Die elektroniese duo Van Pletzen, bestaande uit Peach van Pletzen en Nik Nax, se jongste treffervideo het soos ’n veldbrand oor die internet versprei. Peach beantwoord 'n paar vrae.
Goeiedag, Peach. Kan jy ons vertel hoe dit met jou gaan, sonder om die woord “legeh” te gebruik? Indien nie, is dit ook legeh.
Hi Henry! Ek is baie lief vir die lewe en ek voel dankbaar om op die planeet te kan wees, en ek geniet dit, so alles gaan baie goed, al voel ek somtyds hartseer.
Moerse geluk met die sukses van Van Pletzen tot dusver. Ek sien byvoorbeeld die video vir “Awaken the Legehness” het in minder as 'n maand 100 000 kykslae op YouTube behaal. Die treffers “Zaberfluten” en “Die beat’s amazing” het ook al maklik daai mylpaal oortref. Van Pletzen het 'n unieke aanslag, iets wat jy nie sommer met iets anders sal verwar nie. Hoe het jy en jou spanmaat Nax hierdie aanslag aanmekaargesit? (Volgens die “About” section op Facebook was daar bier betrokke.) Hoe het dit verander vanaf die vroeë treffers soos “Beurtkrag” en “Eiland styl”? En: hoekom dink jy is dit so suksesvol?
Baie dankie! Om vir meer as 100k mense die woord “zaab” te leer is vir ons ’n groot eer en hoogtepunt! Dit was vir my eers moeilik om in Afrikaans te skryf. Dit het gevoel asof ek ’n ander stem moes aansit as ek iets in Afrikaans wil skryf. Eendag na ’n lang dag in studio sit ek en Nax en gesels en wonder of ons dalk ’n zaab moet swaai, en toe val dit my by … Wat as mens ’n song oor zaab skryf, net soos mens met jou vriende sou chat? Geen crazy diep lirieke of mal poetry vibes nie, net praat asof die luisteraar jou beste vriend is. Toe kyk ek vir Nax en sê: “Swaai my daai zaab” en toe word daai deur oopgeswaai en “Zaberfluten” is gebore. “Eiland styl” gaan oor hoe dit rêrig sou wees as ’n couple vakansie hou op ’n tropiese eiland. Kaal hardloop op die strand, space cakes, liefde, dans en partytjie, visbraai … klink soos ’n vibe. “Beurtkrag” is in 2015 geskryf saam met Bouwer Bosch vir ’n movie met dieselfde titel, byna twee jaar voor “Zaberfluten” en “Eiland styl”.
Die feit dat “Awaken the legehness” 100 000 views in onder ’n maand gekry het, is vir ons moerse, en wys dat die legehness bestaan en dat mense dit voel en verstaan.
Daar is heelwat musiekskrywers wat na julle as ’n satiriese groep verwys. Kyk, ek wil nie aannames maak nie – dit is heeltemal moontlik dat dit nié satiries is nie. Maar indien julle wel grootliks die gek skeer met julleself en andere ... Hoe moeilik of hoe maklik is dit om inspirasie te vind vir nuwe liedere? Hoe hou ‘n mens die grappigheid vars? Is daar vir jou ’n grens wat Van Pletzen nie sal oorsteek nie in terme van waarmee daar nié gespot moet word nie? Of, in dieselfde asem, mense of dinge wat jy brand om volgende aan te vat?
Ons maak beslis gebruik van satire, maar ons is nie bloot net ’n satiriese groep nie. Ons is ernstig oor die legehness en oor wat ons doen en die quality van ons werk en produksie. Satire is wel ’n baie useful tool om te gebruik. Veral in ’n tyd waar almal se opinies so luid is en social media alles onder ’n vergrootglas sit, selfs dinge wat nie eers feitelik waar of rêrig belangrik is nie. Mense neem hulself veels te ernstig op en dis een van ons doelstellings – om dit af te breek en om ’n escape vanaf dit te bied, eerder as om deel te neem daaraan. As jy jouself nie te ernstig opneem nie en vir jouself kan lag, stel jy jouself vry van jou eie ego.
Inspirasie kom via so baie kanale, en gereeld wanneer mens dit glad nie verwag nie – jy moet net jou oë, ore en gedagtes oophou en luister – dis orals en mens kan dit ook maklik mis.
Daar is nuwe dinge en topics wat ons aanvat in die songs waaraan ons tans werk, soos onder andere taal en die meng van taal, drome, rasse, geld en grense. Daar is wel grense wat ons nooit sal oorsteek of ooit sal wil oorsteek nie.
Biggy het onlangs uit ‘n klomp oorde kritiek gekry oor die lirieke in die liedjie “Dames”. Voorbeeld: Melanie Verwoerd se rubriek op News24. Aan die een kant is dit ‘n draakstekerige liedjie. Aan die ander kant is dit supergewild, ook onder jong kinders wat dit moontlik as rolmodel-invloed beskou. Ek haal dit op, omdat Van Pletzen ook 'n handvol lirieke het wat ditself vir sulke kritiek oopmaak (ek dink byvoorbeeld aan 'n paar lines aan die begin van “Goud”: “Damn girl, jy’s so fine / Boudjies beter as dié bassline / Ek wil jou wine and dine / kom saam met my, I’ll make you shine.” So, die vraag is ... Wat is jou reaksie op dié soort kritiek? Wat is jou gevoel oor die kunstenaar, satiries of nie, se verantwoordelikheid (of gebrek daaraan) om 'n tydsgees, of eerder 'n spesifieke element van 'n tydsgees, in ag te neem wanneer daar geskep, opgeneem en uitgevoer word? Het jy 'n vrees dat dié soort lirieke negatiewe invloede kan hê (bewustelik of onbewustelik)?
Ek is bly om hierdie tipe vrae te kry. Eerstens is die liriek in “Goud” eintlik “Boudjies vetter as die bassline” en nie “beter” nie. Dis vir my ’n witty liriek en ek kan onthou dat ek gesmile het toe ek dit geskryf het. Ek het gehoop dit sal ander mense ook laat smile as hul dit hoor en ek het nooit gevoel asof ek een of ander grens oorskry nie.
Daar is steeds vele lirieke wat sekerlik gekritiseer kan word, veral as mens dit onder 'n vergrootglas sit en dit vergroot, en dis oukei. Ek glo dat kunstenaars ’n verantwoordelikheid het oor wat hulle sê en oor wat hul nie sê nie. Nes ons leiers en presidente ook daai verantwoordelikheid het, maar soos Jaco al geskryf het: “’n Nasie kry altyd leiers wat sy verdien.”
Ek persoonlik vind way meer offence in van die lirieke en musiekvideo’s in van ons mainstream Afrikaanse musiek, en ek dink Biggy se song word ook veral gekritiseer omdat die song so suksesvol is. Die song is kak catchy en die beat is supertight, en jongmense hou van dans en drink en saamsing en partytjie, en dis al so sedert Jack Parow en sedert The Beatles en dit gaan nie sommer verander nie.
Ek dink die dialoog en gesprek is belangrik, maar ek dink ook dis belangrik dat mense nie so PC raak dat hul screensavers aangaan nie. Dat mense se minds nie so oop raak dat hul breins uitval nie. Dink vir jouself ... as iets jou laat af voel, luister, en as jy ’n tune geniet en dit die rowwe vyfuur-verkeer verbeter, legeh!
O donner, jammer vir my swak ore met daai luisterslag! Terug by die “Awaken the legheness”-enkelsnit: Die lied en video is in samewerking met Early B gedoen. Dit is nie die eerste keer dat julle saamwerk nie – waar en hoe het hierdie verhouding ontstaan, en hoekom dink jy werk dit so goed dat julle keer op keer weer saamspan? Verder op die samewerkingsfront: Daar is ook ‘n versameling remixes vrygestel wat onder meer deur Haezer en Jan Bloukaas se hande is. Het die lede van Van Pletzen 'n bydraersrol gehad in dié remixes? Of hoe kry mens dit reg om jou waardevolle baba aan iemand anders oor te gee om iets totaal nuut te skep? Moet 'n mens dit goedkeur, of bloot die vertrouelinge mooi uitkies? Indien wel, hoe werk so 'n kiesproses?
Ons is mal oor Early B en om saam hom te werk en ons het goeie vriende geraak oor die laaste paar jaar. Hy is ’n supertalented dude en hy verstaan die legehness, in fact is hy is ’n master in die sacred art van legehness, so ons kliek net. Ons gaan weer op ’n paar songs saam met hom werk op die nuwe album en hopelik nog ‘n klomp shows ook saam doen. Early B is ’n great skrywer, rapper en entertainer en ek het al baie by hom geleer so tussen deur al die shows en saamwerk. Ek is ’n fan, as dit nog nie duidelik is nie.
Met die remixes het ons die producers free rein gegee om te doen net wat hulle wil, dis vir ons exciting om te hoor hoe iemand anders ons musiek en vibe interpreteer. Haezer is al ’n OG en ek vertrou al daai ouens en hul talente ten volle. Dis soos om jou baba na ’n cool oom toe te stuur. 🙂
Daar is 'n deurlopende teenwoordigheid van blaasinstrumente in Van Pletzen se musiek. Blokfluit, panfluit, saksofoon ... En dit is ook van die min nie-elektroniese elemente wat te bespeur is in Van Pletzen se oeuvre. Waar kom die liefde vir of fassinasie met dié instrumente vandaan? Dit lyk natuurlik wonderlik in 'n video wanneer dit as 'n bong ingespan word, maar ek vermoed daar is nog iets daaraan? Ook, het julle al verdere instrumentwerk (groot of bietjie-bietjie) in Van Pletzen se werk oorweeg, of watter horisonne in beat creation lê daar nog vir julle voor?
Ons het gehou van die tropical gevoel van fluite gemeng met die electronic bass sounds en beats, dit is ’n legeh en uplifting combo van sounds. Amper asof jy Mango Groove met club beats en dansmusiek meng. Dit gee jou iets organies en sinteties. Nogal baie soos die wêreld waarin ons tans bly.
Op die nuwe album beweeg ons in ’n ander rigting en bring 'n klomp nuwe klanke in waaroor ons kak amped is. Maar een ding is vir seker: die legehness is steeds sterk teenwoordig en kakgroot!
Dis interessant om te sien hoe Van Pletzen wissel tussen lang en kort vrystellings: Kak lekke vibe was 'n propperse album met 10 snitte, terwyl “Awaken the legehness” as single uitgereik is, en so ook “Goud”. Wat is vir jou die lekkerder manier om hiermee om te gaan, in die era van digitale musiek en streaming sites? Wat wen en verloor 'n mens met 'n albumgedrewe benadering, en een wat fokus op singles?
Ons is tegnies eintlik altyd besig met ’n album. Ek hou van albums, en ek voel dis steeds albums wat mens define as ’n artist in die long run. So “Awaken the legehness” is die eerste single van ons opkomende album wat in 2020 vrygestel gaan word. Dit gee die mense ’n klein kykie agter die gordyn terwyl ons nog besig is om te skryf en op te neem. Ons gaan nog ’n single vrystel dié jaar, en dan vroeg volgende jaar die volle album. So kry mens the best of both worlds.
<
Om aan te sluit by die vorige vraag: Dit is duidelik dat Van Pletzen fokus op video’s van 'n hoë gehalte wat produksie, storie en dies meer betref ... G’n wonder die video vir “Awaken the legehness” het so vinnig soveel kyke gekry nie. Waarom die kung fu-tema? En, hoe belangrik dink jy is musiekvideo’s in die algemeen nog, met MTV wat haas onherkenbaar geword het, en MK wat gesterf het (RIP), en die YouTube/Vimeo/Facebook-gehore wat soms moeilik plaasbaar is? Of is dit vir jou 'n geval dat die video en die musiek noodwendig hand aan hand gaan? Hoe moeilik is dit om daardie verhouding uit te werk, en uiteindelik uit te voer?
Musiekvideo’s is baie belangrik, en ons is mal daaroor om dit te skep. Ek sal vir maande aan ’n idee dink en dan is dit so great wanneer dit uiteindelik bymekaarkom.
Ek was mal oor kung fu-films toe ek ’n kind was, en wou nog altyd so iets maak, over the top en met daai groot tipe energie! Daar is die boelie en dan transform mens en maak die legehness wakker wat eintlik altyd binne jou was, en dan oorwin jy die boelie! Die boelie kan ook enigiets wees – iets wat jy in jouself oorwin of moet face, of ’n probleem.
Net omdat iets snaaks is, beteken dit nie daar is nie waarde of wysheid in dit nie.
Bruce Lee het my vele dae in die laerskool gered en my klein wêreld oopgemaak vir nuwe idees en moontlikhede. Die legehness kan kak diep gaan!
Peach van Pletzen het 'n lang en kleurvolle loopbaan in die musiekbedryf tot dusver. Ek self het jou al (gereeld) as lid van Bittereinder sien optree, en as die trommeester by 'n volledige orkesvertoning in die Kaapse stadsaal ... en dit is net 'n druppel in die emmer. Wat staan vir jou tot dusver uit as hoogtepunte? Watter samewerkings, gigs of verkenningstogte sal jou altyd bybly? Watter hiervan sal jy eerder wil vergeet?
Ek sal nooit enigiets wil vergeet nie, selfs die goed wat moeilik en challenging was op daai oomblik, want alle ervarings speel sy rol en mens moet uit dit leer. Die play 2-21 en die Oorlog Frankenstein-era saam met Francois van Coke was ’n vreemde tyd in ons albei se lewens, maar ons het baie gebond oor daai tyd en sommer ook ’n album saam gemaak (Skop, skiet en donner), en as ek terugdink aan dit, of die musiek hoor, neem dit my terug, en ek is ek dankbaar vir daai tyd en ervarings.
Ek sit tans in Amsterdam en toer hier rond vir ’n maand as ’n drommer vir Joe Clark en speel elke aand in ’n ander stad en dis rêrig fantasties dat musiek dit kan doen.
My highlights is: Lowlands Festival in Nederland saam met Bittereinder; om te perform by Paradiso en Melkweg in Amsterdam; om 'n drie uur lange show te doen by die GelreDome in Arnhem voor 35 000 mense met Joe Clark; al die toere en shows saam met Tumi Molekane (Stogie-T) en om van sy/my eie musiek op te voer met die Kaapse Filharmoniese Orkes in die Kaapse stadsaal.
Tien jaar saam met Bittereinder. Desember-toer as drommer vir Heuwels Fantasties en Van Coke Kartel, kak rof maar kak lekker! Toe ek en Laudo die toerbus se seat gerook het. Pole getoer en ook helfte van die tyd bestuur het, want ons driver was dronk – dink hy was besig om te skei, nooit die storie ten volle gevang nie. Argentinië getoer met my soloprojek van daai tyd, Yesterday’s pupil, en ook as drommer opgetree vir Van Coke Kartel asook Oorlog Frankenstein.
Die joint wat ek saam met Shaggy gerook het by Sun City. Die swakste SAMA award speech in die history van die SAMAs. Die opening ceremony van die 2010 Soccer World Cup wat ek en Tumi saam gedoen het.
Hierdie lys begin lank raak, maar elke keer as ’n memory in my kop pop, is ek soos “ja, dis beslis een!” Die laat aande, lang gesprekke, tyd op die pad, band-fights, crowds wat saamsing, mense wat sê die musiek beteken vir hulle iets, my lucky pick wat ek verloor het en toe weer gevind het in Klein Libertas. Hotbox, Oppikoppi, daar is te veel ... en ek is lief vir al die memories, en ek is baie dankbaar, en sommer nou effens nostalgies.
Wat is volgende vir Van Pletzen, in so verre julle dit kan beheer?
Nog ’n single die jaar, ’n album vroeg 2020, nog musievideo’s en shows en ook ’n mission Zaabland toe (Amsterdam).
Wat is humor?
Dis verlore op baie, maar mens moet dit nooit verloor nie. Dit is jou vriend, die een wat jou help as jy ’n ander perspektief nodig het, dis medisyne, dis subjektief, dis subtle en in your face. Dis universeel en dis gesond. Lag elke dag, lag hard en in die publiek, laat mense dit hoor, hopelik lag hulle saam, want ons het dit nodig.