Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord
Hennie van Deventer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978177612863
Uit polemieke, petaljes, rusies en romanses, herries en hofsake, en wat nog put gesoute koerantman Hennie van Deventer ’n ryk oes vir sy boeiende boek oor koerante en die nuus wat hul lewensbloed is.
Die veteraan van die perswese staan bekend as ’n gebore en geesdriftige nuusmens. Hierdie is sy sewende boek met ’n binneblik op die koerantwêreld. In ’n onderhoudende keuse van stories met ongewone kinkels roer hy allerlei omstredenhede aan: Charlize Theron se “net 44 wat nog Afrikaans praat”, Amanda Gouws se verweer vir vroue wat vloek, Ton Vosloo se ontdekking van “’n ander SuidSuid-Afrika”, die slagspreuk “Kill the Boer” …
Sy temas is talryk. Hy ryg die staaltjies en anekdotes in en verklap geheimpies uit redakteurskantore en raadsale. Wie humor soek, sal heelwat daarvan kry – ook heelwat politiek of lig op persoonlikhede: nie net huishoudelike name in die media nie, maar groot letterkunde-geeste soos die korrelkop Langenhoven, NP Van Wyk Louw en Opperman, politici soos Verwoerd en Vorster, skoonhede soos prinses Diana en Anneline Kriel en, les bes, selfs ontkleedanseres Glenda Kemp.

