PEN Afrikaans algemene jaarvergadering 2020: bestuurdersverslag

  • 0

Alles van waarde is weerloos, skryf die Nederlandse digter en kunstenaar Lucebert. Hierdie jaar het daardie weerloosheid én die waarde van dinge opnuut kom duidelik maak.

Enersyds het die broosheid van die menslike liggaam, ’n gesondheidstelsel, ’n ekonomie en selfs bewegingsvryheid in die uitsonderlike omstandighede van die Covid-pandemie gekristaliseer. Die gedrukte media, wat reeds gekwyn het, is hard daardeur getref, met ’n reeks tydskrifsluitings wat aangekondig is. Die uitgewersbedryf het swaar getrek. Skrywers, kunstenaars en vryskutwerkers in die kreatiewe bedrywe het enorme verliese gely. Dit is vir menige ’n saak van brood en botter, maar die verlies strek ook verby rand en sent na iets minder tasbaar: die geleentheid en vermoë om ’n bydrae te lewer, ’n nering te beoefen, om met mense in aanraking te kom.

Andersyds was dit selfs duideliker as gewoonlik dat woorde en kuns, boeke en goeie verslaggewing baie waarde vir mense inhou. Soveel só dat mense tydens die inperking hulle toenemend tot onregmatige roetes gewend het om toegang daartoe te kry. Ek verneem ook dat uitgewers na afloop van die grendeltyd meer as gewoonlik manuskripvoorleggings ontvang het, ’n aanduiding dat die skryfvlam allermins geblus is.

Vir PEN Afrikaans was dit, ten spyte van – en in sommige gevalle te danke aan – die beproewende tye ’n besonder produktiewe jaar.

  1. Artikel- en rubriekreekse

  • Die wêreld van die skrywer

Ons publiseer steeds kwartaalliks artikels in ons artikelreeks oor verskeie onderwerpe wat met die praktyk van skryf te doen het.

Carolyn Meads, fiksie-uitgewer by Kwela Boeke en bestuurslid van PEN Afrikaans, het in die eerste artikel van 2020 meer vertel oor boeke in Kaaps uitgee. Bekroonde spanningskrywer Irma Venter was volgende aan die beurt met ’n artikel oor die rol van navorsing en aktuele kwessies in haar spanningsverhale. Hoe pak sy daardie deel van die skryfproses aan en hoe gaan sy te werk om navorsing met die storielyn te integreer? Tertius Kapp het volgende geskryf oor die verwerking van romans vir die silwerskerm. Wat is die slaggate en uitdagings?

Ons beoog om die artikelreeks voort te sit en verdere onderwerpe te identifiseer wat vir ons lede en die wyer skryf- en taalgemeenskap van waarde kan wees. Voorstelle is welkom.

  • Boeke wat skrywers laat skryf

“Boeke wat skrywers laat skryf” is ’n reeks rubrieke wat in die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot verskyn. Dit word deur PEN Afrikaans aangebied en geborg. Valda Jansen, Debbie Loots en Brian Fredericks het die rubrieke van 2020 tot dusver gelewer. 

In sy aangrypende rubriek skryf Brian Fredericks:

“Ek is altyd verbaas wanneer ek hoor iemand sê fiksie kan nie ‘n verskil in iemand se lewe maak nie. Mens hoor ook dit het in die verlede gebeur, maar nie meer vandag nie. Ek stem nie saam nie, want boeke het my verander. Fiksie het my verander.”

Gaan lees gerus verder aan hierdie beklemtoning van die waarde van skryf en lees. Taalgenoot is gratis aanlyn beskikbaar.                                                                                                                   

  1. Skryfskole en -kursusse

Vir PEN Afrikaans is dit, as skrywersvereniging, ook ’n fokuspunt om te belê in die ontwikkeling van skrywers. Ons het dit vanjaar gedoen deur die aanbieding van ’n skryfkursus vir hoërskoolleerders by die US Woordfees, saam met die WOW-projek en die ATKV-Skryfskool. Baie dankie aan Bernard Odendaal wat die kursus aangebied het. 

Verder het ons tans ’n reeks aanlyn kursusse wat ons met die ondersteuning van PEN International aanbied. Met inagneming van die Covid-omstandighede wat fisieke byeenkomste onmoontlik gemaak, of aansienlik beperk het, het PEN International befondsing beskikbaar gemaak vir PEN-sentrums om hul aanlyn teenwoordigheid uit te brei. PEN Afrikaans het suksesvol aansoek gedoen vir befondsing en ons is dankbaar vir die geleentheid om die volgende kursusse te kan aanbied:

  • ’n Aanlyn kursus oor die skryf van verhale, aangebied deur Marita van der Vyver en Chase Rhys
  • ’n Resensiekursus wat Kerneels Breytenbach en Charles Siboto die afgelope Saterdag aangebied het, spesifiek oor die beoordeling van jeugliteratuur.
  • En ’n kursus oor die skryf van jeugverhale, waarvan Anzil Kulsen en Jan Vermeulen hierdie Saterdag die eerste sessie aanbied.

Ons het die kursusse so toeganklik as moontlik gemaak om groter diversiteit onder kursusgangers te probeer verseker. Ons fokus sterk op jeugliteratuur om ’n tekort aan diverse stemme in dié kategorie te probeer teëwerk, en omdat jeugliteratuur besonder belangrik is in die kweek van ’n leeskultuur in ons land en ons taal.

Baie dankie aan die bekwame aanbieders, die entoesiastiese deelnemers en aan PEN International wat dit moontlik maak.

PEN Afrikaans Vertaalfonds

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het ten doel om die vertaling en publikasie van verdienstelike Afrikaanse literêre werke in die buiteland te bevorder deur vertaalkoste te subsidieer. Daar is twee sperdatums vir aansoeke in ’n kalenderjaar: 15 Mei en 15 November.

Die Mei-sperdatum het twee suksesvolle aansoeke vir vertalings van Afrikaanse werke opgelewer. Befondsing is toegestaan vir die vertaalkoste verbonde daaraan om die volgende vertalings te laat verskyn:

  • ’n Nederlandse vertaling van In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer (Uitgeverij Aldo Manuzio)
  • ’n Nederlandse vertaling van ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs (Uitgeverij Ploegsma)

Dit bly ’n groot deurbraak vir Afrikaanse skrywers om deur vertaling ’n internasionale gehoor te bereik. Deur die befondsing van die PEN Afrikaans Vertaalfonds maak die Trust vir Afrikaanse Onderwys dit meer moontlik vir Afrikaanse letterkunde om deel van die wêreldletterkunde te word.

Die volgende sluitingsdatum vir aansoeke is 15 November. Ons het reeds ’n aansoek ontvang en sien uit om ander ook te oorweeg.

Skrywersresidensie in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kon weer vanjaar aansoek doen om vir ’n maand in die Jakes Gerwel Stigting se Paulethuis in Somerset-Oos tuis te gaan om aan ’n goedgekeurde skryfprojek te werk.

In samewerking met die Jakes Gerwel Stigting is daar besluit om die volgende ses skrywers die geleentheid te bied om die skrywersresidensie vanaf 1 – 27 Julie 2020 by te woon:

  • Andre Trantraal
  • Beyers de Vos
  • Olivia M Coetzee
  • Sarie Nell
  • Valda Jansen
  • Veronique Jephtas

Natuurlik was dit ’n vreemde jaar vir binnelandse reis en elders gaan tuisgaan. Drie van die gekose skrywers (Beyers de Vos, Sarie Nell en Valda Jansen) het dus verkies om volgende jaar die geleentheid te benut en het op dié manier die ruimte geskep vir Jeremeo le Cordeur en Khadija Heeger, twee van die knap kortlyskandidate om van die skrywersresidensie gebruik te maak.  

Ons is baie opgewonde oor die skrywersresidensie en veral die konkrete vrugte wat dit begin dra. Baie geluk aan Ryan Pedro, een van verlede jaar se groep, wie se debuutbundel pas verskyn het en ’n hoogtepunt blyk te wees.

Ons dank aan die Jakes Gerwel Stigting vir die samewerking.

Bewusmakingsveldtogte

PEN Afrikaans loods gereeld bewusmakingsveldtogte oor nuwe wetgewing, beleidsrigtings of ander gebeure wat ons lede en die breër Afrikaanse gemeenskap raak.

In 2020 was ons fokus op teenkanting teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, waaroor ons kommer aan julle bekend is, sowel as die onregmatige verspreiding van e-boeke, soos Marga genoem het. Die video wat ons vir hierdie bewusmakingsveldtog gemaak het, is op ons sosialemedia-platforms beskikbaar. (Terloops, ons het nou ook profiele op YouTube en Instagram, so volg ons gerus ook daar.)

Ons het ook stelling ingeneem waar mediavryheid en vryheid van uitdrukking by die nuusprogram eNCA bedreig is toe nuusaanbieders van die lug verwyder is oor hulle kritiek teen die regerende party.

Ons het saam met PEN-sentrums vanoor Afrika stelling ingeneem teen die inhegtenisname van Zimbabwiese skrywers en joernaliste, spesifiek ook die Booker-genomineerde Tsitsi Dangarembga, vir hul vreedsame protes teen beweerde korrupsie aan staatskant.

Behalwe vir sulke stellingnames behels ons kommunikasie ’n maandelikse nuusbrief wat darem ook lekker goed soos ’n resensieoorsig en lys van nuwe Afrikaanse boeke insluit.

Skrywerskamer by die Toyota US Woordfees

Kort voordat die Covid-pandemie die Suid-Afrikaanse samelewing tot stilstand en inperking gedwing het, het PEN Afrikaans weer ’n skrywerskamer by die Toyota US Woordfees ingerig en bestuur.

Die Skrywerskamer was geleë in ’n rustige lokaal in die historiese Ou Hoofgebou  en skrywers, joernaliste en deelnemers aan die boekeprogram kon daar tyd spandeer tydens die fees. Dit was goed om van julle daar te sien.

As alles goed gaan, sluit die res van die jaar die volgende werksaamhede in:

  • Die aanbied van ’n produksie by die Tuin van Digters
  • ’n stewige volgende lot aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds
  • bywoning van PEN International se jaarlikse kongres wat virtueel van 2 – 6 November plaasvind.

Dit is vir ons belangrik om Afrikaanse skrywers ook internasionaal te verteenwoordig en ons het vanjaar weer gesien watter goeie ondersteuning ons van PEN International kry. 

Ten slotte

Ons is baie dankbaar om in hierdie uitdagende tye te kon voortgaan met ons projekte en ’n bydrae te kon lewer. Dit is te danke aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys se ruim finansiële ondersteuning, goeie samewerking met ander organisasies, ’n kundige en entoesiastiese bestuur, en julle bydraes as lede. Dankie daarvoor.

Ek sê ook spesifiek dankie aan Marga, ons voorsitter, Danie, ons ondervoorsitter, en Naomi, ons tesourier wat met ’n oudit en ’n half gestoei het hierdie jaar.

Baie dankie vir die gulhartige en goeie samewerking.

PEN Afrikaans beoog om deur ons werksaamhede nie net ons lede se belange te dien nie, maar ook ’n bydrae te maak tot die bevordering van die Afrikaanse taal en woordkuns en die beskerming van media- en uitdrukkingsvryheid, waarvan die weerloosheid én die waarde vanjaar veral soos ’n paal bo water staan.

Baie dankie.

Catrina Wessels

21 Oktober 2020

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top