle, gewaardeerde lede van ʼn globale skrywersgemeenskap. Wat ook al in ons klein hoekie van die aarde aangaan, ons het vriende dwarsoor die wêreld wat saam met ons bly is in ons oorwinnings en saam huil wanneer ons teleurgesteld is.

Ons is nie alleen nie.

[Voetnoot van Danie: Wat Bettina as gevolg van beskeidenheid verswyg het, is dat die samesprekings tussen die PEN-sentra byna ontspoor het as gevolg van ’n misverstand tussen die anglofone en frankofone sentrums. Laasgenoemde groep is reeds deel van ’n ander skrywersfederasie vir frankofone Afrika-lande wat hulle eers wou ken oor hul moontlike verdere rol in PAN. Die samesprekings het egter op ’n positiewe noot geëindig – nie net met die aanvaarding van ’n grondwet nie, maar ook met die vooruitsig op beter en nouer samewerking en solidariteit in die toekoms. Bettina het as bemiddelaar, wat deur albei blokke aanvaar is, ’n sleutelrol in hierdie positiewe uitkoms gespeel. Soveel so dat Carles Torner, die uitvoerende direkteur van PEN International, dit onomwonde teenoor my ná haar vertrek oor ’n koppie koffie gestel het: “Bettina was amazing!”]

Die Franse, oftewel frankofone haan (Kissima Diagana van PEN Mauritanië) tussen die henne - van links: Veronica Koryo Boatey (PEN Ghana), Bettina Wyngaard en Hala el Badry (PEN Egipte)

Die reën kon nie die gees by die PAN-samekoms in Johannesburg demp nie.

 
Danie oor die TRLC-konferensie: “In Dialogue with the World”

Carles Torner, die uitvoerende direkteur van PEN International, het die samekoms van die TRLC geopen deur ’n brief aan dié vergadering van die  Keniaanse literêre reus Ngũgĩ wa Thiong’o voor te lees. In hierdie brief het dié skrywer sy solidariteit met die TRLC en dié komitee se belangrike werk verklaar. Hy het daarop gewys dat die Universele Verklaring van Taalregte waarin die TRLC ’n leidende rol gespeel het en wat amptelik in 1996 deur UNESCO aanvaar, weliswaar ’n baie belangrike dokument is, maar bygevoeg dat vertaling noodsaaklik ter verwesenliking van die visie in daardie verklaring is. “Vertaling,” het Wa Thiong’o beklemtoon, “is die taal der tale.” (Klik hier om Ngũgĩ wa Thiong’o se volledige brief te lees en hier vir agtergrond oor die stigting en werksaamhede van PEN se TRLC.)
 
Wa Thiong’o se woorde was ’n ideale aanknopingspunt vir ’n verskeidenheid sessies wat in die volgende twee dae vir lewendige gesprek gesorg het:

  • Carole Bloch (die direkteur van PRAESA en opvolger van Neville Alexander) het ’n kragtige pleidooi vir moedertaalonderrig gelewer. Bloch, wat haar onder meer beywer vir die ontwikkeling van kleuter- en kinderboeke van gehalte in al elf landstale, het beklemtoon dat kinders wat nie in hul moedertaalonderring skoolgaan nie ’n taalskok ervaar wat hul skoolloopbaan en intellektuele ontwikkeling ernstig knou: In plaas daarvan dat hierdie kinders die taal wat hulle reeds aangeleer het, gebruik om die wêreld te verken en kennis te ontsluit, moet hulle nou spartel om die taal aan te leer waarmee hulle dan eers verder kan leer. 
  • PEN Afrikaans het saam met PEN Malawi, Zambië. Sierra Leone en Ghana die geleentheid gekry om te praat oor projekte waarmee die kreatiewe skryfwerk en verhale uit Afrika deur hul onderskeie sentrums bevorder word. Ek het namens Bettina die Trippel 7-projke voorgestel. (Klik hier vir meer besonderhede oor dié projek wat vandeesmaand afskop.)
  • Simona Škrabec, die voorsitter van die TLRC en lid van PEN Katallaans is ’n bekroonde letterkundige en Sloveens-Katallaanse vertaler wat ook vlot in Serbies, Spaans en Duits is. Sy het die bevindinge van ’n navorsingsprojek gedeel wat PEN International onder haar leiding met die ondersteuning van UNESCO deurgevoer het – Development of the Creative Industry in the Minority Languages of Kenya, Haiti, Serbia and Nigeria. Onder die aanbevelings wat uit die navorsing afgelei word, tel die volgende drie wat ook vir die situasie van Afrikaans relevant is: 1) Die gebruik van minderheidstale as onderrigtale moet op alle vlakke van onderwys bevorder word. 2) Vertaling na en van minderheidstale is noodsaaklik. 3) Internasionale uitruilmoontlikhede is baie belangrik vir minderheidstale om ook ‘buite’ die betrokke land, streek of taalgemeenskap gehoor te word.
  • Louis Jolicoeur van PEN Québec het die ontstaansgeskiedenis en belang verduidelik van die Québec-verklaring oor Literêre Vertaling en Vertalings wat verlede jaar by die 81ste PEN-kongres formeel aanvaar is. (Dié verklaring en ’n kort samevatting van die konteks waarbinne dit onderhandel is, kan hier gelees word. My Afrikaanse vertaling van die verklaring is hier te vinde.)
  • Aicha Diarra van PEN Mali het vertel watter belangrike rol vertaling en letterkunde in die bevordering van dialoog, begrip en ’n nuwe samehorigheid in post-konflik Mali speel.
  • Desalle Berekhet Abraham van PEN Eritrea (’n sentrum wat genoop is om in ballingskap te funksioneer) het vir ’n kollektiewe knop in die keel gesorg met sy verduideliking van die kardinale rol wat vertalers speel om onderdrukte en stilgemaakte stemme in die buitewêreld buite diktature en polisiestate hoorbaar te maak. “What can you do if you don’t even have the freedom to cry after you were beaten?” het Abraham, onder meer, stadig met ’n swaar aksent gevra. Later het hy bygevoeg: “In Eritrea there is no opposition, no room to fight – there is only room to die. My father and his brothers were freedom fighters. So, they always had guns, and I was the first son born. So, when I came out they shoot bullets through the roof of the hut. Probably the first sound I heard, was a gun shot.” Toe hy later probeer verduidelik het wat die solidariteit van en die gesprek met die internasionale PEN-skrywersfamilie vir hom en ander uitgewekenes beteken, het nie net sy trane vlak gesit nie.
  • ’n Hoogtepunt van die samekoms was 'n gesprek in die Orbit Jazz Club tussen Simona Škrabec en die Suid-Afrikaanse hofdigter Keorapetse Kgositsile, wat ook die vol klub op ’n voorlesing van nuwe, ongepubliseerde werk trakteer het.

Afgevaardigdes van PAN en die TRLC op 11 Maart 2016, die laaste dag van die samekoms in Johannesburg

Danie ontmoet die Suid-Afrikaanse hofdigter, Keorapetse Kgositsile, in die Orbit Jazz Club in Braamfontein ná Kgositsile se voorlesing en gesprek met Simona Škrabec.

Dit was motiverend om deur middel van hierdie aanbiedings en die daarmee gepaardgaande gesprekke opnuut te besef verskeie taalgemeenskappe wêreldwyd worstel met dieselfde vraagstukke as Afrikaanssprekendes. Onder die deelnemers aan hierdie samekoms was verteenwoordigers van meer as 20 lande en tale, maar oor die waarde van moedertaalonderrig en die geleentheid tot kreatiewe skryfwerk en publikasie in daardie tale was daar algehele konsensus.
 
Kultuur en taal is nasionale bates en instrumente van bemagtiging, soos Škrabec beklemtoon in die aanbevelings van haar navorsing oor die bevordering van die kreatiewe bedrywe in minderheidstale.
 
Soms raak ek bitter moeg vir die taaldebat, maar ná hierdie samekoms in Johannesburg is ek opnuut oortuig dat ’n eie letterkunde en moedertaalonderrig nie net luukses is nie – dis die sleutels tot die kosmos en ’n dieper begrip van die self en die ander.

Die konsep vir ’n nuwe taalbeleid aan die Universiteit  Stellenbosch

Die US het 'n konsepweergawe van 'n nuwe taalbeleid openbaar gemaak. Belanghebbendes en alle belangstellendes kan tot 22 April 2016 kommentaar en insette lewer. 

Ons moedig ons lede aan om hulle van die hersieningsproses te vergewis en deel te neem aan hierdie belangrike gesprek rondom die toekoms van Afrikaans aan die US. PEN Afrikaans se bestuur hoor graag hoe jy voel.

Klik hier vir besonderhede en/of om kommentaar te lewer op die konsepweergawe.

Feestelike vooruitsigte vir April en Mei 

Bettina Wyngaard, ons ondervoorsitter, vertrek vandeesweek na die AKA –  die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam. Ons wens haar en al die ander deelnemers en besoekers 'n fees toe. Belangstellendes kan hier klik vir 'n lusmaker-video en die AKA-feesprogram.

Bettina gaan nie veel tyd kry om uit te rus na haar draai in die Lae Lande nie, want op 17 April vertrek sy en ses ander woordkunstenaars na Kimberley vir die Trippel 7-projek waarin sewe skrywers, sewe dorpe in die Noord-Kaap oor sewe dae gaan besoek op soek na Afrikaanse vertelkuns wat nog nooit buite daardie omgewing gehoor is nie.

Ons wens vir Bettina, Frazier Barry, Anastasia de Vries, Diana Ferrus, Eldridge Jason, Anzil Kulsen en Daniel Denver Swartz 'n voorspoedige en fassinerende storie-reis toe. Mag julle baie diamante optel.

Goeie nuus vir poësieliefhebbers is dat die Spier Digtersfees weer vanjaar vanaf 7 Mei net buite Stellenbosch plaasvind:

Klik hier vir meer inligting oor die opwindende program en die deelnemende digters.

Nuwe Afrikaanse boeke in April 2016

Laastens, baie geluk en alle sukses aan ons lede wat in April nuwe boeke die lig laat sien. Jy kan hier 'n lys aflaai van al die nuwe Afrikaanse publikasies wat vandeesmaand verskyn. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top