Pasverskyn: Die spore van Gert Saggiestrap deur Marco Botha

  • 0

Die spore van Gert Saggiestrap
Marco Botha

Uitgewer: Flyleaf
ISBN: 9781991202697

"Meesleurend en komies, ’n storie vir die 'oogdou'." – Eben Venter
"Die boek is ’n kragtoer deur ’n meester-storieverteller." – Coenie de Villiers

’n Naam is nie net ’n roepding nie. Dis ’n ding wat jóú roep. Só het oom Dahm vir Gert Saggiestrap terug lewe toe probeer bearbei. Toe reeds 14 jaar sy spoor byster in die oer-rivierlope van die ua pukiro in die Omaheke. Nes sy pa met die goeie hart en sy ma met die stukkende verlede was hy ’n Boesmankind van die Nuwe Tyd waarin inkommers om en oor die Boesmans kom grenspale slaan het.

Vir die ellende van hierdie gestroopte bestaan was Gert nie geoormerk nie. Maar toe kom Goeie Vrydag van sy 15de jaar. Die geeste van die dode het vir die eerste keer om hom kom draal. Dié lei hom terug op ’n donker pad wat met die spore van sy oudste voorsate langs loop: na wat dit beteken om ’n Boesman te wees met sand-ankers in jou herkoms en ’n hand op die hefbome van die toekoms.

Gert Saggiestrap loop soek sy hart, vat sy naam en vind daarin opgesluit sy groot gawe.

Die spore van Gert Saggiestrap is ’n greep uit die hedendaagse bestaan van ’n groepie Ju/'hoansi uit die Omahekestreek, ’n noordwestelike uithoek van die Namibiese Kalahari. Dit is ’n sensitiewe, outentieke verhaal vol pyn, ontheemdheid en vertwyfeling maar ook triomf en diepe blydskap en hoop.

"Marco Botha se boek is universeel en bied ’n uiters relevante blik op al die randeiers van ons samelewing." – Willemien le Roux, skrywer van Shadow bird en Voices of the San

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top