Tien voor een
Adele Vorster
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485313328
Dis die verhaal van ’n veertigjarige vrou se bestekopname van haar lewe. Sy is sieklik vetsugtig, en kos speel ’n baie belangrike rol. Dis in die vorm van dagboekinskrywings, SMS’e en e-posse.
Dit bied ’n kykie in die psige van ’n eetverslaafde; iets waarmee baie lesers sal kan identifiseer. Dis ook ’n liefdesverhaal (wat in die verlede afspeel) in SMS’e en e-posse. Derdens volg die leser die broodkrummels na die jeugtrauma wat haar gedefinieer het.
Dié is ’n roman wat jou verbeelding beetpak en nie maklik laat gaan nie. Omdat dit in kleinerige brokke aangebied word, omdat dit soveel donker humor bevat en ontdaan is van selfbejammering, omdat die taal so lewendig is, is dit toeganklik sowel as … wel, gewigtig.