Titel: Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen
Skrywer: Carel van der Merwe
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485310563
Ben Viljoen (1868-1917) was ’n prominente jonger generaal in die Anglo-Boereoorlog, maar ná die oorlog is hy nie opgeneem in die nuwe politieke elite van die Afrikaners nie. Nadat hy die eed van getrouheid op St. Helena onderteken het, het hy nooit weer permanent na Suid-Afrika teruggekeer nie.
Carel van der Merwe het besluit om Viljoen se spore te volg na Brittanje, Nederland, Mexiko en Amerika en te gaan uitvind hoe dit gebeur het dat dié Boereoorloggeneraal burgerskap van vier verskillende lande gehad het, die ster was van ’n Boereoorlogskouspel, aan ’n Mexikaanse revolusie deelgeneem het, as vredeskommissaris tussen die Yaqui-Indiane opgetree het en voor sy dood op die punt was om ’n film in Hollywood te vervaardig.
’n Prentjie van ’n komplekse persoonlikheid kom na vore wat herinner aan ’n deel van die huidige generasie Afrikaners – minder godvresend, gemaklik in verskillende kulture, en bereid om te emigreer wanneer hulle dink dit tot hul voordeel is.
“’n Pakkende werk oor die wel en wee van die enigmatiese Ben Viljoen. Van der Merwe het geen steen onaangeroer gelaat nie en diepgaande navorsing hier te lande en in die buiteland gedoen.” – Albert Grundlingh
“Van der Merwe het merkwaardige nuwe perspektiewe oor Ben Viljoen na vore gebring. ’n Fassinerende komplekse karakter kom uit die verf.” – Frans Johan Pretorius


Kommentaar
Ek sien uit hierna, ek het reeds J. W. Meijer se boek oor Generaal Ben Viljoen gelees, en kan nie wag om te sien wat Mnr v/d Merwe oor hierdie merkwaardige mens te sê het nie!