Pasverskyn: Drol innie drinkwater deur Churchil Naudé

  • 0

Titel: Drol innie drinkwater
Skrywer: Churchil Naudé
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518853

Met sy briljante albums Kroeskop vol geraas en Kroesifaaid het Churchil Naudé hom in die voorste linie van Suid‑Afrikaanse rap gevestig en nuwe, opwindende dimensies van Afrikaans ontgin. Partykeer is sy woorde soos die kartetse van masjiengewere, ander kere is dit weer balsem vir die siel teen ’n wêreld wat van sy trollie af geraak het. Hy vlek nie net ongeregtighede, blinde vooroordele, maatskaplike probleme en die stommiteite van die mensdom vlymskerp oop nie, maar dring ook deur tot diep in die hart van gewone mense se swaarkry en drome. Die stories bly by ’n mens spook lank nadat jy dit gelees en gehoor het.

Churchil Naudé se woorde sny soos ’n lem deur die mees geharde harte. Hierdie unieke kunstenaar is nie net ’n rymkletser wat sy eie ego streel met ongekunstelde woorde nie, nee, hy is ‘n digter in eie reg. Sy vlymskerp sosiale kommentaar draai nie doekies om nie. Hy spreek die waarheid soos hy dit sien. Sonder verskoning, sonder aansien des persoons. Sy kommentaar is onpartydig, maak nie saak of dit wit-, swart- of bruinmense aanspreek nie. Almal word oor dieselfde kam geskeer en soos hyself tereg sê, hy is gemeng en sy voorouers is beide die stigters van apartheid, sowel as die slagoffers van apartheid. Hy sien homself eerder as ’n mens met ’n opinie as ’n mens met ’n sekere velkleur wat ’n opinie het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top