Pasverskyn: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

  • 1

Titel: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089216

Etienne van Heerden se aktuele, oorrompelende roman dokumenteer die onstuimige tyd waarin ons lewe, waar kwessies soos privaatheid en identiteit, fopnuus en feit en ras en etnisiteit die toere hoog opjaag en gewone Suid-Afrikaners laat wonder wat op hulle wag.

Lees ook 

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Kyk ook 

Video: Stellenbosch-bekendstelling van Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Ek het die volgende resensie (elders bekend as 'n lesersindruk) geskryf en op Goodreads aangebring. Ter wille van die behoud van Afrikaans het ek hier "'lewendige uitsending' van die nuus" na "regstreekse" uitsending verander.

    Biblioteek aan die Einde van die Wêreld / Die Boek van Openbaring deur Etienne van Heerden

    Die frase: ‘ek kon nie die boek neersit nie’ is nié van toepassing op Die Biblioteek aan die Einde van die Wêreld nie. Die boek weeg in op ’n 100 kilogram en my arms is ziemlich dun. Ek moes my buurman se bakkie leen en twee assistente het gehelp om dié swaargewig, vierkantig en vors, te laai. G’n object d’art nie, eerde ’n apropos, tamaai magnum opus. ’n Week lank het ons, ek en die boek, mekaar meedoënloos aangegluur: my bruin kykers opgestel teen die kreefsoë; skerp alsiende ogies op die omslag ‒ toe, onverwags een oggend, douvoordag, slaan ek toe. Met die oopvou was dit duidelik: hiérdie trein is klaar aan die beweeg, ek kan net inspring en laat rol katrol. (Sommige boeke is mos soos ’n ou bakkie wat eers aan die brand gestoot of ge-jumpstart moet word.) Dit was toe al die tyd nooit ’n trein nie, maar ’n VVV.

    Thuli Khumalo (nog kêskuiken, maar bohémien met ʼn ysere wil), Ian Brand (prokureur, met duiwels uit die Grensoorlog wat kort-kort aan sy hakke hap) en Jerome Maarman (die gekose ek-verteller, intrigant en slagoffer van bruin armoede) is ons drie geskakeerde protagoniste (drie, nié twee nie, met uiteenlopende vertelperspektief) en klap die sweep. Hierdie nagraadse studente aan die Universiteit Kaapstad skuur skouers met ’n ensemble van die vreemdste newekarakters denkbaar in die xenokrasie van hier, nou en in perpetuum. Raskwessies word onbewimpel aangedurf.

    Die verhaal skop af met ’n trigger warning: fopnuus, bisar, spektakelroman, pulpgeskiedenis! In ’n ondeurdagte oomblik stuur Ian Brand, wit middeljarige man, ’n onbesonne twiet die kuberruim binne wat moontlik suggereer Afrikane is inherent lui. Faux pas. Hierdie klippie in die dam rimpel tot tsoenami in en om sy kop en pas reg in die kraal van ambisieuse opportuniste met groter ideale. Deel van die dekor is Kaapstad, China, Boedapest en speel gebeure ongemaklik naby aan ’n regstreekse uitsending van die nuus af. Alarmisties. Die atmosfeer is dikwels morbied: ’n boeiende, broeiende gevoel van distopie en grysland. Misnoeg en misère. Jy raak deel hiervan, jy het ’n foon, ’n tablet, ’n rekenaar ... nie? Die plot is verweef soos nuwerwetse staalwol, behendig en sterk, die storie fassinerend. Die skrywer het gebalanseerd en dikwels doekvoet te werk gegaan met ’n boeiende verhaallyn. Kunstig. Sodanig só dat ek dié titel onder literatuur sal liasseer, die tipe met artistieke waarde en van blywende belang, al is daar die ondertone van ’n antroposentriese, geskiedkundige avontuurroman (dink James Bond). Stilisties is Van Heerden ’n maestro.

    ’n Aanhaling uit Shoshana Zuboff se The Age of Surveillance Capitalism: The Fight for a Human Future at the New Frontier of Power lui: “I recognized the oldest political questions: Home or exile? Lord or subject? Master or slave? These are eternal themes of knowledge, authority and power that can never be settled for all time. There is no end of history; each generation must assert its will and imagination as new threats require us to retry the case in every age.” Ek reken die leitmotief is “die self”, ingehok in ’n onvoorspelbare politieke wêreld van mag, sekuriteit vs. privaatheid en eindelik fatum. In hierdie weloorwoë voorspooksel maak die karakters (mense soos ek en jy) kennis met gierigheid, verraad, ratte wat voor die oë gedraai word, kouse oor die kop, drolle vir vye, fabelagtige falsitas. Jy word botspop, maar alles is nie net swart of wit nie en almal is broos. Wat van die titel? Dit moet die leser self bepaal.

    Ek was nie altyd diep ingetrek by die karakters se drama nie. Dit het my laat wonder of ’n Suid-Afrikaanse leser moontlik al emosioneel afgestomp geraak het vanweë die daaglikse aanslae in ons land. Soms was die skrywer se filosofiese inslag doodeenvoudig te sterk en kan Thuli en Ian plek-plek vergis word as dieselfde stem.

    Die boek is pakkend, lofwaardig en outentiek. My gonswoorde: vergesig, tydgees, landsake, wantroue, paramnesie in ’n labirint.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top