Peach van Pletzen oor Bittereinder se Die Dinkdansmasjien

  • 0

Die rock/hip-hop-groep Bittereinder het pas hul nuwe album, Die Dinkdansmasjien, vrygestel. Peach van Pletzen van dié groep deel sy gedagtes oor die nuwe album.

Goeiedag, Peach. Hoe's dinge?

Hi Henry, dinge gaan goed dankie. Ek moet bieg ek is gereed vir die jaar om te eindig en ’n vakansie te vat!

Geluk met die vrystelling van Bittereinder se tweede album, Die Dinkdansmasjien. Hoe lyk die reaksie op die nuwe tunes tot dusver? Hoe het dit gegaan by die bekendstelling in Arcade Empire?

Ek het tot dusver nog niks negatief oor die album gehoor nie, wat rêrig lekker is! Die launch het ook baie goed gegaan en die reaksie op die album is positief.

Hulle sê ’n band se tweede of “sophomore”-album kan die moeilikste een wees, veral as die eerste album groot aftrek gekry het (soos die geval is met Bittereinder). Stem jy saam hiermee? Was dit vir julle ’n uitdaging om van voor af te begin skryf en konseptualiseer aan ’n nuwe album?

Dit is heeltemal waar! Die album was moeilik om te maak. Ons eerste fout was om dit oor ’n lang tydperk te doen – ek sal nooit weer so lank vat met een projek nie, of dit oor so ’n lang tyd uitstrek nie. Ek is moer bly ons tweede album is uit die pad uit!

Op watter elemente van die eerste album wou julle graag voortbou? Was daar enigiets wat julle na aanleiding van die eerste album gedink het was nie suksesvol genoeg om verder te verken op die nuwe album nie?

Ek dink nie ons het rêrig so daaraan gedink nie. Van die begin af het ons geweet die album gaan gedeeltelik dink en gedeeltelik dans wees. Ek dink die feit dat ons Die Dinkdansmasjien-idee van die begin af in ons agterkoppe gehad het, het baie gehelp!  Ons het glad nie probeer aangaan waar die eerste album opgehou het nie.

In watter mate verskil die nuwe album van die eerste in terme van temas – beide wat die lirieke en die musiek betref?

Ek sou sê die musiek is effens donkerder en soms veel harder as op die eerste album.  Ek vind die lirieke ook soms meer donker, maar steeds vol hoop. ’n Song soos “Regtreeks” sou ons nooit kon gedoen het op ons eerste album nie – ons was nog nie gereed vir so iets nie; dit is iets heeltemal uniek aan die nuwe album.

In die wandelgange word genoem dat Jaco eksklusief vir die lirieke verantwoordelik is en dat jy en Louis eiehandig die musiekproduksie behartig. Is dit die geval? Indien wel – askies vir die ooglopende vraag – hoe werk die proses waartydens die musiekvervaardigers en liriekskrywer saam konseptualiseer aan ’n song? Wat, as't ware, kom eerste – die hoender of die eier?

Dit is meestal die geval – Jaco is verantwoordelik vir die lirieke, alhoewel hy ook somtyds bydra tot die musiek.  Soms skryf hy lirieke en ons maak ’n klomp beats en dan besluit hy watter lirieke by watter beat pas. Soms gee ons vir hom beats en dan skryf hy oor dit. As alles saam is, dan “modify” ek die beats/musiek om die lirieke beter te ondersteun. So die eier het eerste gekom, maar uit ’n hoender uit.

Verskeie “collaborations” verskyn op Die Dinkdansmasjien – onder meer maak Chris Chameleon, Toast Coetzer, Mavis Vermaak, die Nederlander Tim Beumers, Hemelbesem en Hunter Kennedy hul opwagting. Hoe het julle besluit watter kunstenaars julle graag wil nader en hoe het die “briefs” gewerk wat julle aan hulle gegee het?

Jaco het meeste van die “collabs” gekies, alhoewel ons al drie vir ’n tyd lank al graag iets saam met Chris Chameleon wou doen. Dit was great toe hy ingestem het om op “Kulkuns” te sing.  Die “brief” verskil maar van song tot song, maar ek weet die “brief” vir “Kulkuns” was twee ouens wat ’n meisie probeer impress met hulle glorieryke leuens!


Louis Minnaar, Jaco van der Merwe en Peach van Pletzen
Foto: Louis Minnaar en Ruan van Jaarsveldt

In jul persvrystelling verskyn verskeie aanhalings van joernaliste oor die eerste album. "Bittereinder is die grootste ding wat Afrikaans in maande getref het ..." sê Annie Klopper. "Bittereinder is die beste ding wat die afgelope jaar met plaaslike musiek gebeur het," sê Chutney de Ridder. Met sulke lofsange wat gepleeg is oor die eerste album, het julle enige druk ervaar om ’n stap voor die res van die bedryf te bly? Beskou julle julself as pioniers in hierdie opsig, en hoe dink jy word dit weerspieël op die nuwe album?

Nee wat, ons probeer nie regtig om voor die res van die bedryf te bly nie; ons wil net oorspronklike en tydlose musiek maak, musiek wat soveel oor ’n dekade sal beteken as wat dit vandag beteken. Ons volg nie enige van die “trends” van hedendaagse musiek nie. In my boek is oorspronklikheid koning, en om te glo in wat mens doen, en ek weet dat ons al drie glo in wat ons doen. Of dit ons pioniers maak, weet ek nie – miskien oor so tien jaar sal ons pioniers wees.

Dit is bekend dat julle al drie julself besig hou met jul eie projekte en loopbane. Laat dit enige ruimte vir toer, musiekvideo's vervaardig (vir Bittereinder) en verder werk aan nuwe liedjies en projekte vir die band? Hoe dink jy sal hierdie balans in die toekoms gehandhaaf word?

Bittereinder is werklik die saamspan van drie individue – dis een van die goed wat dit laat werk. Dis juis vir ons lekker om as drie vriende saam te kom en aan iets te werk.  Dit is gereeld baie moeilik om tyd te maak vir toere en om saam aan nuwe liedjies te werk, so ons werk dikwels apart en kom dan saam as al drie van ons iets het om na die tafel te bring. Ek dink dis tog beter dié manier, want as ons drie dit voltyds sou doen, sou ons mekaar moer.


Foto: Louis Minnaar en Ruan van Jaarsveldt

Het jy en die ander lede van die groep enige gunsteling-snitte op die album? Wat is op die oomblik die lekkerste om “live” uit te voer en na watter sien jy voor ’n show die meeste uit om van die verhoog af uit te basuin?

Tans is van my gunsteling-snitte “Jakkals trou”, “Kulkuns” en “Regstreeks”. Die lekkerstes om live uit te basuin is verseker “Kwaad Naas”, “Die dinkdansmasjien” en “Jakkals trou”. Dit wil voorkom die gehoor geniet “Kwaad Naas” en “Die Dinkdansmasjien” ook die meeste!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top