Goeiemiddag! Dit is, soos altyd, ’n plesier om skrywers en taalgenote te kan verwelkom by ’n algemene jaarvergadering van PEN Afrikaans. Vanjaar is dit ons vyfde byeenkoms van dié aard.
Die sakelys vir vandag is per e-pos aan u gestuur, en so ook die notule van die vorige algemene jaarvergadering, in 2016. Ten aanvang vra ek goedkeuring vir vandag se sakelys, en daarna vir die 2016-notule.
Ek kom nou aan die einde van my derde termyn as voorsitter van PEN Afrikaans. Omstandighede het veroorsaak dat ek die afgelope twee jaar sterk moes steun op ons bestuurder, Danie Marais, en ons tesourier, Naomi Bruwer, en uiteraard op ons ondervoorsitter, Marga Stoffer.
Ek wil hulle graag bedank vir die ondersteuning. Danksy Danie en Naomi is nie alleen ons lede gelukkig en goed ingelig nie, maar ook ons ouditeure. Naomi bevind haar in dieselfde bootjie as ek – ons kan ingevolge ons grondwet/reglement nie nog ’n jaar in dieselfde poste dien nie.
Ek sal graag aanstons vra dat ons besin oor hierdie aspek van ons grondwet. Ek voel self dat dit tyd vir my geword het om die leisels oor te dra aan iemand wat jonger is en nader aan die groot vure staan. Ek glo egter nie dis moontlik om Naomi se kundigheid met die finansiële werking van PEN Afrikaans onmiddellik te vervang nie. Laat ons asseblief ’n voorstel wat in 2014 in Potchefstroom gemaak is, naamlik dat bestuurslede net twee termyne van twee jaar in ’n pos mag dien, heroorweeg en verander.
Wat Danie Marais betref, sal ek nie gou vergeet hoeveel geesdrif en nuwe idees hy ingevoer het toe ons hom in 2015 aangestel het as PEN Afrikaans se eerste bestuurder nie. Selfs nie eens die amptenary van SARS en die immer swygende burokrate van die Departement van Sosiale Ontwikkeling kon sy vlam blus nie. Hy maak maandeliks ’n indruk op alle lede van PEN Afrikaans se lewens met sy nuusbrief, en die register van nuwe publikasies en resensies is ’n onmisbare element van die Afrikaanse literêre bouwerk.
Danie het hom onlangs in ’n posisie bevind waar hy onverwags twee aanbiedinge van elders tegelyk ontvang het. Hy het uiteindelik besluit om te bedank as bestuurder van PEN Afrikaans en gehoor te gee aan die noodkrete van kykNET en die Universiteit Stellenbosch se Woordfees. Oktobermaand is sy laaste maand by PEN Afrikaans. Ek wil hom graag alles van die beste toewens op sy verdere handel en wandel, en terselfdertyd die hoop uitspreek dat hy bereid sal wees om hom beskikbaar te stel om in die bestuur van PEN Afrikaans te dien. Dit was ’n groot plesier om met hom te kon saamwerk en gereeld tot nadenke gestem te word oor sake rakende die literêre bestel, omdat Danie gesorg het dat daardie dinge sake van belang word.
Danie doen afsonderlik verslag oor sy aktiwiteite. Van my kant af, en natuurlik namens ons vereniging en sy lede, diepe dank aan Danie vir sy harde en deeglike arbeid, en veral vir die manier waarop hy soveel meer ure opgeoffer het as waarvoor sy soldy voorsiening gemaak het.
Marga Stoffer, ons ondervoorsitter, was op haar beurt ten nouste betrokke by die twee groot note op PEN Afrikaans se orrel vanjaar. Die een is die totstandkoming van ons Vertaalfonds, en die ander is die verwikkelinge rondom ons regering se voorgestelde kopiereghervorming.
Ons gaan later spesifiek oor die Vertaalfonds en die kopieregaangeleentheid gesels. Ek wil egter nou uit die voorsitterstoel die belangrikheid van albei sake vir Afrikaanse skrywers beklemtoon.
Afrikaanse literêre werk het in die verlede nooit dieselfde voordele geniet wat byvoorbeeld die Nederlandse vertaalfonds aan Nederlandse skrywers gebied het nie. Dit was baie moeilik om vertaalregte in literêre werke verkoop te kry, omdat vertaalkostes in die meeste gevalle enorme probleme veroorsaak het vir die kopers.
Die fonds wat PEN Afrikaans op die been kon bring danksy ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, sal sorg dat daardie struikelblok uit die weg geruim word. Ek laat dit aan Marga oor om later vir u die fynere besonderhede te beskryf.
Wat die kopieregwetgewing betref, staan die Suid-Afrikaanse uitgewersvereniging, PASA, aan die voorpunt van die bevegting daarvan. Marga Stoffer is uit hoofde van haar amp ten nouste betrokke daarby, iets wat sterk tot die voordeel van PEN Afrikaans en sy lede strek. Sy sal eweneens later meer daaroor vertel.
Ek wil langs hierdie weg ’n beroep op alle Afrikaanse skrywers doen om waar hulle ook al kan, hul stemme daarteen uit te bring. Dit is iets wat elke skrywer raak – en wat die bedreiging inhou om u van inkomste uit u skeppende werk te vervreem. Laat ons duidelik en luidkeels daarteen protesteer, voor dit te laat is.
Ek het my voorgeneem om nie hierdie voorsittersverslag een van noodkreet en doemgeestigheid te maak nie. Die kwynende posisie van Afrikaans aan universiteite en skole gee mens genoeg rede om in sak en as te wil gaan sit. Maar daar is vir my rede om baie optimisties te wees.
Om mee te begin, wil ek net PEN Afrikaans se gelukwensinge oordra aan almal wat sedert die begin van die jaar bekroon is vir publikasies wat in 2015 verskyn het. Hulle is:
- Antjie Krog – Hertzogprys vir Mede-wete
- Lien Botha – Eugène Marais-prys vir Wonderboom (2015)
- Amy Jephta – Eugène Marais-prys vir Kristalvlakte (2016)
- Bibi Slippers – Eugène Marais-prys vir Fotostaatmasjien (2016)
- Daniel Hugo – Suid-Afrikaanse Akademieprys vir vertaalde werk vir Oorlog en terpentyn.
- Carel van der Merwe – LW Hiemstra-prys Niefiksie vir Donker stroom.
En dan is daar, buite die bestek van die Suid-Afrikaanse Akademie:
Media24-pryse
- Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse digkuns – Fotostaatmasjien (Tafelberg) deur Bibi Slippers
- MER-prys vir die beste geïllustreerde kinderboek – Ink (Tafelberg) deur Ingrid Mennen en geïllustreer deur Irene Berg
- WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie – 1795 (Tafelberg) deur Dan Sleigh.
ATKV-Woordveertjies
- Die Prys vir Poësie is vanjaar aan Bibi Slippers vir Fotostaatmasjien (Tafelberg) toegeken.
- Rosita Oberholster het die Prys vir Romanses vir Troue in ’n towerbos (Romanza) ontvang.
- Die Woordveertjie vir Beste Liefdesroman is aan Chanette Paul vir Offerande (LAPA Uitgewers) oorhandig.
- Die Woordveertjie vir die Beste Niefiksieboek in Afrikaans is vanjaar die eerste keer toegeken. Dit is oorhandig aan
- Elsabé Brits vir Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, uitgegee deur Tafelberg.
- Christo Davids het die Prys vir Dramateks vir My seuns ontvang.
- Die Woordveertjie vir Spanningslektuur is toegeken aan Karin Brynard vir Tuisland (Penguin Random House SA).
- Die ATKV-Prosaprys is deur Deidre Le Hanie, besturende direkteur van die ATKV, oorhandig aan Dan Sleigh vir 1795, uitgegee deur Tafelberg.
- In die voorleeskategorie: graad RR tot graad 1 – Jaco Jacobs en illustreerder Karen Lilje vir LAPA Uitgewers se Grom!
- Selfleeskategorie: graad 2 tot graad 3 – Jaco Jacobs en illustreerder Zinelda McDonald vir LAPA Uitgewers se Viskos.
- Selfleeskategorie: graad 4 tot graad 5 – Fanie Viljoen en illustreerder Elsbeth Eksteen vir LAPA Uitgewers se Oepse daisy, Lulu.
- Selfleeskategorie: graad 6 tot graad 7 – Elizabeth Wasserman vir Elf dae in Parys, uitgegee deur Tafelberg.
- Selfleeskategorie, graad 8 tot graad 10 – Cecilia Steyn vir Tienerharte 3: Hartedief, uitgegee deur Human & Rousseau.
Die wenner van die 2017-UJ-debuutprys is Bibi Slippers vir Fotostaatmasjien.
Die wenner van die 2017-UJ-prys is John Miles vir sy agtste roman, Op ’n dag ’n hond.
Die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2017 is pas bekend gemaak. Dit is Hilda Smits met haar digbundel die bome reusagtig soos ons was.
As ek terugdink aan alles wat in Afrikaans gepubliseer is sedert ons destyds in Stellenbosch tot stand gekom het, is daar genoeg rede om baie trots te wees. Mens hoef net te gaan kyk na die bekroningslyste van die afgelope drie jaar om diep onder die indruk te kom van die reikwydte en inherente spierkrag van die Afrikaanse taallewe. Die bekroonde boeke is net die ore van die seekoei. Dit word gerugsteun deur uiteenlopende genres in boekvorm; koerantsirkulasies het in die algemeen gedaal, maar op die internet is ’n groeipunt gevind wat in die jare wat kom in belang gaan toeneem. Afrikaans het op universiteitsvlak ’n hou in die maag gekry, maar ek wonder altyd hoe lank die moderne mens die luukse van ’n kampuslewe gaan kan bekostig – is universiteite en die internet nie dié bondgenootskap van die toekoms nie? Dit het reeds begin ...
Nietemin, Afrikaans bly ’n taal in wording. En waar daar wording is, is daar hoop. Van ’n ontluikende letterkunde in Kaaps tot die internasionale saamgesels van Buys en die geweldige nuutheid van Die wêreld van Charlie Oeng; van die spreektaal wat mens daagliks op RSG hoor tot die akademiese dans op die boekeblaaie van Afrikaanse koerante. En ons bondgenoot, LitNet, het van krag tot krag gegaan.
Ons taal mag onder beleg wees, maar daarin lê ons hoop. ’n Taal kwyn wanneer dit gestol het. Afrikaans se grafskrif sal geskryf kan word eers wanneer dit nie meer gepraat en gelees word nie. Het u opgemerk hoe ’n bloeityd die Afrikaanse prosa en digkuns tans beleef? Die dood kan mos nie in die pot wees nie!
Ter afsluiting wil ek in twee rigtings groot dankbaarheid uitspreek. Vir eers aan die Dagbreek-Trust, die Voorsittersfonds van Naspers, en Het Jan Marais-Fonds, wat die afgelope drie jaar verskeie kere vir ons in die bres getree het. Sonder julle sou ons nie vandag ’n aktiewe vereniging met internasionale aansien gewees het nie.
Ek wil ten tweede dankie sê aan die bestuur waarmee ek vanjaar kon saamwerk, en aan ons lede, wat my die kans gegee het om sake vanuit hierdie unieke posisie gade te slaan. Mag my opvolger dit ewe verrykend vind, en wanneer die oomblikke van wanhoop kom (en glo my, hulle sal), onthou net altyd dat PEN Afrikaans oor Afrikaanse skrywers, joernaliste en mediapersone gaan. Dis ’n groot gemeente, en op ’n heel eienaardige manier gee hul steun mens die moed om te doen wat gedoen moet word.
Lank lewe PEN Afrikaans!
Kerneels Breytenbach